So skryf die TV-aanbieder en radio-omroeper Rian van Heerden, wat onlangs in die sosiale media laat weet het die coronavirussiekte is by sy ma, Rona van der Merwe, gediagnoseer. 

“Dit is maar ’n warboel van emosies om die minste te sê,” vertel Rian aan Huisgenoot oor die oomblik toe hy die nuus gekry het.

“My eerste gedagte was: ‘Wat nou?’ Ons dink ons weet iets van hierdie siekte, maar ons weet nie regtig nie,” sê hy.

“Jy kom agter jy is self paranoïes oor alles wat met die virus gepaardgaan. My ma is al 84 en sy het al ’n longkwaal gehad waarvoor sy in die waakheid van die hospitaal opgeëindig het,” sê hy.

Rian se ma het Dinsdag verlede week begin siek voel en is daardie Vrydag vir covid-19 getoets.

Rian het die dokter gevra dat sy eerder die resultate aan hom sal stuur sodat hy die nuus self aan sy ma kan oordra indien sy positief sou toets.

Rian van Heerden
Rian se ma, Rona van der Merwe. Foto: Facebook.

Ná die diagnose het Rona dadelik begin om die “wavrag” medisyne te gebruik wat pasiënte kry.

“In die brief wat sy saam met die medisyne gekry het, is die heel eerste stap dat ’n mens moet rustig raak. Dit is nogal ’n belangrike punt vir my,” vertel Rian.

Hoewel sy ma vir hom vanoggend vertel het dat sy beter voel, klink sy siek, vertel Rian. “Dit is nou maar letterlik ’n dag tot dag proses. Dit is daardie ou ideaal dat ons weet dit gaan beter gaan, net nie noodwendig nou nie,” sê hy.

Rona is op die oomblik in isolasie saam met Rian se stiefpa in die aftreeoord waar hulle bly en haar suurstofvlakke word drie keer per dag gemonitor.

“Sy is nou al sewe dae siek; so sy is eintlik nou by die piek van hierdie ding,” sê Rian.

“Sy is in goeie gees,” vertel hy.

Vir Rian bly dit vertroostend dat sy ma deur ’n goeie dokter behandel word en dat hy heeltyd met haar kan kommunikeer. “Solank die dokter positief is, is ek positief,” sê Rian.

Hy het vir sy ma verduidelik dat hulle na die siekte as ’n soort griepvirus moet kyk.

“Ek het vir haar gesê sy het al tevore griep gehad en sy is daardeur. Kom ons sien dit as ’n griepvirus, en dit werk nogal baie goed vir ons,” sê hy.

“Ons moet ongelukkig nou elkeen doen wat ons moet om die oorlog teen hierdie virus te wen. In die proses sal daar skade wees, verlies en vernietiging. Dit hoe oorlog werk,” skryf Rian op Facebook.

“Ons moet eenvoudig een voet voor die ander sit en aanhou vorentoe beweeg,” skryf hy.

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe