Dis sy bekende uitdagende glimlag wat jou met die intrapslag opval.

Ver weg van die televisiekameras en radiomikrofoon lyk Rian van Heerden (44) aanvanklik net so onpeilbaar soos die omstrede aanbieder wat onder die volk geliefd geraak het.

Vir sy talle rolle – as vlymskerp grapjas, uitgesproke skrywer en selfs kwaadstoker – het hy al applous én kritiek ontvang. Maar sy grootste rol nog is een waarna hy nooit geweet het hy smag nie.

Dis ’n verantwoordelikheid wêrelde verwyder van alles wat hy al voorheen aangepak het: dié van ’n pa. “Dis ’n rol wat ek nie gedink het ek ooit sal vertolk nie,” vertel Rian.

“Maar die lewe kies jou vir ’n sekere doel. En ek is op 43 jaar oud gekies om ’n pa te wees.” Rian was jare lank ’n tevrede en geswore alleenloper – tot hy vroeg verlede jaar vir Dylan Swanepoel (nou 21) ontmoet het.

Die jong man se gebrokenheid oor die verlies van sy ouers in 2015 het ’n sluimerende vaderskapsinstink in hom wakker gemaak, vertel hy nou. Dat Dylan ná twee jaar van rou steeds in ’n groef was, het Rian genoop om hom oor die jongeling te ontferm. 

Maar eindelik was dit nie net Dylan vir wie hierdie sonderlinge band betekenisvol sou wees nie, want toe die jong man hom op ’n dag “dad” begin noem, het Rian besef pa-wees is iets waarsonder hy nie meer sy lewe kan indink nie.

“Dylan is my kid,” sê Rian met ’n groot glimlag. “Pa-wees is die beste ding wat nog met my gebeur het.” En hy vervul dié rol uitstekend, meen Dylan waar die twee ons by The Maslow Hotel in Pretoria vir koffie ontmoet.

“Nou is dit ook aan my gegee: ’n pa wat in jou glo, ongeag wat...”

Toe Rian in Februarie verlede jaar ná ’n breukoperasie met ’n taxi by sy huis in Centurion aankom, het hy die eerste keer in sy lewe na ’n ander asem in die groot, leë huis gesmag.

Hy het gedink aan die jong man met wie sy pad weke vantevore by die opening van ’n restaurant in Pretoria gekruis het, die een wat hom die aand van hul ontmoeting vertel het hoe uitsigloos sy lewe is en gevra het om hom tog ’n luitjie te gee wanneer hy van ’n werkgeleentheid hoor. Toe tel Rian die foon op en bel.

“Ek het vir Dylan gesê hy moet tydelik in die spaarkamer woon terwyl hy my met alledaagse takies in en om die huis help. Dit was nie ’n permanente oplossing nie, maar ek kon weens die operasie nie veel uitrig nie – en Dylan was in ’n finansiële krisis.

“Boonop het ek ’n oorweldigende behoefte gehad om hom te help,” vertel Rian.

Eers huiwer hy, maar dan sê hy tog: “Dalk is dit die eerste keer dat ek besef het mense het ander mense nodig, veral in sulke situasies.”

Dylan het die vaderskapsinstink binne Rian kom wakker maak en ’n onlosmaaklike band het tussen die mans gevorm. Foto: Lubabalo Lesolle

Hy het in daardie stadium na elke strooihalm gegryp, sê Dylan, wat toe werkloos was en saam met sy ouer broer, Mark (23, ’n kennis van Rian wat hom aan Dylan voorgestel het), in ’n huurwoonstel in Pretoria gewoon het. Dié huurkontrak was op sy einde en Dylan sou binnekort haweloos wees.

Ná die verlies van Dylan se ouers, waaroor hy nie wil praat nie, het geleenthede opgedroog en was hy radeloos. Tot daardie oproep wat hy in Februarie verlede jaar van Rian ontvang het. Want sedert Dylan se intrek by Rian het ’n onlosmaaklike band tussen die mans gevorm.

‘Ek het besef ek geniet dit om vir iemand iets te beteken’

“Hy was van die begin af vir my soos ’n pa,” sê Dylan terwyl Rian aangedaan na die grond staar. Dan, in ’n poging om sy geharde beeld gestand te doen, gee Rian Dylan ’n ligte houtjie teen die boarm. “Ag, man . . . ou softie,” sê hy, en hulle lag.

Maar Dylan hou vol: “Ek het by hom meer lewenslesse geleer as wat ek my lewe lank by my ouers geleer het. Ek was in myself gekeer en het glad nie meer in myself geglo nie. Binne die eerste paar dae nadat ek by hom ingetrek het, het ek besef hoe gelukkig ek skielik voel.

“Ek kon dit eers nie peil nie, maar toe besef ek: Hy is vir my soos ’n pa. Hy het my in myself laat glo; hy wou hê ek moet ophou wegkruip van die wêreld. Sy invloed het my toegelaat om myself op te tel en weer iets van my lewe te maak.”

Toe Rian ná sy operasie weer op die been was, het Dylan as kelner by ’n Pretoriase restaurant begin werk, waar hy later bestuurder geword het. Nou werk hy by Rian se produksiemaatskappy, Provoco, in Centurion as produksieassistent.

Rian erken dit was ’n aanpassing om iemand in sy lewe toe te laat. “Ek was altyd erg oor persoonlike ruimte. Maar ek het besef ek geniet dit om vir iemand iets te beteken, om ’n voller huis te hê...”

“Ek het introspeksie oor my lewe begin doen. Ek het skielik ’n seun gehad; iets wat ek my nooit kon indink nie. Van die eerste dag dat ek hom leer ken het, wou ek hom alles leer wat ek oor die lewe geleer het.”

“Ek het begin wonder na wie alles gaan waaraan ek my lewe lank gebou het – en wat die doel van dit alles nou eintlik is.”

Vir ’n oomblik raak hy weer bewoë. “Ek glo Dyllie is aan my gestuur. Iemand moes hom op die regte pad help, en daardie iemand was ek. Jy kan nie daarvoor vra nie; dit verskyn net in jou lewe.”

Die idee was om Dylan van sy eie gebrokenheid te red, maar toe is die sonderlinge band ook vir Rian betekenisvol. Foto: Lubabalo Lesolle

Die keer toe Dylan tydens ’n kuier saam met vriende die platejoggie versoek om ’n sekere liedjie te speel, het Rian besef ’n leemte wat hy nooit geweet het bestaan nie, is nou gevul. Aangedaan vertel hy: “Snotkop se liedjie Song vir My Dad het deur die vertrek weergalm...”

Nes in enige ander pa-seun-verhouding moet hy soms stem dik maak wanneer sy spruit die pad byster raak, terg Rian.

“Die lekkerste is om met jou kind te stry,” sê hy laggend.

Dylan knik instemmend. “My dad hou daarvan om te debatteer. Ons baklei nie sommer nie, maar ons kry graag stry.”

Veral aan die begin moes Rian leer pa-wees beteken soms om ’n “losing battle” te laat vaar, veral wanneer ouma Rona van der Merwe (83), Rian se ma, haar kleinseun se kant kies. “Hy is ’n modelkind; almal dink so.”

Einde Augustus verlede jaar het Dylan die nes verlaat om nader aan sy werk as restaurantbestuurder te wees, maar ná sy aanstelling by Provoco het hy saam met ’n pel in ’n woonstel in Centurion ingetrek. En dis “terrible”, erken Rian.

“Ek het gedink dit sou lieflik wees om weer my eie ruimte terug te hê; te maak soos ek wil. Maar ek was skoon hartseer toe hy uittrek. Toe ek nou die dag op die bed in sy kamer gaan sit, het ek skielik besef: Hy gaan vir altyd my kind wees. Nou moet ek toesien hy is gelukkig in alles wat hy aanpak.”

Hy is opgewonde oor die nuwe lewensfase, vertel Dylan, maar besoek sy “dad” getrou elke naweek.

Oor een ding is hy seker: “My lewe sou nie dieselfde uitgewerk het as dit nie vir hom was nie.” En wanneer hy eendag met die vrou van sy drome trou, vertel hy laggend, gaan hy verseker Rian neem nóg ’n onbekende rol aan: dié van ’n oupa...