Sy is een van ons gewildste sangeresse, en haar albums is elke keer ’n wegholsukses. Maar nie so lank gelede nie was Riana Nel net ’n hoop­volle tiener met groot drome oor ’n blink loopbaan in die musiekbedryf.

Juis daarom weet sy hoe deelnemers aan die TV-werklikheidsreeks The Voice South Africa voel aan wie se talent sy as ’n nuwe afrigter in die derde seisoen gaan help slyp.

Riana (37) het self 19 jaar gelede danksy ’n soortgelyke kompetisie haar eerste treë op die pad na roem gegee.

“Ek het vir die ATKV-Crescendo-kompetisie ingeskryf,” vertel sy oor die des­tydse kompetisie vir opkomende Afrikaanse sangers en liedjieskrywers.

“Ek was 16 toe ek die eerste keer deelgeneem het.” Nadat sy drie jaar agtereenvolgens ingeskryf het, het Riana (toe 19) in 2000 met die louere weggestap.

Daarna het sy uit haar tuisstad, Windhoek in Namibië, na Pretoria getrek om vir haar ’n pad in die musiekbedryf oop te kap.

“Crescendo het vir my verskeie geleent­hede gegee: ’n albumkontrak, ’n musiek­toer saam met die gospelsanger Louis Brittz wat my op Pasella raak­gesien het, my eerste musiekvideo,” onthou sy.

“Ja, ’n mens kou harde bene, maar jy leer baie en bou verhoudings met musikante in die bedryf. Daarom is The Voice vir my so ’n goeie platform,” gesels sy in ’n koffiekroeg in Pretoria-Oos.

Sy is ’n Namibiese boorling sonder geite – iemand wat graag oor haar geloof en waardes praat, maar vandag gesels sy veral oor hoe geesdriftig sy oor die afrigting voel.

Riana en Francois op die bekende rooi stoele. Deelnemers lê ’n “blinde oudisie” af; dus kyk die afrigters nie na hulle wanneer hulle sing nie – hulle luister net na die stem. Foto: Verskaf

“Ek is nie skaam om te deel wat ek geleer het en in my loopbaan toepas nie,” sê sy, en haar groen oë blink.

“Ek is verstom oor die talent in die land,” vertel sy oor The Voice, waarvoor die sogenaamde “blinde oudisies” reeds opgeneem is.

Dit behels dat die vier afrig­ters met hul rug na die deelnemers sit en dan hul stoel omdraai wanneer een se sang hulle so beïndruk dat hulle hom of haar graag wil afrig.

“Jy draai om vir iemand wat jy dink soos Ruhan du Toit van Touch of Class moet lyk en dan is dit hierdie pragtige diva van soulmusiek. Of jy draai om, want jy dink dis ’n souldiva en dan is dit ’n jong outjie van Centurion. Mense hoor so dikwels met hul oë, en dis eintlik baie hartseer,” sê die aantreklike donkerkop.

Wat is die hoofboodskap wat sy aan die aspirantsangers wil oordra?

“Maak seker jy weet wie jy is. En ­begin nou al aan jou eie liedjies skryf sodat jy in jou eie skoene kan staan.”

Sy voeg by: “As jou hart op die regte plek is, en jy’s gewillig om te leer, kan jy die wêreld verower.”

Dit is presies wat Riana ­stil-stil reggekry het. Toe sy op 19 die kans kry om haar musiekdroom na te streef, was dit ’n “groot voorreg”, maar ook ’n “groot aanpassing”, vertel sy.

“Ek was my skoollewe lank in een laer­skool, een hoërskool, en ons het regdeur my grootwordjare in dieselfde huis in Windhoek gebly.

“Ons het nie eens ’n snelweg daar gehad nie. Ek onthou nog hoe ek met my Toyota Conquest, wat ek met my kompetisieprysgeld gekoop het, op die N1 van Pretoria na Johannesburg gery het om by my suster (die sangeres Nianell) te gaan kuier. Ek het so hard aan die stuurwiel geklou dat my kneukels skoon wit was.”

Binne drie jaar het sy drie gospel­albums uitgereik. Wanneer sy vandag aan die moeilike beginjare terugdink, was dit soos die titelsnit van haar eerste kommersiële album: Die Moeite Werd. Daarmee het Riana die musiektoneel in 2011 met mening getref toe dit dubbele platinumstatus bereik. Meer as 120 000 eenhede daarvan is verkoop.

Sy het al pryse ingeryg, soos twee Samas in 2015 vir haar tweede sekulêre album, Die Regte Tyd, as die topverkoper­album van die jaar en beste Afrikaanse popalbum.

Tog is die suksesvolle ­san­geres steeds net so gretig soos The Voice se deelnemers om meer te leer.

“Ek drink self elke woord in wat die ander afrigters sê,” vertel sy oor die ­rocker Francois van Coke, die rapper en albumvervaardiger Riky Rick en die sangeres Lira (sien kassie hierby).

Weg van die TV-kameras en die op­nameateljee is Riana die ma van twee seuns, Tristian (amper 3) en Sebastian (17 maande).

“Ek sal bedags tot so tweeuur werk dat dit bars en dan sal ek tyd saam met my seuns deurbring,” vertel sy van haar vol program.

“Ek is baie bevoorreg met twee ongelooflike vroue wat bedags in die huis en met my kinders help.”

Sy is ook dankbaar vir die steun van haar man, Cornel de Beer, ’n sagteware- ingenieur. “Ons is ’n goeie span. Hy onthou alles. Hy vergeet nie woorde soos wat soms met my gebeur nie.

Riana en haar man, Cornel de Beer, is al ses jaar getroud. Hy werk as ’n sagteware- ingenieur, maar onthou al die lirieke van haar liedjies, sê sy. Foto: Verskaf

“Ek onthou nog hoe ek met my eerste Afrikaans Is Groot-konsert ge­sukkel het met al die liedjies se woorde. Hy het langs die verhoog gestaan en die woorde saam gefluister om my te help.”

Is hul kinders musikaal soos hul ma?

“Sebastian is lief vir musiek. Ek dink ’n kitaar- of tromspeler skuil dalk in hom. Ek noem hom my Ed Sheeran,” vertel sy oor haar jongste wat haar met sy blou oë en rooi hare aan dié Britse sanger her­inner.

Tussen hom en sy ouboet, Tristian, is ’n hegte band. “Gister by ’n speelpark het hy Sebastian se hand gevat, en dit het gelyk of hy hom teen die wêreld wil beskerm,” vertel die trotse ma.

In elk van haar lewensfases, eers enkellopend, toe getroud en nou ’n ma, het haar musiek saam met haar gegroei.

View this post on Instagram

My hele lewe vir hierdie twee!

A post shared by RIANA NEL (@riananelofficial) on

“Met my volgende album probeer ek terugbeweeg na wie ek regtig is. Daar is meer rock ’n roll- en kitaarklanke,” sê sy oor Sterker, wat na verwagting in April uitgereik word.

Kyk Riana vandag op haar loopbaan terug, wens sy tog sy het ’n paar dinge daar aan die begin al geweet.

“Ek sou minder bang wou wees,” sê sy.

“Ek dink ek het soms ingetoë voorgekom omdat ek bekommerd was oor ’n op­trede. Ek sou meer aandag gegee het aan die plekke waar ek opgetree het. Ek sou gedoen het wat ek in my hart voel, soos om vir daardie tannie Marie op Standerton ’n bossie blomme te stuur sodat sy kan weet hoe lekker dit vir my was om daar te sing.

“En ek sou vroeër wou geleer het om minder om te gee oor wat mense van my dink. Ek is nog nie 100% daar nie, maar met die grootword raak dit beter.”

RIANA OOR DIE ANDER THE VOICE SA-AFRIGTERS 

Drie van die afrigters van die nuwe seisoen van The Voice South Africa is die rocker Francois van Coke, Riana en die sangeres Lira. Foto: Verskaf

  • “Francois is ’n sagte ou,” vertel sy oor Francois van Coke van Fokofpolisie­kar-­faam. “Ek bewonder die manier hoe hy verhoudings bou en behou. Hy speel al hoeveel jaar saam met dieselfde ouens, hulle pak nuwe projekte aan en almal speel steeds vir groot shows saam op dieselfde verhoog, en niemand is kwaai met mekaar nie.”
  • In die vorige seisoen van The Voice SA het Riana in ’n paar episodes die sangeres Lira as hulpafrigter bygestaan. “Lira is berekend, sy werk hard en wanneer sy weet wat sy wil uitrig, doen sy dit 100% reg. Sy is ook ’n ontsettend goeie bemoediger; sy wil hê almal moet skitter.”
  • Met die eerste oogopslag “kan ’n mens dalk dink Riky Rick is as rapper veronderstel om hardcore en ’n smooth talker te wees,” sê Riana. “Inteendeel, hy het eintlik so ’n sagte hart en is ook net ’n pa van twee kinders. Sommige van die deelnemers se stories het hom so diep geraak dat die trane gaan rol.

  • The Voice SA se derde seisoen word van 3 Februarie Sondae om 17:30 op M-Net (kanaal 101 op DStv) uitgesaai.