Riana Nel
Die sangeres Riana Nel en haar man, Cornel de Beer, het oor die naweek weer die ouers van ’n babaseun geword. En dis juis klein Reinhart, die egpaar se vierde seun, wat koekeloer in die agtergrond. Foto: Instagram/Riana Nel

Sy het nog altyd daarvan gedroom om die ma van vier seuns te wees, en nou is haar droom bewaarheid: Die sangeres Riana Nel het oor die naweek die lewe geskenk aan ’n babaseuntjie ’n kleinboet vir haar drie ander woelwaterseuns.

Riana het die nuus oor die naweek in die sosiale media met aanhangers gedeel. Gelukwensings vir haar en manlief Cornel de Beer het van oral oor ingestroom.

Die jongste toevoeging tot hul gesin heet Reinhart, het sy op Instagram geskryf. “Reinhart is gebore,” het Riana in die sosiale media laat hoor. “Dankie Jesus vir U goedheid.” 

Klein Reinhart was klaarblyklik só opgewonde om by sy boeties Tristan (5), Sebastian (3) en klein Estian (1) aan te sluit dat hy sowat twee weke vroeër as verwag sy opwagting gemaak het.

By ’n foto van ’n feestelike Sondagmaal skryf Riana: “Wanneer jou bure jou bederf met ’n ordentlike Sondagete, want jy het nie gedink jou baba kom vroeër nie.”

Riana het nie veel meer oor haar babaseuntjie verklap nie en het in dié stadium besluit om geen onderhoude toe te staan nie.

Die sangeres het tydens haar swangerskap baie van haar leersame lesse in die sosiale media met aanhangers gedeel. Sy het maar ’n week gelede toe sy net meer as 38 weke swanger was vertel hoe sy in elke seisoen “leer wag” het.

Haar lewe is perfek, het sy in April vanjaar in’ n Instagram-inskrywing vertel. Kyk sy nou terug na net meer as ’n dekade gelede, kon sy nie glo hoeveel in haar lewe verander het nie.

“Ek is mal daaroor om swanger te wees,” het sy toe geskryf.

“Elke deel. Veral waar my man en my kinders my magie soen en met die nuwe enetjie praat. Kyk, as jy my 10 jaar terug gevra het waar ek sou wees, sou ek seker baie negatief wees. Geen loopbaan, geen man, geen huis, geen rigting – en eintlik geen hoop nie. But all my life You have been faithful.”

In Februarie 2020, nog tydens haar swangerskap met Estian, het Riana aan Huisgenoot vertel van haar “droom” om die ma van vier seuntjies te wees.

“Ek het altyd ’n prentjie van vier seuns in my kop gehad,” het sy destyds nog vertel. “Ek het om die een of ander rede gedink dit sal lekker wees om deur soveel manne omring te word.”

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op FacebookTwitterInstagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe