Die Hardekole-sanger Ricus Nel en sy sangeresvrou, Liza Brönner, vier vanjaar hul eerste Paasfees saam met hul kleinding, Dawid. Hul nuwe rol as ouers het hul grootste verwagtings oortref, vertel die sangpaar. "Sy lag helder ons dag op en hy slaap baie goed, wat natuurlik 'n pluspunt is,” vertel Liza aan Huisgenoot. 

Die paartjie se eersteling, Jacobus Dawid Nel, wat hulle net op sy middelnaam, Dawid, noem, word op 22 April vyf maande oud. Die kleinman het hul lewe verander, en dit vir die beste, vertel hulle.

“Alles is net soveel beter. Dit kom nie sonder uitdagings nie, maar niks wat 'n mens nie kan hanteer nie. Dis ongelooflik hoe die Here ouerskap in jou ingebou het,” vertel sy. 

Liza deel gereeld oulike foto’s van klein Dawid in die sosiale media. En hy is glad nie skaam vir die kamera nie, vertel sy ma. "Hy verstaan nou al so 'n bietjie as mamma die kamera nader bring. Hy's 'n regte charmer wat foto’s betref,” vertel Liza. 

"Hy't nou so 'n nuwe ding wat hy doen. Hy gryp jou gesig vas en gesels kliphard,” vertel sy. "Lyk ook ewe of hy jou gesig wil nader trek vir soentjies."

Slaaptyd word klein Dawid met ‘n spesiale liedjie bederf wat deur Liza se ouma vir haar as kind gesing is. Sy glo ook daar is 'n spesiale band tussen 'n ma en haar seuntjie en sy sing al dieselfde liedjie vir hom van die dag wat sy uitgevind het sy is swanger. 

Ouerskap kom nie sonder lesse nie en die grootste les wat hulle tot dusver as ouers geleer het, is hoe om geduldiger te wees. “Omdat 'n baba nie vir jou kan sê presies wat fout is nie, verg dit geduld om uit te werk wat pla,” vertel Liza oor hul nuwe rol as ouers. 

Hul kleinding lyk volgens Liza meer soos sy pa. Dis nog te vroeg om te sê na wie die klein mensie aard. Pa Ricus laat val wel hy wil sy seuntjie leer om altyd nederig en gaaf te wees. 

Ricus is tans besig met die opname en vervaardiging van sy nuwe album; dus is sy dag taamlik vol. Maar hy maak seker dat hy tuis is by hul huis in die ooste van Pretoria om sy pligte as pa na te kom.

“Die tyd wat ek in dié stadium saam met Dawid deurbring is 'n bietjie beperk. Ons maak wel 'n punt daarvan om in die aand met badtyd saam tyd deur te bring,” sê hy. 

En wat beplan hulle vir Paasfees? “Ons het nog nie vaste planne nie, maar dit sal lekker wees as die oumas en oupas kan kom kuier,” sê die sangeres.