Dit kan 'n mens sien op ’n foto van hom as klein tjokkertjie wat byna 29 jaar gelede geneem is. 

Die 38-jarige Hardekole-sanger met sy rasperstem het Donderdag ’n foto op Instagram gedeel waar hy as ’n jong seun in die destydse musiekprogram Spies en Plessie - met permissie optree, kitaar in die hand.

“Een jaar toe ek in die ou TV-program “Spies en Plessie” musiek gemaak het! Dink ek was so 8 of 9 jaar oud! Great memories!” (sic) het hy saam met die gewilde hutsmerk #tbt, oftewel throwback Thursday, by die foto geplaas. 

Spies en Plessie - met permissie is in die 1980's uitgesaai en deur die bekroonde skrywers Jan Spies en PG du Plessis aangebied. Ricus het saam met sy pa se musiekgroep in een van die episodes opgetree. 

“Ek het ’n bietjie deur my foto’s op my selfoon geblaai en daarop afgekom en besluit om die #tbt-post te gebruik,” het die sanger aan Huisgenoot.com vertel. 

“Ek onthou ek en Liza (Brönner, sy ewe bekende sangeresvrou) het na heruitsendings van die program op kykNET gekyk en ek het gehoop hulle gaan dié episode uitsaai. Ek het dit nogal gelike en toe sommer ’n foto geneem.”

Hy vertel dit het hom teruggeneem na sy laerskooljare toe hy saam met sy pa se groep opgetree het.

Sy pa, Koos Nel, was destyds deel van die musiekgroep Die Harmonie-dansorkes en klein Ricus was altyd aan sy ma, Riesie, se sy wanneer Koos en sy groep optree. Ricus het op vierjarige ouderdom tromme begin speel en op ses kon hy al die baskitaar en konsertina bespeel. 

“Ek sal nooit vergeet hoe lekker dit was nie. Ek was ’n groot aanhanger van oom Jan Spies en my dag was gemaak toe ek in die program verskyn,” vertel hy van sy verskyning op die kassie.

Vandag kan hy nie minder nie as 13 musiekinstrumente bespeel.