Vir miljoene aanhangers sal hy altyd die beste Jam
Vir miljoene aanhangers sal hy altyd die beste James Bond wees. Foto: Gallo Images/Getty Images

Maar vir Sean Connery het die rol eintlik meer ’n las as enigiets anders geword, en hy het sy aanhangers geskok toe hy dit duidelik uitstippel. “Om James Bond te speel,” het hy laat hoor, “is ’n grap en ’n uitdaging en so steurend soos ’n nagmerrie.”

Tog het dit van hom ’n superster en een van die beroemdste mense op aarde gemaak en vir hom ’n fortuin van R5,6 miljard (sowat $350 miljoen) laat inrol.

Hy het 007 ses keer gespeel voor hy die wêreld van vuurwapens, Bond-meisies en daai bekende “shaken, not stirred”-martini’s in 1967 vaarwel toegeroep het.

Maar drie jaar later was hy terug op die silwerdoek nadat die vervaardigers hom ’n aanbod gemaak het wat hy nie kon weier nie.

Speel nog één keer die superspioen in Diamonds Are Forever, het hulle gesoebat, en ons betaal jou R20,3 miljoen ($1,25 miljoen) plus 10% van die fliek se bruto wins. En ons sal ook twee flieks van jou eie keuse finansier.

Hy het ingestem – en daarna sy aandpak opgehang en in talle ander flieks gespeel.

In die proses het hy die wêreld meer kere as enige ander akteur gered – 13 keer, volgens ’n opname deur die Amerikaanse TV-kanaal Movies4Men. Daarmee het hy Bruce Willis, Harrison Ford en Will Smith uitgestof.

Met sy dood onlangs op 90 is hy veral vir sy bydrae tot die aksieheldgenre geloof. Sean het vir daardie onweerstaanbare Bond-gevoel gesorg wat ander aksiehelde hom probeer nadoen het – ’n gevatte mengsel van komedie en aksie wat die lokettreffers van die 1980’s en ’90’s sou kenmerk en later ook die Jason Bourne-flieks.

In 2006 het hy besluit genoeg is genoeg en sy agent streng opdrag gegee om alle fliek- en televisierolle wat hom aangebied word van die hand te wys. Toneelspel het sy bekoring vir hom verloor.

“Ek het afgetree oor die idiote wat nou in Hollywood flieks maak,” het hy reguit gesê. “Ek dink nie ek sal ooit weer toneelspeel nie. Ek het soveel wonderlike herinnerings, maar daardie dae is verby.”

Nadat hy sy aandpak opgehang het, het Sean ’n vers
Nadat hy sy aandpak opgehang het, het Sean ’n verskeidenheid rolle vertolk, onder meer dié van ’n Russiese duikbootkaptein in The Hunt for Red October. Foto: Paramount Pictures

Die herinnerings aan sy kinderjare is sekerlik vir hom minder aangenaam.

Thomas Sean Connery is in 1930 in volslae armoede in ’n agterbuurt van Edinburgh, Skotland, gebore. Sy ma, Effie, was ’n skoonmaker en sy pa, Joe, ’n fabriekswerker.

Sy bababedjie was ’n laai in die gesin se woonstel en die Connerys het twee toilette met drie ander gesinne gedeel.

Hulle het geen badkamer gehad nie en hy is een keer per week na openbare baddens gestuur om daar te gaan was. Om te bad het deur sy lewe vir hom ’n besonderse lekkerte gebly, het hy op 63 in ’n onderhoud gesê.

Op nege het Sean begin werk en soggens voor skool vier uur lank met ’n perdekar melk afgelewer. Op 13 is hy uit die skool om voltyds melkman te word, en op 16 het hy by die koninklike vloot aangesluit.

Drie jaar later het hy ontslag uit die leer gekry nadat hy ’n maagseer ontwikkel het. Met net ’n karige ongeskiktheidstoelaag om hom aan die lewe te hou het hy leer meubels poets en werk gekry om doodskiste af te rond.

In sy vrye tyd het hy kragoefening begin doen en in 1953 vir die Mnr. Heelal-kompetisie ingeskryf. Sean, wat 1,88 m in sy sokkies gestaan het, met ’n gebeitelde kakebeen en blokkiesmaag waarop jy ’n bierbottel kon laat bons, het derde in die Mr Tall-kategorie gekom.

Toe hy tydens die kompetisie van oudisies vir die musiekblyspel South Pacific hoor, het hy besluit om ’n kans te waag – en dit sou sy lewensloop vir altyd verander. Hy het ’n rol as ’n lid van die koor losgeslaan, sy naam tot Sean Connery verkort en aan sy swaar Skotse aksent begin werk.

“Ek het my South Pacific-toer in elke biblioteek in Engeland, Ierland, Skotland en Wallis deurgebring,” het hy in 1992 in ’n onderhoud vertel. “En die aande dat ons nie opgetree het nie, het ek elke toneelstuk gaan kyk wat ek kon. Maar dis die boeke, die leeswerk, wat ’n mens se lewe kan verander. Ek is ’n lewende bewys daarvan.”

Klein rolle in televisiereekse en flieks het gevolg. Sy rol in ’n TV-verwerking van Anna Karenina vir die BBC in 1961 het die vervaardigers van Dr No, die eerste James Bond-fliek, se aandag getrek.

“James Bond is duidelik hier om te bly,” het die tydskrif Variety met die uitreiking van Dr No geskryf. “Hy sal geen Oscars wen nie, maar wel baie geesdriftige aanhangers.”

Dié voorspelling was in die kol. Vir talle aanhangers was hy die sexyste man op aarde en vir latere Bonds was dit moeilik om sy skoene vol te staan.

Op die ou end het hy tog ’n Oscar gewen – in 1988 is hy as beste byspeler bekroon vir sy rol in die fliek The Untouchables. Kevin Costner, sy medespeler daarin, sê Sean was altyd beleefd en professioneel.

“Hy was die grootste ster saam met wie ek ooit gewerk het, en ek sal vir altyd dankbaar wees om met hom verbind te word. Sean Connery was ’n man onder die manne en hy het ’n ongelooflike loopbaan gehad.”

Sy spel in The Untouchables het aan hom ’n Oscar b
Sy spel in The Untouchables het aan hom ’n Oscar besorg. Hier is hy saam met (van links) Andy Garcia, Kevin Costner en Charles Martin Smith. Foto: Paramount Pictures

Maar die beleefde en professionele akteur het ook ’n ander sy gehad. Sy eerste vrou, die Australiese aktrise Diane Cilento, het in haar outobiografie geskryf Sean was jaloers op haar sukses en kon nie sy eie roem hanteer nie.

Sy het hom van fisieke en geestelike mishandeling beskuldig en beweer hy het haar in 1964 twee keer tydens ’n hewige rusie in ’n hotelkamer so hard geslaan dat sy op die grond neergeval het.

Sean het dié bewerings ten sterkste ontken en Diane “ ’n mal vrou” genoem. Tog het hy in ’n onderhoud met die tydskrif Playboy in 1965 erken hy beskou dit nie as verkeerd om ’n vrou af en toe te lyf te gaan nie.

“Maar ek beveel nie aan dat jy dit op dieselfde manier doen as wat jy ’n man sou slaan nie,” het hy bygevoeg.

“ ’n Oophandklap is geregverdig as alle ander alternatiewe misluk en daar talle waarskuwings was. As ’n vrou ’n feeks is, of histeries, of voortdurend hardkoppig, dan sou ek dit doen.”

Ondanks die opskudding wat dit veroorsaak het, het hy voet by stuk gehou. “Ek het nie van mening verander nie,” het hy 20 jaar later gesê.

Sean se tweede huwelik, met die Frans-Marokkaanse skilder Micheline Roquebrune (91), was duidelik gelukkiger. Met sy dood was hulle 45 jaar getroud.

Die akteur Sean Connery in 2018 saam met sy tweede
Die akteur Sean Connery in 2018 saam met sy tweede vrou, die skilder Micheline Roquebrune. Die egpaar was 45 jaar ge­troud. Foto: Instagram (@saskiaconnery)

Ná sy uittrede as akteur het hulle na die Bahamas getrek. Hul huis daar is as gemaklik eerder as weelderig beskryf, met ’n uitsig op die gholfbaan waar Sean graag tyd deurgebring het.

Mettertyd het hy demensie ontwikkel en dit het sy tol geëis, het Micheline kort ná sy dood gesê. “Sy laaste wens het waar geword – om sonder enige ophef weg te glip. Ek was heeltyd by hom en hy het net weggeglip. Dit is wat hy wou gehad het.”

Jason Connery (57), sy seun uit sy eerste huwelik, het ’n foto van sy pa op sy 90ste verjaardag gedeel – hy was toe al uitgeteer, maar steeds onmiskenbaar Sean Connery.

Sean saam met sy kleindogter Saskia, wat dié foto
Sean saam met sy kleindogter Saskia, wat dié foto in 2018 op Instagram geplaas het. Ná sy dood het sy aan hom hulde gebring en hom haar “beste vriend, mentor en liefste oupa” genoem. Foto: Instagram (@saskiaconnery)

Akteurs wat hom as James Bond opgevolg het, het aan hom hulde gebring.

“Sean Connery het ’n era en ’n styl gedefinieer,” het die huidige 007, Daniel Craig, gesê. “Hy het die moderne lokettreffer help skep. Waar hy ook al is, ek hoop daar’s ’n gholfbaan.” 

BRONNE: NYTIMES.COM, DAILYMAIL.CO.UK, VARIETY.COM, HOLLYWOODREPORTER.COM, TWITTER.COM

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe.