"Van alles wat ek tot dusver ervaar het, is pa-wees beslis die beste. Dis die grootste prestasie van my lewe. Om haar vas te hou, is next level," het Robbie Woensdagoggend aan Huisgenoot gesê.

Klein Lara Kruse is Dinsdagmiddag net ná middagete in die Midstream Mediclinic in Olifantsfontein gebore. Sy het 2,6 kg geweeg. En al is sy 10 dae te vroeg gebore, is sy "fiks en baie gesond."

"Ons het besluit om haar Lara te noem omdat ons van die fliek Lara Croft: Tomb Raider hou. Ouens sal nie sommer met daai girl sukkel nie!” het Robbie gesê.

Robbie, wat die kykNET-program Bravo! aanbied en op 5FM deel is van die Roger Goode Show, sê sy vrou herstel baie goed.

"Mamma is gesond en baie georganiseerd. My dogtertjie is in uitstekende hande."