Hulle was verpletter deur die tragiese verlies van hul weke oue baba weens ’n miskraam.

Vir die jong egpaar het hul ouerskapsdrome skielik onbereikbaar ver gelyk; beroof van die heerlike vooruitsig van ’n kinderlaggie het die groot huis vir hulle leeg gevoel.

Tog het hy en vroulief Lynne mekaar vroeg reeds beloof hulle sal nooit ophou hoop nie, sê Robbie Kruse, aanbieder van kykNET se Bravo! En hulle het nie – selfs nie eens nadat hul poging om weer swanger te raak, hierdie keer deur in vitro-bevrugting, misluk het nie.

“Ons wou so graag ’n kindjie hê,” sê Robbie (32) aangedaan.

Klein Lara het by geboorte 2,6 kg geweeg; deesdae trek die skaal net verby 3 kg. Foto: Onkgopotse Koloti

“Ons het vas bly glo ons sou ouers word; daarom was dit die grootste seën toe Lynn in Februarie verlede jaar weer swanger raak – al het ons besef dit sou moontlik ook ’n hoërisikoswangerskap wees.”

Dit het groot moed van hulle geverg om hul verwagtings oor die nuwe swangerskap te bestuur. “Ons het geweet daar was ’n kans dat die in vitro-behandeling weer nie suksesvol sou wees nie,” sê die 39-jarige Lynn.

Maar op nege weke het die dokter reeds die groen lig gegee, vertel Robbie opgewek.

Kort daarna het hulle die eerste keer na klein Lara, wat vandag amper drie maande oud is, se hartklop geluister. En op 23 Oktober verlede jaar, toe Lara op 31 weke vroeggebore is, het hul wêreld in ’n oogwink verander.

“Wanneer jy die eerste keer daardie klein mensie se hartklop hoor, is jy gone,” sê Robbie, weer aangedaan.

Deesdae draai hul lewe om Lara, beaam Lynn. Hulle sou dit glad nie anders wou hê nie. “Jy kan dit vir niemand beskryf wat nie ’n ouer is nie.

Dis asof alles skielik anders is – mooier en beter as voorheen. Ons is die gelukkigste nóg,” sê die stralende nuwe mamma. Drie jaar se hartseer en verlange het soos mis voor die son verdwyn.

Lank voor hul troue in Mei 2015 het Robbie en Lynn al besluit hulle wil so gou moontlik ’n behoorlike “spannetjie” wees, vertel die twee op die houtdek van hul huis op ’n Midrandse spoglandgoed.

Vir Robbie was pa-wees ’n selfs groter droom as om voor die kansel te staan.

‘Sy’s ’n fighter, dié een. Sy gaan van niemand nonsens vat nie, nie eens van haar pa nie’

“Ons het sommer vinnig ná die troue vir ons eerste pienkvoet probeer,” terg Robbie. Lynn trek haar gesig speels. Haar miskraam en die mislukte in vitro-behandeling het haar “mismoedig” gemaak, erken sy.

Maar die egpaar het altyd vir mekaar bly sê dié hartseer sou net tydelik wees– en dat hulle dit sweerlik nie sal onthou wanneer hulle die dag ’n bondeltjie in hul arms vashou nie.

“Dit tap jou emosioneel om ná ’n mislukking te hoop die behandeling sal werk. Werk dit dan nie, is dit ongelooflik hartseer. Maar nou, ná Lara se geboorte, kan niks ons geluk beskryf nie . . . Alle hartseer is vergete.”

Sy lewe draai om Lara – en haar behoeftes is vir hom nou belangriker as enige ander eise, vertel Robbie. Foto: Onkgopotse Koloti

Langs Lynn slaap Lara op ’n fluweelkombers, salig onbewus daarvan dat sy die onderwerp van die emosionele gesprek is. Maar Robbie verseker ons gou: Dié skynbaar hulpelose kleinding regeer die huishouding.

Die televisieaanbieder was so opgewonde oor sy bondeltjie se koms dat hy sommer in Mei verlede jaar tydens ’n regstreekse uitsending op 5FM, waar hy ’n sportaanbieder is, die nuus met luisteraars gedeel het. En net weke later het hy oor die lug verklap: Dis ’n dogtertjie!

“Ek kyk na haar en ek wonder nie eens waarom my lewe nou rondom haar draai nie. Dinge wat voorheen vir my belangrik was, dra deesdae nie meer dieselfde gewig nie.

Nou is dit vir ons belangrik wat sý wil hê. Haar behoeftes kom eerste,” sê Robbie.

Om pa te word het sy lewe eensklaps verander.

“Hoe beskryf ’n mens dit?” sêvra hy aan Lynn.

Dan antwoord hy sy eie vraag: “Die een oomblik staan ek in my scrubs in die hospitaal; ek is laf en ek gly so ewe oor die vloer met ’n kamera in die hand. Die volgende hou die dokter die kleinste mensie denkbaar in sy hande en sê: ‘Dis joune; jy moet haar huis toe vat.’ Dit verander alles. ”

“Sy was die kleinste, mooiste mensie wat ek nóg gesien het. Sy was op 31 weke vroeggebore, en sy het perfek in my hande gepas. ’n Dag tevore het die dokter nog vir Lynn gesê haar vrugwater is min en ons sal die swangerskap mooi moet dophou . . . Die volgende dag staan ek met Lara in my hand. Sy het maar 2,6 kg geweeg.”

Lynn is ’n “gebore ma”, koer Robbie. “Sy is ongelooflik kalm en rustig.” Maar hy wat Robbie is, staan ook nie terug nie. “Ek is ’n legit pa,” terg hy, en Lynn grinnik.

“Ek het Lara se doeke twee keer geruil voor Lynn haar ontmoet het. Dis wat ons wou hê – ons eie klein spannetjie.”

Lara maak twee kreungeluidjies toe die geskel van ’n hadida haar laat wakker skrik. Maar Robbie tel haar op sy bors en sy raak weer aan die slaap.

“Dis haar gunstelingplek dié,” wys hy na Lara op sy bors. “Of, wel, dis êrens op die spektrum.”

“Ek kan nie dink dat ons gelukkiger sou kon wees as wat ons reeds is nie,” sê Lynn dan.

“Lara is die wonderlikste kind. Sy slaap ampertjies deur die nag en huil bitter selde. Ons het wragtig die jackpot geslaan – en dit wis sommer die seer van die miskraam en in vitro-behandeling heeltemal uit.”

Toe Robbie klein Lara weer op die fluweelkombers langs Lynn neerlê, stoei sy met haar piepklein lyfie om nie van haar pa se bors gelig te word nie.

“Sy’s ’n klein fighter, dié een,” sê Robbie trots en lag lekker. “Dis hoekom ons haar Lara genoem het; sy is genoem na Lara Croft (die hoofkarakter van die Tomb Raider-speletjies).

Sy gaan van niemand nonsens vat nie, nie eens van haar pa nie,” terg hy. “Ons wou ’n naam kies wat kort en kragtig is,” verduidelik Lynn.

Lara is die soetste baba, spog Robbie, aangesien sy deesdae amper elke aand deurslaap. Foto: Onkgopotse Koloti

“Lara is ’n naam waarvan ons albei gehou het. Ons het gedink dit sal nie sommer afgekort kan word nie.”

Maar Robbie bieg: “Nou noem ons haar reeds Laarskie. Of Lara-banana . . . of Lara-muis.”

Oor die maande en jare wat voorlê, is albei opgewonde. “Dit is nou maar die beginfase van haar jong lewe. Sy gaan nog leer kruip, later loop en nog later leer praat. As ons in dié stadium al so verlief is op haar, kan ek my nie indink hoe lief ons nog later vir haar gaan wees nie. Ons sien daarna uit om haar as mens te leer ken,” sê Robbie.

Hulle wil die kleinding baie vryheid gee om self as mens te ontwikkel en keuses te maak, sê Lynn.

“Solank sy ’n goeie mens is, met integriteit en respek vir ander. Dis al. Ons plig is bloot om vir haar meer as genoeg liefde te gee.”

In die toekoms kan die Kruse-huis dalk selfs nóg woeliger raak, want die egpaar wil hul spannetjie verder vergroot.

Soos Robbie laggend vertel: “Toe ek Lara kort ná haar geboorte verlief in my arms vashou, vra die pediater my: ‘Hoeveel kinders wil julle graag hê?’ En ek sê toe: ‘Almal – ons soek almal wat vandag in die saal gebore is.’

“Vandag voel ons steeds so, maar eers wanneer die tyd reg is.”