Kuier jy weer saam met ’n klompie vriende of familielede, kan jy hulle gerus vra in watter rol hulle die meeste van Robert Redford gehou het.

Die kans is goed oud en jonk sal almal ’n eie gunsteling-karakter opnoem: die roekelose Sundance Kid; die dromerige Jay Gatsby; die sielvolle Horse Whisperer; die aantreklike jagter wat Karen Blixen se hart in Out of Africa steel.

Die lys is eindeloos.

Want ken jy Robert nie, kom jy heel moontlik van ’n ander planeet af. Generasies al ís hy Hollywood; ’n veelsydige hartebreker wat enige soort hoofrol kan baasraak. Soek jy ’n gewapende struikrower, ’n joernalis of ’n miljoenêr wat Demi Moore in die bed probeer kry? Robert is jou man.

Nou het die haas ondenkbare gebeur: Ná 60 jaar as akteur en 78 rolprente het Robert besluit om halt te roep. Sy nuutste karakter, in The Old Man & the Gun, wat tans verfilm word, sal sy laaste wees.

Want dié skynbaar immergroen akteur is al 81 jaar oud, selfs al is hy vandag byna net so aantreklik soos hy destyds was.

“Ek het besluit dit sal die einde van my toneelspelery wees,” het hy onlangs aan Entertainment Weekly gesê.

“Ek het gedink, wel, dis nou genoeg.”

Hy sal nog regisseurswerk doen, sê hy.

Dit kom nadat Robert kort tevore die broosheid van bejaardheid op ’n mediakonferensie opgehaal het.

“Die hartseer van ouer word is jy moet sekere dinge laat vaar wat jy gehad het toe jy jonk was,” het hy toe gesê. Hy was altyd atleties, maar deesdae moet hy versigtig wees, “anders kan dit ernstige gevolge hê”.

Waar alles begin het

Hy is beroemd gemaak deur die ikoniese fliek Butch Cassidy and the Sundance Kid, wat uitgereik is toe Robert net 21 jaar oud was.

Die Hollywood-hartebreker Steve McQueen sou aanvanklik die treinrower Butch Cassidy speel saam met Paul Newman in die rol van The Sundance Kid. Maar toe besluit die regisseur om die akteurs in die twee hoofrolle om te ruil.

Steve McQueen. Foto: Gallo Images/Getty Images.
Paul Newman en Robert was 'n wen-kombinasie in Butch and the Sundance Kid. Foto: Gallo Images/Getty Images.

Steve het woedend van die stel af gestorm en toe kry Robert die rol van Sundance. Die kombinasie van Robert en Paul was pure kykgenot.

Daarna het die Hollywood-rolle ingestroom.

Tragedie agter die glans

Robert was altyd uiters privaat en sy persoonlike lewe was ietwat van ’n raaisel. Selfs sy naaste kollegas was nie altyd bewus van die pyn wat agter daardie blou oë en betowerende glimlag skuil nie.

Hy was 18 toe sy ma sterf ná ’n bevalling waarin haar baba dood gebore is. Robert was verpletter en het so erg begin drink dat hy uit die universiteit geskop is. ’n Tyd lank het hy rigtingloos rondgedobber en toe aan die American Academy of Dramatic Art gaan studeer. Daar het hy verlief geraak op ’n Mormoonse meisie, Lola van Wagenen.

Robert en Lola in 1967, New York. Foto: Gallo Images/Getty Images.

Hulle het in 1957 na Las Vegas weggeloop en ’n jaar later ’n babaseun, Scott, gehad. In dieselfde tyd het Robert sy eerste Broadway-rol losgeslaan en die gesin het na New York getrek. Dit het gelyk of dinge beter gaan. Maar toe slaan die tragedie weer toe.

Een aand het Robert sy 10 weke oue seun gesoen en hom in sy bababed gesit. Die volgende oggend was die baba dood.

“Dit was moeilik,” het hy later gesê. “Ons het destyds niks oor wiegiedood geweet nie. As ’n ouer blameer jy jouself. Dit laat ’n letsel wat nooit genees nie.”

Drie jaar later het hulle nog ’n seun, Jamie, gehad. Maar hy is sewe weke vroeg gebore en is amper aan asemhalingsprobleme dood. Toe hy in sy tienerjare was, het Jamie ulseratiewe kolitis ontwikkel. Sy dikderm is verwyder en hy moes ook twee leweroorplantings kry voor hy 30 was.

En dit was nie die einde van die Redfords se seer nie.

Robert en Lola het twee dogters, Amy en Shauna. In 1983 is Shauna se verloofde vermoor.

Amy Redford is 'n regisseur in eie reg. Sy het in 2008 groot lof ingeoes vir haar debuut as regisseur van die fliek The Guitar. Foto: Gallo Images/Getty Images.
Shauna (toe 22) tydens die begrafnisdiens van haar kêrel, Sid Wells (22), 5 Augustus 1983. Foto: Gallo Images/Getty Images.

“Die moeilikste ding is wanneer jou kinders probleme het,” het Robert later gesê. “Ons gesin het baie terugslae beleef.”

Hy en Lola is in 1985 geskei. Robert is sedert 2009 met Sibylle Szaggars (61), ’n kunstenaar, getroud.

Robert en Sibylle by die vertoning van All is Lost in Cannes, 22 Mei 2013. Foto: Gallo Images/Getty Images.

Die volmaakte Hollywood-held

Ten spyte van sy reputasie as hartebreker het Robert homself nooit as aantreklik beskou nie. Hy het al vertel hy is op skool oor sy haarkleur en sproete gespot.

Dit het aanvanklik goed gevoel om as sekssimbool beskou te word.

“Ja, ek sal ’n rukkie hiermee saamspeel,” het hy gedink. Maar toe word dinge vreemd.

“Aanhangers het soms ’n bietjie van hul trollie af geraak. Hulle kon obsessief word. Dit het ál moeiliker geraak en toe word dit uitputtend. Ek skat die lekker ding van ouer word is dat jy nie meer so baie daarvan het nie.”

Oor die jare het sy hoofaktrises ook op hom verlief geraak.

“Ek leef vir sekstonele saam met Robert,” het Jane Fonda (80) verlede jaar laat hoor tydens die première van Our Souls at Night op die Venesiese Rolprentfees. Dit was hul vierde fliek saam as romantiese hoofkarakters.

“Hy soen lekker; dus was dit pret om hom in my 20’s te soen en nou weer in my laat 70’s.”

Sy kollegas is ook dol oor hom.  

“Hy het my heelwat geleer,” vertel J.C. Chandor, Robert se regisseur in die eenmanfliek All Is Lost: “Hoe om ’n loopbaan te volg en ’n verantwoordelike man en pa te wees; hoe om te beskerm wat vir jou betekenisvol is en hoe om verskeie sopies tequila te hanteer terwyl jy antibiotikum vir ’n oorinfeksie drink.”

En daai hare!

Robert se hoekige gelaatstrekke het dalk met die ouderdom ’n bietjie versag, maar sy kenmerkende rooiblonde haredos het hy nog nie verloor nie.

“ ’n Mens kan redeneer dat Redford se hare een van die mees ondergewaardeerde en invloedrykste akteurs in die Amerikaanse rolprentbedryf is,” skryf Maggie Lange van GQ in haar artikel Does Robert Redford Have the Most Beautiful Hair of Any Human Ever?

Namate Robert ouer geword het, is al geskimp hy dra ’n pruik, dat hy ’n haaroorplanting gehad het of sy hare kleur. Maar die mense wat hom ken, sê dis nog die oorspronklike hooimied.

Soos een dit stel: “Hy is net gelukkig.” 

10 van die bestes

1969: Butch Cassidy and the Sundance Kid

1973: The Sting

1973: The Way We Were

1974: The Great Gatsby

1976: All The President's Men

1979: The Electric Horseman

1984: The Natural

1985: Out of Africa

1996: Up Close and Personal

1998: The Horse Whisperer