Sy het alles haarfyn beplan vir die week waarin sy elke dag 12 uur lank op die stel sou moes wees – en dit het beteken sy en haar ma sou huise moes “ruil”.

Roeline Daneel
Die aktrise Roeline Daneel moet kophou om al die balle in die lug te hou as ouer en aktrise. Foto: Misha Jordaan

Albei is suksesvolle en bedrywige aktrises, maar albei se lewe wentel immers ook rondom dié van ’n klein dogtertjie.

En terwyl Roeline Daneel daagliks op Stellenbosch moes wees vir die verfilming van die nuwe kykNET-reeks Kompleks, en daarom op dié dorp in ma Elsabé se huis sou bly, moes Elsabé in Roeline se huis in Kaapstad intrek om te sorg vir Alexa (toe 11 maande), haar eerste kleinkind. Want wanneer Mamma werk, moet Ouma hand bysit met die baba.

Roeline Daneel en Elsabe Daneel
Saam met haar ma, die aktrise Elsabé Daneel, en Alexa. Sy sê haar ma en Alexa het ’n spesiale band “wat vir ewig behoue sal bly”. Foto: Jenni Elizabeth

“Ek het aanvanklik daarna uitgesien,” vertel Roeline (35). “Ek sou gefokus kon werk. My tassie was gepak en ek was gereed om te gaan. Toe sit sy hier, en ek sê: ‘Baai, Al-’ ”

Maar voor sy haar dogtertjie se naam klaar kon uitspreek, het haar gemoed volgeskiet en haar stem weggeslaan. “Toe sink dit in: My dogtertjie is nog nie een jaar oud nie en ek gaan haar ’n week lank nie sien nie.”

Maar dit het goed gegaan met die verfilming én die tydelike reëling, en nou is die reeks op die kassie. Alexa (nou 1) is duidelik weer sielsgelukkig om haar ma by die huis te hê, want jy hoor klein gilletjies van plesier van ver af opklink toe ons die gesin op ’n sonnige lentedag in hul lieflike huis in die Kaapse middestad ontmoet.

“Hallo, Alexa,” por Roeline haar en haar argitek-man, Werner Lotz (39), se dogtertjie aan toe sy nader kruip. “Wil jy deel wees van die geselskap? Ja, jy ís deel.”

Roeline Daneel
Werner en Roeline ontspan saam in hul huis voor die kaggel. Foto: Misha Jordaan

Die pragtige donkerkop met die hoë wangbene en innemende oë, bekend vir haar rolle as Klara in Fynskrif, Alta Marie Esterhuyzen in Arendsvlei en as Maria van Riebeeck in die rolprent Krotoa, is duidelik net so ’n toegewyde ma as aktrise. Maar om dié twee rolle te kombineer is nie altyd maklik nie, erken sy.

Vra jy haar hoe sy dit regkry, dink sy eers ’n oomblik na. “Jy dínk dit is onmoontlik; jy dínk jy kan dit nie doen nie,” sê sy versigtig. “Maar dan, letterlik terwyl ek dit dink, is ek besig om dit te doen.”

Sy voeg gou by dat sy altyd op haar ma en haar man se steun kan reken. “Ek het daardie unicorn-man gekry wat daarvan hou om in die nag op te staan,” sê sy en glimlag na Werner se kant toe.

“Dis vir my lekker,” beaam hy.

“Dan voel dit vir my of ek my deel doen.” Elsabé (65) werk nog een stryk deur as aktrise en was verlede jaar in die drama Alles Malan te sien, maar is baie betrokke by Alexa se versorging en slaap gereeld oor by Roeline se huis in Kaapstad. Ook sy het al soms snags opgestaan om te help met die pajamadril.

“My ma en Alexa het ’n kosbare band wat vir ewig behoue sal bly,” vertel Roeline. Al is Roeline passievol oor haar werk, sorg sy dat sy ’n balans handhaaf.

Baba Alexa
Alexa sit dolgelukkig in die agterplaas van hul huis onder ’n groot suur­lemoenboom. Foto: Misha Jordaan

Ná ’n baie bedrywige Augustus waarin sy nie net aan Kompleks gewerk het nie, maar ook aan Netwerk24 se nuwe blitssepie, Duiwelspoort, het sy nee gesê vir ’n paar oudisies. Sy wou eers ’n blaaskans neem om op haar gesin te fokus.

Toe Alexa skielik ’n kermstemmetjie aanhef, tel Werner haar op en sus haar op sy heup, maar sy wriemel terug grond toe en skop nes onder die eetkamertafel.

“Seun”, die kat, kom nuuskierig nader om uit te pluis wat aangaan. Al bring ouerskap opofferings mee, is die twee ouers duidelik al tuis in dié rol.  

“Sy het diepe bronne van liefde gebring wat ’n mens nie weet jy het nie,” sê Roeline en haar oë dwaal na klein Alexa. “Dit is ’n oerliefde waarvan my ouers my vertel het en wat ek nog nooit tevore regtig verstaan het nie.”

Roeline en Alexa
Roeline lees vir Alexa ’n storieboek. Foto: Misha Jordaan

Al koester sy tye soos dié saam met haar gesin, kla Roeline nie oor die lang ure op die stel nie, want tydens die inperking was werk aanvanklik skaars.

Sy het wel in dié tyd in die radiodrama Die wildedruif val, tans op RSG, gespeel. Aan die einde van Julie het sy ook aan ’n kortfliek, Nappy Blues, gewerk wat as deel van ’n projek van Netwerk24 en die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) geskiet is.

Die fliek is volledig met ’n selfoonkamera geskiet en gaan oor ’n onderwerp waarmee Roeline teen dié tyd goed vertroud is – die manier waarop ’n nuwe baba ’n huis en haar ouers se lewe kan omdop.

Streng veiligheidsmaatreëls het tydens die verfilming gegeld om aan die inperkingsmaatreëls te voldoen, nes op die stel van Kompleks in Augustus.

“Daar is nie groepstonele in nie, nie ekstras op die stel nie, geen soene nie, en dit is op min plekke verfilm. Almal het maskers of skerms gedra en daar was oral handsaniteerder op die stel,” vertel sy oor dié ervaring.

“Ek was besig om my kuif te laat uitgroei, maar moes dit sny sodat hulle nie heeltyd so naby aan my hoef te kom om my kuif te stileer nie.”

In dié drama in die styl van TV-reekse uit die 1990’s soos Dawson’s Creek en My So-Called Life vertolk Roeline die rol van Mika, ’n weduwee wie se dogter reken sy is eensaam.

Sy ontmoet dan later vir Tristan (gespeel deur Ivan Botha) en ’n moontlike romanse wink, maar in haar agterkop is steeds die herinnerings aan ’n wintervakansie in haar tienerjare en die vergete droom van ’n vriendskap.

Roeline Daneel,kompleks
In die reeks speel sy teenoor die akteur Ivan Botha, wat die rol van Tristan vertolk. Foto: David Swart

“Dit is ’n interessante storie,” sê Roeline. In die reeks word twee verhale uitgebeeld wat in parallelle heelalle afspeel.

“Sowel Kompleks as Duiwelspoort is vir my loopbaanhoogtepunte. In Kompleks is dit die grootste rol wat ek al in ’n reeks vertolk het. Dit was ’n lekker verantwoordelikheid om soveel storielyne te dra.”

Dat die jaar 2020 vir haar twee loopbaanhoogtepunte sou oplewer, het sy allermins verwag toe die covid-19-pandemie die land getref het. Roeline onthou met watter gevoel van beklemming sy op Sondag 15 Maart – haar 35ste verjaardag – die nuus gehoor het dat ’n ramptoestand afgekondig is.

“Dit was die laaste dag van die Woordfees, en ons het ná my laaste vertoning teruggery,” vertel sy. Sy het daar in ’n sketskomedie uit die pen van die akteur Ludwig Binge, My mense is die kluts kwyt (is groot), opgetree.

Roeline Daneel,kompleks
Roeline in die rol van Mika op die stel van die nuwe kykNET-dramareeks Kompleks. Foto: David Swart

“Ons het die vorige dag gehoor die KKNK is gekanselleer, en ons het in die stad ingery en die berg was aan die brand,” vertel sy oor die vlamme wat daardie dag teen Leeukop gewoed het.

“Ek en Ludwig het saam ’n verjaardagpartytjie gehou. ‘Verjaardagpartytjie’ is seker ’n sterk woord, want ons was seker vier of vyf om ’n tafel en almal was bang. Die kuierplek was leeg, die berg het gebrand, sirenes het afgegaan en die president het die ramptoestand afgekondig.  

“Dit was so te sê die einde.” Tog het sy en Werner positief probeer bly en besluit haar ma moet tydens die inperking by hulle kom bly. “My ma is ’n ongelooflik konsensieuse huismaat, ’n inskiklike mens wat van ander mense hou,” verduidelik Roeline. “Ons stamp glad nie koppe nie.”

En Werner beaam: “Sy het heeltemal deel van ons span geword. Gewoonlik bad een van ons vir Alexa en die ander een maak kos. Toe sy hier kom, het sy net ingeval en kos gemaak.”

Elsabé en Roeline se pa, John (71), wat ook op Stellenbosch woon, is geskei. Roeline het ook twee broers, Pieter (33), wat aan die Universiteit van Oxford in Engeland studeer, en Xander (30), ’n sakeman op Stellenbosch.

Werner se ouers, Sarel (67) en Alta (66), woon in Pretoria, maar sy sibbes is albei anderkant die waters – sy broer, Gunther (35), woon in Nieu-Seeland en suster, Ingé (35), in Amerika.

“Dit was so half opwindend aan die begin,” vertel Roeline oor haar gesin se samesyn in die eerste drie weke van die inperking.

“Ons het opge-stock en ons het gesê ons gaan elke week een van daardie resepteboeke bo die stoof beproef,” beduie sy na die rits boeke op ’n rak.

“Ons het ook besluit om elke aand alles netjies te maak sodat ons nie in ’n deurmekaar huis sal wakker word nie. Maar dit het seker net so twee weke gehou. En toe raak dit amper soos hierdie lang dag of soos een lang naweek.”

Werner, wat van die huis gewerk het, het by sy gewone werkure gehou, maar die vroue se lewe het ’n warboel geraak. “Ek en my ma was totaal en al in limbo,” vertel Roeline.

“Ons het nie geweet watter dag van die week dit is, hoe laat dit is en of die kind al geëet het nie. Ons het min of meer geweet dit is vyfuur wanneer Werner klaar gewerk het.”

Tydens die inperking het hy en Roeline hul vierde huweliksherdenking gevier.

“Ons het natuurlik ’n naweek weg bespreek wat toe nie kon gebeur nie. Daardie middag vyfuur het my ma vir Alexa gevat en verdwyn. Ek en Werner het omtrent ’n karaoke-aand op ons eie gehad soos ons gesing en gekuier het.”

Die twee het mekaar deur gemeenskaplike vriende ontmoet en in 2013 begin uitgaan. Drie jaar later het hulle op die Swartlandse dorpie Tulbagh afgehaak. Hulle vul mekaar goed aan, sê Roeline.

“Ons kom albei uit kreatiewe agtergronde en hy het baie waardering vir wat ek doen. Ons hou van teater, en ons hou albei van wyn.”

Werner het gou by die akteursgemeenskap in Kaapstad ingeskakel. “Jy kan hom enige plek heen vat en hy sal ’n geselsie met iemand aanknoop,” vertel sy. “If you can’t beat them, join them,” laat hy hoor.

kuns
’n Skets van die gesin by van Alexa se speelgoed en skoene. Foto: Misha Jordaan

Vir Werner lê Roeline se bekoring daarin dat sy ’n sterk, ambisieuse vrou is. “Sy pak die lewe met oorgawe aan. Sy is slim. En beautiful,” voeg hy by.

Hy erken hy moes eers oortuig word dat hy gereed is om pa te word. “Dit was die beste besluit wat ons kon neem,” sê hy nou.

Hy het hom daarop voorberei deur ’n reeks inspirerende TED Talks oor vaderskap te kyk. Daaruit het hy geleer dat jy nie ’n helikopterouer moet wees nie, maar ook nie ander se ouerskapstyl moet kritiseer nie.

“Ons is nie angstige ouers nie,” sê Roeline.

“Nie een van ons verloor kop wanneer sy by ’n trappie afval nie. Sy moet leer om haar grense te vind sonder dat ons totaal en al onverantwoordelik is.”

Hulle moes wel al ’n paar voornemens laat vaar, soos dat hul kind net met houtspeelgoed sal speel. Op die oomblik is ’n plastiekselfoon een van Alexa se gunstelinge.

“Aan die begin was dit ’n aanpassing,” sê Werner. “Maar ek is verbaas hoe baie ek daarvan hou om ’n pa te wees. Ek het klaar vir haar ’n skaatsplank en ’n branderplank, en ek wil saam met haar op die strand gaan speel.

Ek sien so daarna uit om hierdie dinge met haar te deel.” Al geniet hulle dit om ’n kleinding in die huis te hê, gooi hulle wal wanneer jy vra of hulle nog enetjie beplan.

“In teorie, ja, maar ons herstel nog van ons eerste een,” sê Roeline en lag.

Werner lag oor die dag toe Roeline hom winkel toe gestuur het met ’n inkopielysie en onderaan geskryf het sy soek nog ’n baba. Wat die toekoms ook al vir haar, Werner en Alexa inhou, hoop Roeline om altyd haar passie vir toneelspel te kan uitleef.

Selfs al beteken dit dan nou sy en haar aktrise-ma moet soms vir ’n paar dae huise en rolle ruil. 

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe