ERICA WESSELS  

erica wessels,aktrise
Erica Wessels. Foto: Instagram/@ericawes_

Om vir die eerste keer ma te word was een van die aktrise Erica Wessels se hoogtepunte van die jaar wat verby is. 

Op 10 Oktober het Erica en haar man, Willem Boshoff, klein Stella verwelkom. 

En een van die grootste lesse wat sy in 2019 geleer het? “Geduld, geduld en nogmaals geduld. 

Kinders is die ‘wyse leermeesters’ van dié uitdagende en belangrike les wat ’n mens moet leer,” vertel Erica.

EARLY B 

early b,francois van coke
Early B en Francois van Coke. Foto: Jacobus Snyman

Vir dié rapper was 2019 een van sy grootste jare. Die dagboek van die man, wat aansteeklike liedjies soos “Potte” sing, was vol optredes, en sy debuutalbum, Algemene kennis, het op trefferlyste geboer. 

“As ek in 2020 net so ’n goeie jaar soos 2019 wil hê of selfs beter, moet ek hard werk, geloof hê en my tyd mooi reël,” vertel dié boorling van Port Elizabeth, wat eintlik Earl Swartz heet. 

Vir 2019 was sy Nuwejaarsvoorneme om gesonder te wees en na sy lyf te kyk. 

“Ek is trots om te sê dat ek by my woord gehou het en die resultate begin wys. Kyk dus uit vir Early B die spiertier in 2020!” Bo is die rapper saam met Francois van Coke.

KAY SMITH 

kay smith,aktrise
Kay Smith. Foto: Verskaf

Een van die lesse wat deur die jaar by haar gebly het en wat sy graag in 2020 wil saamneem, is om altyd te doen wat ’n mens sê. 

“2019 was uitdagend, maar ook opwindend,” vertel die Arendsvlei-aktrise Kay Smith. 

Sy is van 14 Januarie in die nuwe kykNET-dramareeks Projek Dina te sien saam met onder andere Tim Theron en Chanelle de Jager. 

Kay sien daarna uit om in die volgende dekade nog meer drome te bewaarheid en wil in 2020 meer van die wêreld sien.

CHRISTIA VISSER 

christia visser,aktrise,fynskrif
Christia Visser. Foto: Instagram/@christia_visser

Die Fynskrif-aktrise Christia Visser het in April 2019 aan haar kêrel, Thomas Webb, verloof geraak en is opgewonde daaroor om in 2020 af te haak. 

“Ek sien uit na 2020; elke jaar is soos ’n nuwe begin. Ek wil meer musiek maak en sien uit na die nuwe avonture waarop my toneelspel my ook gaan vat,” vertel Christia, wat in 2019 haar eerste enkelsnit, “17 shots”, uitgereik het.

In 2020 sal sy meer tyd aan haar eie skryfwerk wil bestee, en dit is ook die jaar waarin sy eindelik gaan leer branderplankry.

DANIE DU TOIT 

danie du toit,sanger
Danie du Toit. Foto: Instagram/@danie_reenwolf

Vir Danie du Toit van Spoegwolf was een van die hoogtepunte van 2019 om saam met sy meisie, die aktrise Marguerite van Eeden, Londen te verken. 

Marguerite vertolk die hoofrol in Huisgenoot se tweede fliek, Vergeet my nie, en het in Julie in die Britse hoofstad tonele verfilm vir die rolprent, wat op Valentynsdag uitgereik word. 

“Ek en Marguerite wil aan die einde van 2020 drie maande af vat en reis,” vertel Danie. “Dis die eerste keer dat ek daaraan dink dat ons in ’n nuwe dekade sal wees.”

ARMAND AUCAMP 

armand aucamp,akteur
Armand Aucamp. Foto: Instagram/@armandaucamp

Dit was vir dié donkerkopakteur heerlik om vir die eerste keer in ’n sepie te speel toe hy in Julie sy debuut as die hygroman­skrywer Jacques in Getroud met rugby gemaak het.

Is hy bly 2019 is verby? “Ja, ek is moeg! Ek was baie op die pad en dit was ’n vreeslik uitputtende jaar,” sê hy. 

Dié akteur, wat sy eie kookboek, Armand kook kaal, uitgegee het, het kooklesse landwyd aangebied en dit het hom ook na Namibië geneem. 

Dit was vir hom heerlik om ook Mauritius, Skotland en Londen te besoek.

MELT SIEBERHAGEN 

melt sieberhagen
Melt Sieberhagen. Foto: Verskaf

In 2019 het hy 40 jaar oud geword, in die liefdadigheidsepisode van die musiekprogram Noot vir noot gewen en gesien hoe die Bokke die Webb Ellis-trofee lig. 

“Ek het geleer hoe wonderlik dit is om te sien hoe mense saam­staan as dinge goed gaan,” vertel Melt. 

“Dit is great om te sien hoe ons die Springbokke by die Wêreldbeker en die sangeres Sho Ma­djozi kan ondersteun.” 

Dié plaaslike rapper het die wêreld laat gons met haar liedjie “John Cena” en het onlangs die regte John Cena in Kelly Clarkson se geselsprogram in Amerika ontmoet.

ROLANDA MARAIS 

rolanda marais,aktrise
Rolanda Marais. Foto: Instagram/@rolandamarais

Aan Nuwejaarsvoornemens wil dié aktrise nie dink nie. “I don’t like setting myself up for failure,” sê Rolanda, wat vroeg in 2020 op die grootskerm in die flieks Poppie Nongena en Griekwastad te sien is. 

“Ek weet wat om te vermy, en Nuwejaarsvoornemes is een daarvan.” Een van haar hoogtepunte van 2019 was haar rol in die M-Net-reeks Trackers as Milla Strachan, ’n huisvrou en ma wat haar skielik in die wêreld van georganiseerde misdaad bevind. “Sy was ’n fantastiese karakter om te speel.” 

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.