Kort-kort flits ’n blonde krulkop soos ’n warrelwind op die skerm verby of kom klouter op haar bekende ma se skoot.

Sy is net so mooi soos haar ma, en net so mooi aangetrek – al is dit net nóg ’n dag by die huis; ’n dag waarop nie een van die twee ’n voet by die deur sal kan uitsit nie.

Voor die skootrekenaar sit die aktrise Rolanda Marais, fleurig uitgevat in ’n helderkleurige bloes. Al bring sy die inperking tuis deur saam met haar vervaardiger-regisseur-man, Jozua Malherbe, en hul driejarige dogtertjie, Charlotte, kan jy haar steeds deur ’n ring trek.

“Dit maak my lus vir die dag,” sê sy. Al noem sy haar klerestyl beskeie “antieksjiek met ’n humorsin”, is sy al as een van die stylvolste vroue in die land beskryf.

Sy meng oud en nuut, kleurryk en klassiek – en dra dikwels unieke skeppings wat sy in winkels wat tweedehandse klere verkoop of selfs die kinderafdelings van winkels opspoor. Maar in die nuwe fliek Griekwastad verskyn Rolanda nou ewe formeel en stemmig in ’n polisieuniform as genl. Henriëtte de Waal.

Die ware Henriëtte was aan die stuur van sake in die Noord-Kaap toe die opspraakwekkende Griekwastadmoorde in April 2012 op die plaas Naauwhoek in dié distrik gepleeg is.

Rolanda Marais
Jody Abrahams as André Mcanda en Rolanda as genl. Henriëtte de Waal in Griekwa-stad, nou op DStv se BoxOffice beskikbaar. Foto: Verskaf

’n Minderjarige seun is later skuldig bevind aan die moorde op sy ouers en jonger suster, maar sy identiteit word nou kragtens die wet in die media weerhou omdat hy die moorde gepleeg het toe hy jonger as 18 was.

As dit nie vir die landwye inperking weens die COVID-19-pandemie en die gepaardgaande onsekerheid was nie, sou die fliek, gegrond op die joernalis Jacques Steenkamp se boek oor dié gebeure, binnekort in rolprentteaters begin het. Maar omdat dit onduidelik is wanneer Suid-Afrikaners weer na teaters sal mag stroom, is die fliek onlangs direk op DStv se BoxOffice beskikbaar gestel.

Dit beteken dit kan nou tuis gekyk word all is dit nog nie by die loket vertoon nie – ’n dapper stap vir die plaaslike fliekbedryf. “Dis ’n briljante idee om dit op BoxOffice te sit, want dan kan jy dit kyk wanneer jy ook al in die mood is,” meen Rolanda (42).

Rolanda Marais
‘Ma-wees is harde werk. Dit konfronteer jou met jou eie demone en tekortkomings’ Foto: Jozua Malherbe

Tog is daar ’n tikkie hartseer by haar dat die rolprent waaraan sy en haar man saamgewerk het nie die teaters sal haal nie.

Jozua (38) was die regisseur daarvan en ook self agter die kamera. 

“In die donker teater ontsnap jy na ’n ander wêreld. By die huis voor die TV is daar kinders en toilet breaks wat jou heeltyd onderbreek,” verduidelik Rolanda die gevoel van verlies.

Rolanda Marais
Die regisseur en vervaardiger Jozua Malherbe en Rolanda is al sedert 2016 getroud. Foto: Jozua Malherbe

“Ek hunker na daai wêreld voor die wye doek . . .”

Waar sy in die sitkamer van hul huis in Durbanville, in die noorde van Kaapstad, via Zoom met Huisgenoot gesels, is daar ’n kaggel agter haar en ook geraamde kunswerke deur haar pa, Fanie Marais, en die skilders Fiona Poll en Michael Taylor.

“Mamma, Mamma!” klink ’n kinderstemmetjie skielik op, en Rolanda verskoon haarself voor die rekenaar se kamera.

“Sy is nie ’n sekonde lank stil nie. Ek moet heeldag met haar speel,” sê sy.

Jozua kom neem haar plek in. “Ons het die fliek vir cinema opgeneem– die klankbaan, die klankontwerp, die visuals,” gesels hy oor Griekwastad.

“Dis anders as jy vir TV skiet . . .”

Hy praat uit ervaring, want hy het ook al die regie van TV-reekse soos Swartwater, Bloedbroers, Fluiters en Openbarings behartig.

Rolanda Marais
Die gesin tydens ’n park­uitstappie voor die inperking. Foto: Jozua Malherbe

Tog het hy en Rolanda hulle nou daarin berus dat Griekwastad reguit na mense se sitkamers gaan. Dis ’n eerste vir Suid-Afrika – “die eerste keer dat ’n Afrikaanse fliek direk op BoxOffice beland en waarvoor jy net R35 hoef te betaal teenoor die R150 van ’n fliekkaartjie,” vertel Jozua.

Lank voor die corona-virus ons lewens kom omvergooi het, is daar al gegis oor die uitdagings waarmee rolprentteaters in die digitale era gekonfronteer word.

“Die afgelope vyf jaar was alle media op shaky ground omdat alles aanlyn gelees en gekyk kan word,” sê Jozua.

Met die direkte aanlyn uitreiking van ’n Afrikaanse fliek wys die bedryf hy is gerat vir die toekoms. Dis weer Pa se beurt om die kleinding besig te hou en Rolanda verskyn op die skerm.

Dis eintlik heel gepas om die aktrise op ’n skerm pleks van in lewende lywe te sien, want sy het die afgelope jaar in alles en nog wat op die skerm verskyn: in die kykNET-reeks Fynskrif, die M-Net-reeks Trackers en die Netwerk24-blitssepie Die Testament.

Aan werk is daar geen tekort nie, en die blaaskans bring byna verligting.

Rolanda Marais
Hul dogter, Charlotte, is net so lief vir mooi aantrek soos Ma. Foto: Jozua Malherbe

“Ek was verlede jaar so besig met Fynskrif, Trackers en toe Griekwastad. Ek het in elk geval besluit – vreemd genoeg – om hierdie jaar die meeste van my tyd saam met Charlotte deur te bring,” vertel Rolanda en lag. “Be careful what you wish for . . .” 

Die klein parmant kom weer op haar ma se skoot sit. “Ek dink . . .” begin Rolanda, maar voor sy nog ’n woord kan uitkry, laat Charlotte hoor: “Mamma mag nie praat nie!”

Dan is sy weer woerts weg na iewers in die huis met Jozua agterna. “Nee, ons het glad nie ’n skedule oor wie wat wanneer moet doen nie,” vertel Rolanda oor hul daaglikse roetine tydens die inperking.

‘Sy moet elke dag ’n rokkie aanhê wat mooi kan draai as sy in die rondte tol. Sy trek aan wat sy wil’

“Ons is vrye geeste en glo nie in reëls nie. As Charlotte agtuur in die oggend wil fliek kyk, dan is dit nou maar dit. Solank daar geen trauma vir enige van ons is nie.”

Jozua het ’n kantoor buite die huis waar hy van agt- tot vyfuur werk aan die beplanning vir volgende projekte soos ’n opvolg vir die fliek Semi-soet. Dan is dit net sy en Charlotte in die huis. Nes haar ma geniet die kleinding dit om iets unieks en besonders aan te trek. 

“Sy moet elke dag ’n rokkie aanhê wat mooi kan draai as sy in die rondte tol,” vertel Rolanda. “Sy trek aan wat sy wil.”

Vandag was haar keuse ’n balletrokkie. Ma en dogter bak graag saam – koek en muffins en brood soggens.

“Sy is die beste eierbreker in die huis,” spog Rolanda. “Daar is nooit doppe in die bak nie.”

“Sy roer, klits, gooi meel in . . . net ’n paar take weg van sny en op die stoof werk,” kom Jozua droogweg bylas. Hul gedeelde humorsin is onder meer die gom in sy en Rolanda se verhouding.

Rolanda Marais
Charlotte saam met hul kat, Satsuki. Foto: Jozua Malherbe

“Ons was albei die wild cards in ons families,” sê sy.

Jozua is die ouboet van ’n tweeling, Daniel en Vanessa (34). Sy broer het ’n firma wat sosialemediastrategieë saamstel en sy suster is ’n dokter.

‘Ma-wees is harde werk. Dit konfronteer jou met jou eie demone en tekortkomings’

Ook Rolanda se ousus, Rentia (40), is ’n dokter en haar broer, James (39), ’n programmeerder. Sy en Jozua is die kreatiewe siele. Hulle het mekaar in 2011 op die stel van die fliek Wolwedans in die skemer ontmoet.

“Ek was beïndruk met sy werkproses en hoe hy met mense werk. Hy het ’n wonderlike temperament en is gemaklik in sy eie vel. Hy het altyd tyd vir ’n grappie. Ons lag baie in hierdie huis.”

Intussen is Jozua en Charlotte besig om op die mat ’n tou in die vorm van ’n spiraal neer te lê, en dan loop sy daarop asof dit ’n doolhof is.

Toe Rolanda met die rekenaar opstaan om by hulle aan te sluit, verskyn ’n muur van plante in die eetkamer op die skerm.

“Ek is ’n huishen en hou van potplante versorg,” sê sy.

Rolanda Marais
Charlotte en Rolanda in die dogtertjie­kamer waar hulle hul verbeelding vrye teuels kan gee. Foto: Jozua Malherbe

Sy sien daarna uit dat oupa Fanie, ’n afgetrede NG predikant, en ouma Charlotte, ’n spraakterapeut en oudioloog, weer ná die inperking kan kom kuier en met klein Charlotte kan help.

Hulle woon ook in Durbanville. Jozua se ma, Salome, is ’n kunstenaar op Kleinmond en sy pa, Gideon, ’n sakeman in New York.

“As Charlotte verveeld raak en ek moet iets uitdink om te doen, dan wens ek so daar was al ’n sibling,” sug Rolanda.

Rolanda Marais
Rolanda vertel sy wens soms daar was ’n boetie of sussie vir Charlotte met dié dat Charlotte so be­drywig is. Ná die inperking sal Charlotte se grootouers, wat ook in Durbanville woon, weer kan handjie bysit met dié klein woelwater. Foto: Jozua Malherbe

Hulle het ’n babakatjie gekry om haar te help besig hou.

“Maar hulle raak nog aan mekaar gewoond. Haar naam is Satsuki soos in die animasiefliek My Neighbor Totoro. Dis my en Jozua se favourite.”

Ma-wees is “harde werk”, erken sy. “Dit konfronteer jou met jou eie demone en tekortkomings.”

Sy was bang om in haar laat 30’s ma te word, want sy was toe al “set in my own ways”, sê sy.

Rolanda Marais
Kamma-­kamma teetyd. Foto: Jozua Malherbe

“Ek is regtig verras dat ek so ’n goeie ma is,” voeg sy geamuseerd by. Nou is Rolanda, Jozua en klein Charlotte almal op die bank, mooi geraam op die rekenaarskerm.

Charlotte het ’n bordjie met melktert waaraan sy smul. Het Mamma dit gebak?

“Nee,” sê die blonde krulkoppie beslis. “Dis gekoop.” En dan waai sy opgewonde tot siens – dis nou genoeg van haar ma op die skerm; dis mos alte lekker as Mamma vir ’n rukkie net háre is. 

  • Die fliek Griekwastad is van 5 Mei op DStv se BoxOffice beskikbaar.
Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op InstagramTwitter en Facebook en teken gerus in op ons nuusbriewe.