"Die atmosfeer van Kersfees is aansteeklik, en gee mens 'n gevoel van feestelikheid en hoop," sê Rolanda.

Rolanda en haar man, die regisseur Jozua Malherbe, het alreeds op 1 Desember hul Kersboom uitgehaal en saam met hul dogtertjie, Charlotte, begin versier. "En natuurlik volg ons die streng tradisie van ooreet!" laat sy hoor oor die Kerstradisies wat hulle volg.

Die paartjie se skattige kleinding, Charlotte, het op 6 Desember haar derde verjaardag gevier.

Rolanda was tot onlangs nog op die kassie te sien as Mila Strachan in die dramareeks Trackers op M-Net. Die reeks is gegrond op die bekroonde skrywer Deon Meyer se riller-roman Spoor.

Die aktrise onthul dat sy nie eintlik in Kersgeskenke glo nie, maar dat hulle wel 'n prettige "Secret Santa"-geskenkuitruiling doen. 

Desember is vir Rolanda 'n tyd om op haar rug te lê en verlore te raak in 'n lekker boek. 

Met klein Charlotte wat nou hier is, moes hul gewone Nuwejaarsplanne ietwat verander, vertel sy. 

View this post on Instagram

.Meer as n jaar gelede . My mensie. #somuchjoy #motherhood

A post shared by Rolanda (@rolandamarais) on

"Ek en my man het altyd gegaan waar die wind ons waai, maar deesdae – met 'n klein mensie in ons midde – hou ons dit maar gewoonlik by die see by my ouers se strandhuis naby Hermanus," sê sy. 

Een Nuwejaar wat sy nooit sal vergeet nie, is 'n Desember wat sy en Jozua op Nieu-Bethesda in die Oos-Kaap spandeer het voor hulle in 2016 in 'n sprokiestroue afgehaak het. 

"Ons het die wonderlikste Nuwejaar daar gehad. Daar was 'n Johnny Cash-tribute in 'n klein saaltjie en daarna het ons aan die dorp se Nuwejaarsoptog deelgeneem. Dit was 'n magical Nuwejaar," onthou Rolanda. 

Tussen ma-wees en haar besige werkskedule het sy nie altyd tyd om 'n blaaskans vir haarself te neem nie, sê Rolanda, wat in Kaapstad woon. 

"Hierdie jaar het ek geleer om na my liggaamte luister. As jy moeg is, rus. Niks is belangriker as jou gesondheid nie. Fisiek en geestelik."

2020 is propvol interessante loopbaan-verwikkelinge vir Rolanda. "Einde Januarie word die film Poppie, gebaseer op die boek Die Swerfjare van Poppie Nongena van Elsa Joubert, in teaters vrygestel en in Maart/April word die film Griekwastad vrygestel waarin ek teenoor Arnold Vosloo speel. Dan is ek ook in die derde seisoen van Fynskrif te sien."

  "In 2020 is my grootste doelwit om tyd te maak vir myself. Ek wil weer joga doen en leer klere maak."