Die egpaar is in Februarie 2016 op ’n prentjiemooi wynlandgoed buite Somerset-Wes getroud en het ’n tweejarige seuntjie wie se naam hulle privaat wil hou.

Rolene (26) het ’n foto van haar en D’Niel (36) op Instagram gedeel om die spesiale dag te vier.

“Hier is op 3 jaar van liefde, vreugde, familie, probleme en groei. Dankie dat jy my uitdaag, ondersteun en onvoorwaardelik liefhet.”

Die voormalige Mej. Suid-Afrika Jo-Ann Strauss en die sanger Kurt Darren se vrou, Dunay van Heerden, was onder Rolene se 295 000 Instagram-volgelinge wat die egpaar gelukgewens het. Jo-Ann skryf: “Julle het so ’n pragtige troue gehad en jul reis is ’n geseënde liefdesverhaal.”

“Baie geluk, julle. Mag die pad vorentoe net met roosblare besaai wees,” skryf Dunay.

Die twee het mekaar in 2011 tydens ’n Desembervakansie op Hartenbos se strand ontmoet. Dis ook hier waar hulle in 2014 verloof geraak het.

Rolene het dieselfde jaar haar mediese studie vir twee jaar onderbreek nadat sy in 2014 eers as Mej. Suid-Afrika en in Desember daardie jaar as Mej. Wêreld gekroon is. 

Sy het daarna ’n jaar lank die wêreld platgereis om haar pligte as skoonheidskoningin uit te voer.

Rolene en haar seuntjie het later uit Bloemfontein, waar sy haar mediese studie aan die Universiteit van die Vrystaat voltooi het, by D’Niel in die Wes-Kaap aangesluit. Hulle woon sedert November 2017 op die Val de Vie-landgoed naby die Paarl.  

Op die vraag of daar enige uitdagings in hul huwelik is en of hulle ooit stry kry, het sy voorheen in ’n onderhoud aan Huisgenoot vertel: “Ons het albei baie gematigde persoonlikhede en sal nie verskriklik opgewerk raak oor iets nie. Ons kies om oor alles te gesels.” 

Al sal hulle oor dinge verskil, sal dit nooit op ’n emosionele manier wees nie, het D’Niel toe bygevoeg.

“Ons weet dis nie die moeite werd om oor onbenullighede kop te stamp nie. Ons sal vir mekaar opofferings maak.”