Rolene, wat verlede week die lewe geskenk het aan haar en haar man, D'Niel, se tweede seuntjie, het op haar Instagram-profiel haar volgelinge gevra om vir haar broer, Johann, en sy vrou, Ina, in hul gebede te hou. 

"My hart is baie seer vandag. Ek wil julle almal vra om saam met my te bid vanoggend. My broer en skoonsuster het vier jaar gelede China toe getrek. Hulle het hul eie uitvoermaatskappy @cravetrading begin en gee ook deeltyds skool. Hulle het by die huis kom kuier en is net voor Kersfees verlede jaar terug China toe. Hulle is tans vasgekeer in hul stad en kan niks eintlik doen nie. Bid asseblief saam met my vir hul gesondheid en veiligheid en die veiligheid van almal wat geaffekteer is. So baie dankie. Lief vir julle twee @johannmot @ina_strauss," skryf Rolene by ’n reeks foto's van Johann en Ina. Dit sluit ook foto's in van haar saam met die twee op hul troudag in 2019. 

Johann en Ina woon die afgelope vier jaar in die Chinese stad Huiyang, sowat 20 km van die stad Shenzhen, wat net noord van Hongkong geleë is. 

View this post on Instagram

We've got this???????????? #safetyfirst

A post shared by Ina Strauss (@ina_strauss) on

Johann vertel aan Huisgenoot dat alle skole tans vir ’n onbepaalde tydperk gesluit is. Hulle moes dus ophou klas gee en werk nou voltyds by hul uitvoeronderneming.

"Talle van ons vriende wat onderwysers is word wel beïnvloed," vertel Johann. "Die meeste begin met aanlyn klasse, maar salarisse is ’n groot probleem." 

Die virus, wat die amptelike naam Covid-19 gegee is, het sedert Januarie al meer as 2 000 lewens geëis in China. Vyf mense is elders oorlede - in Hongkong, die Filippyne, Japan, Frankryk en Taiwan. 

Meer as 71 440 mense is al geïnfekteer, en die virus het al na minstens 28 ander lande versprei. Net verlede week is die eerste geval in Afrika in Egipte bevestig. 

Johann en Ina sê dat hulle nie seker is van hoe akkuraat die inligting is rakende gevalle van coronavirus in hul area nie. 

"[Die Chinese sosiale media-app] WeChat het ’n app waar jy kan kyk hoeveel gerapporteerde en bevestigde sake daar is. Daar is drie bevestigde gevalle in ’n 2 km radius van ons af. Ons is nie seker hoe akkuraat die inligting is nie, maar ons hoor dat van die mense wat herstel het moes weer terug hospitaal toe vir toetse." 

View this post on Instagram

Daars niks beter as jy?????? @johannmot

A post shared by Ina Strauss (@ina_strauss) on

Die egpaar sê tans is dit maar uitdagend om hul maatskappy te bestuur, want hul daaglikse aktiwiteite word redelik hewig beïnvloed deur die protokol wat tans in plek is. 

"Ons kry 'paspoort-boekies' wat toelaat dat een persoon per huishouding drie keer per week die huis mag verlaat om kos te gaan koop. Daar is gelukkig nie ’n tekort aan kos in ons stad nie en ons kry gereeld vars produkte. As jy sou kos koop, word jou koors op minstens drie tot vier plekke geneem en jy mag nêrens ingaan sonder ’n masker nie," vertel Johann en Ina uit Huiyang aan Huisgenoot

Hul firma het twee internasionale takke, een in Shanghai en een in Pretoria. "Ons werk nog direk met ons Suid-Afrikaanse kliënte en probeer steeds produkte in China verkry, maar baie fabrieke is nog toe. Dit veroorsaak dat ons nie met fabrieke kan onderhandel en fisieke gehaltekontroles kan doen nie."

Daar kan ook op die oomblik geen verskepings van produkte plaasvind nie. 

"Ons verwag ook massiewe vertragings by die hawens as alles weer terugkeer na normaal. Al wat ons tans kan doen, is om produkte te soek en te bemark tot ons weer ’n werklike diens kan lewer," vertel Johann. 

Hulle beskerm hulself deur maar weg te bly van mense af, vertel die twee. 

"Maskers is oral uitverkoop en dis basies onmoontlik om nuwe maskers te bekom. Ons mag glad nie die huis verlaat sonder maskers nie, so dis ’n baie moeilike situasie. Aangesien een van ons net die huis drie maal per week mag verlaat, is ons meestal tot ons vier mure beperk." 

Al is die situasie tans baie droewig, sal hulle waarskynlik in China aanbly wanneer als weer na normaal terugkeer, vertel Johann en Ina aan Huisgenoot.

"Ons lewe is tans hier in China. Dit maak dat ons waarskynlik steeds in China sal bly. Hoewel die situasie tans droefgeestig is, kan ons sien hoe die Chinese regering alles in hul vermoë doen om die virus te beheer. Dit is eintlik baie indrukwekkend."