Maar vandeesweek het sy ons bederf met ’n seldsame foto van haar skattige klein seuntjie op ’n klimraam op die gronde van die Val de Vie-landgoed naby die Paarl waar hulle woon.

Rolene en haar eggenoot, die sakeman D’Niel Strauss, verkies om die seuntjie grotendeels uit die kollig te hou.

Die tweejarige met die donkerblonde hare lyk baie ingenome met homself in sy grys sweetpak en mosterdgeel serpie om die nek waar hy ewe gemaklik op die klimraam doenig is.

“Mamma, buite speel,” is waarskynlik sy gunstelingsin het Rolene by die foto geskryf.

Hy is op sy oulikste wanneer hy dans, vertel Rolene aan Huisgenoot. "Hy het ongelooflike ritme en het verskillende danspassies vir verskillende liedjies. Hy is mal oor buite speel en wil gedurig in die natuur wees. Hy stap ook gereeld deur die huis en sing Carike Keuzenkamp se liedjie: "Ek's 'n dapper muis, kyk hoe stap ek deur die huis."

Sy sê hy is gek oor diere en het hulle wegbreek na die Krugerwildtuin in Mpumalanga saam met haar ouers, Hennie en Theresa Strauss, terdeë geniet. "Ek was verbaas oor wat hy alles ingeneem en verstaan het."


Rolene en D'Niel het onlangs verhuis in die landgoed en sy sê dit het haar verbaas hoe groot invloed die trek op hom gehad het. " 

Hy was die eerste week of twee verskriklik ma-vas en het ’n hele ruk geneem om sy voete in die nuwe huis te vind. Hy praat nou gereeld van ons 'nuwe huisie' en dat hy van sy 'geheime speelplek' onder die trap hou. Dit begin nou eindelik soos huis voel."

Rolene sê sy het geleer dat perfeksie iets van die verlede is.

"Solank ek my heel beste gee as werkende vrou en ma, is dit genoeg. Niks kom by gehaltetyd nie en eenvoudige dinge soos stoei op 'n grondbed voor die kaggel is baie meer werd as duur geskenke.

"As ma, vrou en sakevrou is dit maar altyd uitdagend om by alles uit te kom. ’n Mens probeer alles vir almal op een slag te wees, maar ek het gou geleer dat dit baie belangrik is om te prioritiseer. Daar is sekere balle wat ek net nie kan laat val nie en die belangrikste een is my gesin. Wanneer ek weet wat vir my die belangrikste is, beplan ek my dae daarvolgens.

"Ek het ook besef dat multi-tasking nie vir my is nie. Dit is vir my belangrik om op een ding op 'n slag te fokus en my volle aandag daaraan te gee."