“Dis wonderlik dat die tyd so vinnig verby gegaan het. Dit voel asof ek haar al my hele lewe lank ken. Sy is ’n wonderlike mens om mee saam te leef,” koer D’Niel oor sy beeldskone vrou. 

Rolene en D’Niel het mekaar in 2011 tydens ’n Desembervakansie op Hartenbos se strand ontmoet. Dis ook hier waar hulle in 2014 verloof geraak het. 

Hulle het twee jaar later op ’n prentjiemooi wynlandgoed buite Somerset-Wes afgehaak. 

Volgens D’Niel is kommunikasie hul resep vir ’n suksesvolle huwelik. “Ek en Rolene praat oor alles.” 

“Maksimum groei gebeur tussen die grens van ondersteuning en uitdagings. Dit beteken ons ondersteun mekaar en daag mekaar se opinies op ’n konstante basis uit, en dus groei ons saam,” sê Rolene op haar beurt. 

Hulle gaan vanaand ’n romantiese ete by ’n restaurant in Franschhoek geniet om dié spesiale dag te vier.

Die glanspaar sien ook vreeslik uit na hul tweede seuntjie se koms. 

Die voormalige Mej. Suid-Afrika, wat alreeds 39 weke swanger is, het in Augustus verlede jaar in ’n video op haar YouTube-kanaal aangekondig sy is weer swanger. 

Sy en D’Niel het alreeds ’n driejarige seuntjie wie se naam hulle privaat wil hou. 

“Ons kan nie meer wag nie. Ek hoop hy lyk soos ek, want ons eerste seuntjie lyk baie soos Rolene,” skerts D’Niel. 

Al is hul tweede seuntjie veronderstel om sy opwagting op die 13de Februarie te maak, sê D’Niel dit kan dalk vroeër wees omdat Rolene natuurlik die lewe gaan skenk. 

“Haar sakkie om hospitaal toe te gaan is al lankal gepak. Die afgelope twee weke gaan sy oral met dit saam,” vertel hy laggend. 

“Alles is gereed! Rolene se ma het ook al gearriveer om hand by te sit. Ons wag nou net vir ons seuntjie se koms,” voeg hy by.