“Daar was soveel dinge wat uitdagend was,” vertel Rolene. "Eerstens dat ons nie so aktief kon wees soos ons gewoonlik is nie of so baie tyd in die natuur kon deurbring nie. Ook dat ons nie familie en naastes so gereeld kon sien nie. Dit was seker die uitdagendste, maar in elke situasie is daar ook positiewe dinge en geleenthede vir groei. 

“Ons het aan alternatiewe maniere gedink om saam tyd deur te bring en die tyd wat ons wel saam met mekaar gehad gekoester en ten volle te benut.”

Rolene en haar man, die sakeman D'Niel Strauss, se twee seuntjies, wat nou onderskeidelik drie jaar en agt maande oud is, het haar behoorlik op haar tone gehou, vertel sy, maar is sy dankbaar dat hul oppasser tydens die inperking by hulle kon woon.

“Dit was ’n groot bonus en ons is baie geseënd om haar by ons te kon hê.

“Gelukkig is die oudste een, wat in Januarie vier word, al lekker selfstandig. Hy trek homself aan, gooi vir homself water in en kry maklik vir hom iets om te eet. Hy help ook baie met boetie.

Rolene sê die twee boeties is lekker maats, maar omdat die jongste een nog baie klein is, kan hulle nog nie met mekaar speel nie. “Hulle geniet mekaar verskriklik en die jonger een lag lekker vir sy ouer boetie.”

Sy sien beslis ’n verskil tussen haar seuns se persoonlikhede, vertel Rolene. “Ons oudste seuntjie aard en lyk baie na my kant van die familie. Ek wil amper sê hy is ’n grapjas. Vreeslik aktief en redelik sosiaal. 

“Die jonger een is nog klein, maar hy is groter as wat sy boetie was. ’n Regte gentle giant. Verskriklik vriendelik, verskriklik maklik en eintlik maar met enigiets tevrede. Hy is happy go lucky en gelukkig waar hy ook al is of in wie se arms hy ook al is.”  

Rolene sê die tyd saam met D’Niel tydens inperking was veral spesiaal. “Wanneer die kinders slaap, het ons beplanningsessies gedoen oor die jaar wat voorlê en aan dinge gewerk waarvoor ons nooit tyd kry nie.”

Dit was juis toe dat hulle besluit het om hul eie podcast, The Strauss Life, te begin.

“Ek en D’Niel het gereeld diep intellektuele en emosionele gesprekke waar ons baie bymekaar leer. Ons praat soms oor onderwerpe wat vorendag kom of ons sal aan iets dink wanneer iemand dalk deur die dag iets sê. En dan praat ons daaroor. D’Niel uit ’n sake-oogpunt, ek uit ’n afrigtingsoogpunt, en ons bring die teorieë by mekaar uit. 

“Ons het gevoel aangesien ons in elk geval die gesprekke met mekaar het, kan ons dit net sowel opneem en ’n podcast daarvan maak.”

Hulle geniet dit verskriklik baie om saam aan die projek te werk en is baie passievol daaroor, vertel sy. Die eerste episode sal binnekort bekendgestel word en daarna sal hulle maandeliks episodes doen. 

Die egpaar bespreek onder meer onderwerpe soos verhoudings, hoe om jou finansies as ’n paartjie te bestuur en hoe om ’n onderneming sonder geld te begin. 

“Ons verskil natuurlik met tye, maar omdat ons ’n langafstandverhouding gehad het, het ons geleer om goed te kommunikeer. Ons sien ons verskille as geleenthede om te kommunikeer en te groei."