Voormalige Mej. Wêreld-skoonheid Rolene Strauss en
Voormalige Mej. Wêreld-skoonheid Rolene Strauss en haar man, D’Niel Strauss. Foto: Instagram

“Sy is by die huis en op sterk medikasie,” sê haar man, D’Niel Strauss. “Ons weet in hierdie stadium regtig nie wat fout is nie. Die dokters lyk nie of hulle te bekommerd is nie, want hulle het so baie toetse op haar gedoen dat die ergste moontlike goed uitgeskakel is.”

Volgens hom het sy baie pyn, maar hulle weet nie wat dit veroorsaak nie. 

Rolene het Sondagaand by hul huis op die Val de Vie-landgoed buite die Paarl begin sleg voel, vertel D’Niel. “Sy het gesê sy wil ’n bietjie gaan lê en toe raak ek bekommerd, want sy kla letterlik nooit nie. En sy kan pyn vat. Ek het dit gesien met die geboortes van ons kinders.”

Hy het die dokter gebel, en hulle het haar na die noodeenheid geneem waarna sy opgeneem is. Met haar tweede nag in die hospitaal het hy die nuus in die sosiale media gedeel.

View this post on Instagram

A post shared by Daniel Strauss (@officialdanielstrauss)

D’Niel sê hulle het aanvanklik gedink dit is haar blindederm wat die pyn veroorsaak, maar die talle skanderings en sonars wat sy ondergaan het, het die moontlikheid uitgeskakel.

Hy en Rolene het besluit om met haar aanhangers te deel dat dit op die oomblik nie met haar goed gaan nie, maar sal graag verdere mediese detail oor haar toestand wil privaat hou. 

“Rolene is positief. Sy is altyd positief,” sê hy. “Die moeilikste deel vir haar was maar om nie by ons seuntjies te wees nie.”

Sy ma, Amelia Strauss, en suster, dr. Ledivia Strauss, help tans om na die seuns om te sien. 

“Dinge gebeur so skielik. Een dag wil jy die wêreld oorneem en die volgende dag is jy op jou rug."