Die skoonheid het onlangs onthul dat sy haar baba se geslag by die Pink Polo-glansgeleentheid by die Val de Vie-landgoed buite Paarl sou bekend maak. Die geleentheid is ter ondersteuning van borskanker. 

Rolene het aan haar byna 300 000 Instagram-volgers vertel dat die kleur van haar belt wat sy na die geleentheid sou dra blou of pienk sou wees om s die geslag te onthul. Sy het opgedaag in 'n wit rok met 'n blou belt wat aandui sy en haar eggenoot, die sakeman D'Niel Strauss, verwag hul tweede seuntjie. 

Die nuus het haar aanhangers onkant gevang. In 'n peiling op Instagram voor die geleentheid het 86% van haar volgers aanvanklik gedink Rolene verwag 'n dogtertjie. 

Voor die groot nuus aangekondig is, is Rolene deur die Olimpiese swemheld Ryk Neethling uit 'n helikopter vergesel voordat sy by die Survivor SA-aanbieder en gasheer van die dag, Nico Panagio, op die verhoog aangesluit het. 

"My driejarige seun gaan so jaloers wees omdat hy van helikopters hou en die feit dat sy die baba boetie voor hom vlieg, sal hartverskeurend wees,” het sy in haar toespraak geskerts. 

Rolene en haar man, D’Niel, het einde verlede jaar besluit om hul gesin uit te brei. 

Sy wou egter eers 'n voorbladfotosessie afhandel vir die tydskrif Women’s Health waarin sy vanjaar verskyn het, want dit sou ‘n streng dieet en baie strawwe oefening behels.

Daarna het sy en D’Niel begin planne maak vir hul tweede kind. 

Die paartjie verkies om hul eersteling uit die kollig te hou. "Ons seun is nou in daardie stadium waar hy besig is om heeltyd vrae te vra!" het Rolene onlangs op Instagram vertel. 

"Dit gee my so 'n mooi blik op sy hart, en om te sien hoeveel hy van die natuur en diere hou, laat my nog meer van hom hou (as dit enigsins moontlik is)," het sy toe geskerts.

Rolene het onlangs onthul sy het destyds met haar eersteling 'n moeilike geboorte ondergaan. Sy het tydens 'n familievakansie aan die Suid-Kaap kontraksies begin ervaar. "Ek het altyd geweet ek wil natuurlik geboorte skenk, maar dinge het regtig stadig verloop." 

Haar baba was groter as wat hulle verwag het en die model was omtrent 15 uur lank in kraam. "Maar ná gebed en harde werk van al die betrokkenes is ons seun met 'n gesonde gewig gebore," vertel sy.

Rolene se tweede baba word na verwagting in Februarie gebore. Veels geluk julle! 

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.