Volgens Rox-Zee Veldhuizen (27) het sy reeds verlede week hul verhouding beeïndig na hulle probeer het om dit te red.

Sy beweer teenoor Huisgenoot Réan se gesin het nie hul verlowing goedgekeur nie.

Die paartjie wie se liefde vroeg in die elfde seisoen van dié KykNET-maatsoekreeks geblom het, het vir nege maande vir mekaar gekoer. Hulle het gereeld in die sosiale media hul liefde vir mekaar uitgespreek en onafskeidbaar voorgekom, maar Rox-zee sê hulle het tans geen kontak nie.

Rox-Zee en Réan Foto: Instagram

“Réan was verpletter toe ek die eerste keer ons verhouding wou beeïndig,” vertel die beeldskone blondekop. 

Rox-Zee, wat tans by haar ouers in Hillcrest buite Durban woon, meen die laaste drie dae voel vir haar soos 'n waas.

“Ré (haar bynaam vir hom) en ek is regtig lief vir mekaar. Ons het op ‘n televisiereeks ontmoet en daar was onmiddellik chemistry tussen ons,” vertel die hartseer skoonheidsterapeut. 

Rox-Zee saam met Ozzie. Foto: Instagram

Volgens haar sou sy en Réan nie voltyds op die plaas in Groblershoop gaan bly het na hul troue nie. 

Rox-Zee en Réan geniet ’n middagslapie.Foto: Instagram

“Ons was van plan om net vir ’n paar jaar op die plaas te woon en later weer te trek,” verklap Rox-Zee.

Réan en Rox-Zee soen mekaar innig.Foto: Instagram

Rox-Zee vertel haar hart is gebreek dat dinge tussen haar en haar geliefde verloofde so moes eindig.

Huisgenoot kon Boer Réan nie bereik nie, maar hy het vroeër aan Netwerk24 gesê dat hy nie kommentaar gaan lewer oor die verbreekte verlowing nie.