By ’n foto op Instagram van die tatoe op haar regterarm skryf Roxy (31): "Ontmoet Wilamina. My nuwe ballerina. Ek het 13 jaar gedans. Ek doen ballet vandat ek drie is. Ek wou nog altyd ’n ballerina wees." 

Daar is geen dieper betekenis agter dié tatoe nie, verduidelik sy aan Huisgenoot. "Ek was altyd net lief vir ballet." Sy was 16 jaar oud toe sy in matriek moes ophou ballet doen.

"Ek was in matriek en moes op my loopbaan fokus. Ek moes dus iets prysgee." Om ballet op te gee was nie haar keuse nie, sê Roxy. "Dit was uit noodsaaklikheid; ek moes dit opgee om op my skoolwerk en loopbaan te fokus."

Hoewel sy steeds ’n groot liefde vir ballet het, sal sy dit nie professioneel wil doen nie. "Dit was altyd vir my ’n stokperdjie en as ek eendag tyd het, wat ek nooit het nie, sal ek dit seker weer wil doen," laat sy laggend hoor. 

Saam met haar jongste "Wilamina"-tatoe, het sy nou altesaam ses. Die eerste tatoe het sy vyf jaar gelede op haar lae ribbekas gekry. "Dit is 'n tatoe van my sterreteken, Boogskutter," vertel sy.

Die res is ’n "hele klomp" op haar lyf, sê die aanbieder van die mooimaakprogram How Do I Look? South Africa. 

En sy is nog nie klaar nie. "Tatoes is nogal verslawend. Ek wil een of ander tyd nog kry.

"Ek wil my dogter se naam op my laat tatoeëer," sê dié ma van die eenjarige Adrienne Zoey Shraga.

Sy sal goed nadink oor die ander wat sy wil kry. "Ek dink lank daaroor. Dit is immers vir altyd op jou lyf."

En as Adrienne eendag ’n tatoe wil hê, sal sy nie in haar dogter se pad staan nie. "Ek is nie daarteen gekant nie. As sy oud genoeg is, kan sy dit kry - dit is haar liggaam.

"Maar sy sal moet goed nadink en sy moet minstens 18 jaar oud wees," verduidelik Roxy. 

Sy werk deesdae aan haar nuwe luukse juweliersreeks. "Dit sal in September beskikbaar wees," sê sy.