Roxy en Sam, wat in September verlede jaar verloof geraak het, het onlangs twee jaar as ’n paartjie gevier.

En Roxy (31) kan skaars wag om voor die kansel te staan. Die oudste dogter van die rugbyheld Rob Louw het onlangs op Instagram gesê sy is druk besig om haar troue te beplan.

Roxy wil vroeg in Februarie met Sam (31) afhaak. Dit is rondom dieselfde tyd as die Cape Town 10’s-sportgeleentheid in Kaapstad, die geleentheid waar dié twee mekaar ontmoet het. 

sport,liefde,verlowing
Foto: Verskaf

Sam, oorspronklik van Nieu-Seeland, het destyds aan dié rugbytoernooi deelgeneem toe hul paaie die eerste keer kruis.

“Ons het mekaar ontmoet, ’n diep gesprek gevoer en die volgende dag weer bymekaargekom om verder te gesels oor ’n suikervrye roomys op die Seepuntse promenade.” Die res is geskiedenis.

Die paartjie beplan ’n drie dag lange bruilof by die see omdat hulle baie vriende van oor die wêreld heen het. Al hul vriende kom gewoonlik tydens die Cape Town 10’s-toernooi na die Moederstad. Die paartjie beplan om in Kaapstad of ’n omliggende gebied af te haak.

“Ons is steeds op soek na die volmaakte plek,” sê Roxy. “Ons wil speletjies soos rugby en krieket deel maak van die troue. Die strooimeisies sal teen die strooijonkers meeding,” sê sy. Volgens Roxy bestaan hul verhouding uit “pret en avontuur”. 

sport,liefde,verlowing
Foto: Verskaf

“Ons hou daarvan om mekaar uit te daag, buite ons gemaksone te kom en saam te groei. Ons doen alles saam; branderplankry, joga, fiksheid en werk.” En hoekom is Sam “die een”? “Jy weet wanneer die regte man oor jou pad kom,” sê Roxy.

“Ons band was onmiddellik daar; fisiek, emosioneel en sielkundig."

Sam het in September verlede jaar tydens ’n vakansie op ’n plaas in die Waitakere Ranges-bergreeks in Auckland, Nieu-Seeland, die jawoord gevra. Dit is die gebied van waar Sam oorspronklik is.

“Hy het vir ons ’n privaat plaashuis tussen die berge bespreek wat op die vallei en see uitkyk,” het Roxy destyds aan Huisgenoot vertel. “Terwyl ons die uitsig op die koel oggend geniet het, het ek ’n madeliefie wat naby groei, opgemerk.

"Ek het kaalvoet daarnatoe geloop, dit gepluk en agter my oor gesit. Sam het dit na my linkeroor geskuif terwyl hy my vasgehou het en op een knie neergesak,” het sy destyds onthou.

“Hy het die mooiste ring wat ek nog ooit gesien het, uitgehaal en my gevra om met hom te trou.”

Benewens hul liefde vir sport en fiksheid, deel Roxy en Sam ook ’n passie vir joga. Hulle is ook betrokke by ’n opvoedkundige veldtog vir daggagebruikers.

sport,liefde,verlowing
Foto: Verskaf

Hulle hou binnekort ’n joga-en-daggagebruik-wegbreek in Kaapstad. 

“Ek en Roxy is opgewonde om ’n naweekwegbreek te lei wat ons aan ons twee gunsteling- antieke medisynes opdra: dagga en joga,” skryf Sam op Instagram. Volgens sy Instagraminskrywing is dit die “eerste joga-dagga-wegbreek” in die land.