Roxy (31) het Donderdag dié opwindende nuus met haar meer as 20 000 aanhangers op Instagram gedeel. By 'n foto van haar en Sam wat mekaar in ’n borrelbad soen, skryf sy: “So dit het gister gebeur! Wie sou kon dink dat ’n ontmoeting by @cafecaprice nadat ek my dansskoene opgehang het, en ’n mal Thailandse avontuur, waar ek die tekens van die heelal nagejaag het, na dit kon lei.” 

Hulle het op die dag wat hulle verloof geraak het ’n breek van die sosiale media geneem om hul liefde te vier, skryf Roxy. 

Sam het haar heeltemal onkant betrap toe hy die jawoord vra, vertel Roxy aan Huisgenoot. 

Die paartjie is tans met vakansie by 'n plaas in die Waitakere Ranges-bergreeks in Auckland, Nieu-Seeland, van waar haar verloofde afkomstig is. "Hy het vir ons 'n privaat plaashuis tussen die berge bespreek wat op die vallei op die oseaan uitkyk,” vertel Roxy. 

Roxy het self op 'n kleinhoewe buite Kaapstad grootgeword en die natuurskoon en rustigheid wat die plaaslewe bied, het 'n sagte plek in haar hart.

"Terwyl ons die uitsig op die koel oggend geniet het, het ek ’n madeliefie wat naby groei, opgemerk. Ek het kaalvoet daarnatoe geloop, dit gepluk en agter my oor gesit. Sam het dit na my linkeroor geskuif terwyl hy my vasgehou het en op een knie neergesak," onthou sy die groot oomblik. 

"Hy het die mooiste ring wat ek nog ooit gesien het, uitgehaal en my gevra om met hom te trou.”

Roxy vertel sy was geskok en verras, maar bitter opgewonde en het ja gesê. Dít voor hy die vraag kon voltooi, bieg sy. 

Sam het daarna 'n bottel van haar gunstelingsjampanje oopgemaak wat hy in die yskas weggesteek het. Die gelukkige paartjie het hul tyd in die borrelbad deurgebring en die prentjiemooi uitsig geniet. 

Die paartjie woon tans in Kaapstad en is byna twee jaar saam. Dié model verklap dat sy steeds oorweldig voel ná die groot verlowingsoomblik. “Hoe kan ek nie wees nie, die liefde van my lewe en beste vriend het my gevra om met hom te trou!” koer sy. 

En die trouplanne? Wel, hulle het baie vriende oor die wêreld heen en die bruilof sal waarskynlik 'n drie dae lange naweek affêre wees met sowat 200 van hul naaste vriende, verklap Roxy. "In Suid-Afrika, natuurlik," voeg sy by.

Die twee het nog nie 'n troudatum vasgestel nie, maar het glo daaroor gegrap die eerste aand toe hulle ontmoet. 

Die paartjie bestuur ook saam 'n spa-oord wat op fisieke fiksheid en geestesgesondheid fokus. Roxy bestuur ook ’n jogastudio.

Hulle is ook in die proses om 'n antiplastiek veldtog te loods wat daarop sal fokus om strande skoon te hou, én op die gebruik van plastiek in Suid-Afrika. Die inspirasie vir die veldtog het gekom nadat hulle onlangs ’n skoonmaaksessie by die see in Bali bygewoon het. 

Die bedrywige model is tussenin ook steeds met modelwerk besig, maar sal ook op 3 November haar lyf bokser hou vir 'n liefdadigheidsveldtog #Bullyproof teen afknouery, wat in Kaapstad gehou sal word. 

Sy beplan ook om omtrent skouer aan die wiel te sit en op haar fiksheid te fokus, maar eers nadat al die verlowingsvierings vandeesmaand tot ’n einde gekom het.