“Om eerlik te wees, wil ek nie vir die man wat die boodskap aan my gestuur het die bevrediging gee nie, maar met dít wat tans in ons land gebeur, besef ek genoeg is genoeg; sulke mans moet blootgestel word,” vertel Roxy aan Huisgenoot.

Die afgelope paar dae het vroue oor die land heen hul stem dik gemaak oor die groot hoeveelheid geweld, moorde en seksuele teistering wat vroue en kinders daagliks in Suid-Afrika deurmaak. 

Roxy, die dogter van die Bok-legende Rob Louw, het die Facebook-boodskap met die woorde: “Kan ek jou verkrag?” met haar 21 000 Instagram-volgelinge gedeel. Die boodskap is vanjaar in Julie aan haar gestuur.

roxy louw,model
Foto: Instagram/@roxylouw

“Ek doen dit vir al die vroue wat te bang is om daaroor te praat,” sê sy oor haar besluit om oop te maak oor haar nare ervaring. “Met vroue wat landwyd saamstaan, voel ek ook nie dat ek alleen is nie. As ons saamstaan, kan ons dit beëindig,” sê sy.

Volgens Roxy kry sy gereeld boodskappe wat onaanvaarbaar is, veral nou met die sosiale media wat direkte kontak so maklik maak. “Ek het egter nog nooit ’n boodskap ontvang wat so eksplisiet is nie,” sê sy. 

“Ek kon nie glo wat ek lees nie, maar wou terselfdertyd my foon stukkend gooi. Ek het begin rondkyk en kwesbaar gevoel, so asof iemand die vertrek binnegestap het,” sê sy. 

“Ek het geleer dat sommige mans goed voel as hulle ’n reaksie kry. Hoe meer reaksie en vrees jy ervaar, hoe meer mag kry hulle. Ek het gevrees vir my lewe. Ek wou nie hê hy moes weet dat hy my laat uit uitfreak en bang maak nie. Dit sou hom die reaksie gee wat hy graag wou hê.”  

“Ek het eindelik die boodskap geïgnoreer. Ek het voorgegee dit het nie gebeur nie en dat dit my glad nie beïnvloed het nie. Ek het besluit om net aan te gaan, maar dit was ’n fout,” sê sy nou. 

Sy kon twee weke lank nie die huis verlaat sonder haar verloofde, Sam Barton (31), aan haar sy nie. 

Daarom doen sy ’n beroep op alle vroue en kinders om te praat en moedig sy mans aan om op te staan en vroue te beskerm. 

“Hoeveel vroue kry sulke boodskappe? Hoeveel meisies gaan met hulle lewe aan en maak asof die gedrag normaal is?” wil sy weet.

“En die belangrikste: Wat het so ’n boodskap tot gevolg? Hoeveel vroue word daagliks geteister? Waar trek ons die lyn?” vra sy mismoedig.

“Praat vroue! Jou stem mag net een stem wees, maar jy het miljoene wat agter jou staan. Jy sal gehoor word,” sê sy.