Groot grys wolke dans laag oor die berg en van lente in die Boland is daar geen sprake nie. Fyn reën sif al van vroegoggend neer en die water maak groot plasse in die strate van die prentjiemooi Paarl. 

“Kom in, kom in, julle hoef nie so in die reën te staan nie,” roep daardie bekende radiostem van die voordeur af.

In ’n mentgroen oorvourok is die veelbekroonde RSG-aanbieder en joernalis Martelize Brink (42) die ene vrolikheid en energie op so ’n grou dag. 

Vandag is haar glimlag agter ’n donkerblou masker versteek, maar daar is ’n opgewekte vonkel in haar ysblou oë. En die rede vir dié vonkel staan reg langs haar.

Gemasker, nes Martelize, met sy oë wat skrefies trek, groet Marius van Tonder (43) met ’n hartlike waai-beweging. Martelize straal, want nie nét skop sy en die man in haar lewe nes in ’n lieflike nuwe huis nie, sy is ook verheug om ná 12 jaar in ’n woonstel in Seepunt weer permanent terug te wees in haar grootworddorp. 

“Seepunt was nice en dit het sy doel gedien toe dit sy doel moes dien,” sê Martelize, wat net ’n klipgooi van die SAUK se ateljees gewoon het van waar sy op weekdae die middagprogram Driesestig uitsaai.

Maar sy verlang nie terug nie. Hoekom sou sy? Hier het sy meer ruimte om haar liefde vir kosmaak en braai uit te leef. En sy doen dit alles met haar geliefde aan haar sy.

Oor die man met die ligbruin hare en stoppelbaard kan sy heeltyd praat – al “haat hy dit as ’n mens hom voor ander komplimenteer,” sê sy. 

“Die groot ding van Marius wat vir my uitstaan, is sy menswees. Hy is superaantreklik en al daai mooi dinge en so . . . Maar hoe hy mense behandel en nie neerkyk op hulle nie is veral vir my belangrik.”

Die paartjie het die drieslaapkamerhuis net duskant die Laborie-wynlandgoed aan die begin van Maart gekoop met die oog daarop om saam in te trek. Maar nog voor hulle kon intrek is die inperking aangekondig en Martelize het solank by Marius se vorige huis, ook in die Paarl, ingetrek.

“Hy het voorspel dat dit (die inperking) nie net drie weke gaan wees nie,” verduidelik Martelize. 

“Toe die lockdown begin, was dit ’n aanpassing, want ’n mens is mos maar gewoond aan jou eie ruimte. Maar ja, ons het ’n fantastiese lockdown gehad,” sê Marius, ’n gebore en getoë Paarliet wat ’n onderneming bedryf wat Franse eikehouvate en -produkte invoer. 

“Aah, ek dink ook so,” beaam Martelize en haar oë trek weer skrefies agter haar masker.

Marius maak pasta. Foto: Instagram
Marius maak pasta. Foto: Instagram

Sy en Marius ken mekaar al twee dekades, nadat hulle mekaar in hul vroeë 20’s by ’n braai ontmoet het. Hulle het gemeenskaplike vriende in die Paarl en het mekaar deur die jare soms op geleenthede raakgeloop.

Marius is intussen getroud en later geskei. En sowat twee en ’n half jaar gelede het dinge tussen hom en die vrou met die onmiskenbare stem vlamgevat. 

“Hy was vir ’n naweek in die Kaap en vra my toe of ek nie die Sondag saam wil gaan middagete eet nie, op sy 41ste verjaardag,” vertel Martelize. “Toe word dit ’n láát aand,” sê sy laggend. “Ons het begin met middagete en het toe na nog ’n restaurant toe gegaan en daar gesit en gesels.” 

Sy kyk liefdevol in Marius se rigting. “Ag, dit was nog altyd so gewees met ons. Ons hou van mense en so aan, maar ons is so gemaklik in mekaar se geselskap en in mekaar se ruimte. Ons kan vir ewig sit en gesels. En soos tyd verbygaan is daar mos maar ’n rustigheid en gemaklikheid.” 

Sedertdien het hulle elke naweek oor en weer gekuier – soms by sy Paarl-huis, ander kere by haar plek in die bedrywiger Seepunt. En mettertyd het hulle ander toevallige raakpunte ontdek. 

“Hy is ook die jongste van vyf kinders en sy pa se naam is ook Marthinus, so albei ons pa’s is Marthinus,” vertel Martelize met groot oë.

Marius maak die storie klaar. “Haar oudste tweelingbroers en my oudste broer verjaar op dieselfde datum.” Albei lag en sê byna gelyk: “Dit is so vreemd!” 

Aan die begin van Augustus kon hulle eindelik in hul nuwe huis intrek, en twee maande later is hulle behoorlik ingeskud. 

“Daar is nog baie goed wat ons sal wil doen en verander,” sê Marius op sy rustige manier. “Maar ons bly vreeslik lekker,” borrel Martelize. “Dit is ’n heerlike leefhuis. En dit is ’n sosiale huis.

”Die ruim kombuis het veral haar hart gesteel. “Jy verstaan nie, my kombuis in my woonstel was verskriklik klein. Ek kon letterlik net in en uit reverse!” sê sy laggend.

Die nuwe kombuis is lekker ruim en Marius en Marte
Die nuwe kombuis is lekker ruim en Marius en Martelize maak graag saam kos. Foto: Jacques Stander

Martelize is sedert 13-jarige ouderdom verlam en in ’n rolstoel ná sy vermoedelik inflammasie in haar rugmurg gekry het. Maar daardie piepklein Seepunt-kombuisie was goed genoeg om drie jaar gelede aan die resepte vir haar eerste resepteboek, Martelize Kook! Jy’s genooi, te werk.

Martelize se resepteboek is in 2017 gepubliseer.
Martelize se resepteboek is in 2017 gepubliseer.

Kosmaak ís immers in haar bloed.

Haar pa was die bekende “potjiekoskoning”, ds. Matie Brink, en sy resepteboeke pryk op ’n rak in die leefvertrek langs Martelize se talle pryse vir haar radiowerk. 

Martelize se pa se potjiekos-resepteboeke pryk ook
Martelize se pa se potjiekos-resepteboeke pryk ook op die rak. Foto: Jacques Stander

“Ek hou van eksperimenteer. Ek het gisteraand waterblommetjies gebraai en daar is potensiaal daar. Shame, partykeer vra Marius vir my of ons nie oor iets anders kan praat as kos nie. Ek kan non-stop oor kos praat,” bieg Martelize. “Ons Brinks het letterlik ’n kos-obsessie.” 

Marius skud net sy kop. “Ons kuiergaste is gewoonlik skaars by die deur uit, dan begin Martelize al wonder wat ons vir die volgende kuier op die braai of in die kombuis kan optower,” sê hy. 

Nie al haar eksperimente is suksesvol nie – Marius herinner Martelize met ’n vonkel in die oog aan al die brood wat sy tydens die inperking gebak het.

“Natuurlik het jy nie altyd al die regte goed in die huis nie. Soos ’n mieliebrood, toe maak ek dit met volgraanmeel en that really doesn’t work. En jy het maar eintlik die creamed corn nodig. Die ander soort mielies werk nie. Sulke soort goed,” verduidelik sy. 

Dan terg hy. “Jy kan ook net soveel keer die expired gis blameer.” 

“Nee, ek was gejinx,” keer Martelize kwansuis verontwaardig. “Ek bak al brood vandat ek 14, 15 is. Nog nooit het ’n brood nié gerys nie, en wragtig, kom ek hier by hom, bak ek brood en dit wou twee keer nie rys nie.” 

Die Kaapse SAUK-ateljee was aan die begin van die inperking ’n paar weke lank gesluit en Martelize en haar mede-aanbieder, Johan Rademan, kon nie uitsaai nie. Maar nou is hulle al maande lank volstoom aan die gang. Sy ry elke dag van hier af Seepunt toe.

“Die ry is eintlik vir my baie lekker. Ek luister heelpad radio en ’n mens kry sommer baie idees,” vertel sy. Smiddae ry sy met ’n glimlag huis toe, na waar die man in haar lewe wag.

Wanneer hulle nie werk of kosmaak nie, luister en ontdek hulle graag nuwe musiek, besoek hul gunsteling- plaaslike restaurante of gaan ry ’n ent in die mooi omgewing.

En saans braai hulle – drie tot vier keer per week. By Marius se vorige huis, wat langs ’n wynplaas is, kon hulle net buite braai, en net op windstil aande.

“Ons is nou in die sewende hemel, want ons bly nou in ’n plek met drie plekke waar jy kan vuur maak. Hier binne, daar en nog daar agter buite,” beduie Martelize na die kaggel, die binne- en buitebraai. 

Die twee braai graag en geniet ’n glas goeie wyn.
Die twee braai graag en geniet ’n glas goeie wyn. Foto: Jacques Stander

Martelize het nog nooit teruggestaan vir die lewe se uitdagings of avonture nie. Sy was onder meer al in Rwanda om na die berggorillas te gaan kyk en het al in ’n kano Robbeneiland toe geroei. Maar ná ’n kuier by haar en haar geliefde is dit duidelik: Dis hier, omring deur geurige kos, goeie wyn en vriende om die groot eetkamertafel waar sy op haar gelukkigste is.

“Ja, dis ons,” beaam Marius. “Voor die vuur, met ’n glas wyn met musiek op die agtergrond . . .”

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe