Op dié begrafnis in 1993 in Vereeniging het Rudi sy rug op die hartseer groep mense gekeer en by die grafte van vreemdelinge gaan kniel in ’n poging om beheer van sy emosies te kry. 

Hier het die laaste boodskappe van geliefdes op die grafstene hom vir die eerste keer geroer en sedertdien is begraafplase een van sy gunstelingplekke om te besoek; veral wanneer hy na rustigheid soek.

“Sommige aanhangers weet dit reeds van my en ander sal seker dink ek is heeltemal mal, maar ek geniet dit ongelooflik baie om begraafplase te besoek,” vertel die sanger Dinsdag aan Huisgenoot.

Rudi Claase besoek 'n begraafplaas. Foto: Verskaf

“Dit gaan vir my hoofsaaklik oor die nostalgie daarvan; en oor die laaste boodskap wat op ’n mens se grafsteen verskyn. Om ’n begraafplaas te besoek is altyd om soos deur ’n hele rits gedigte te stap, dit is ’n laaste eerbetoon aan iemand wat eens die aarde bewandel het. Daar is iets ongelooflik mooi en poëties daaraan.”

Rudi sê dit roer hom om te sien wat die laaste woorde is waaraan iemand onthou sal word, selfs al ken hy nie die mense nie.

“Daar is net iets aan die stilte in die wind en aan die gras onder jou voete. Dis asof die stene ou verhale aan my fluister. Ek wandel graag tussen die grafstene rond omdat dit vir my altyd so mooi is om die boodskappe op die stene te lees. Sommige ontroer my, ander neem ek bloot net waar.”

Hy vertel dit is die grootste eer dat aanhangers in die verlede al sy lirieke op die grafstene van geliefdes laat graveer het. “Dit gee my sommer hoendervel as ek daaraan dink,”  vertel hy.

“Dis asof God my altyd bewus hou dat ons die lewe elke oomblik moet koester; en ook dat die lewe net tydelik is. Elke keer wanneer ek 'n mooi boodskap sien, weet ek ek moet elke moontlike oomblik gebruik om nog liedjies te skryf omdat ek ook eendag my laaste asem gaan uitblaas.”

Die sanger Rudi Claase besoek 'n begraafplaas in Mosselbaai in die Wes-Kaap. Foto: Verskaf

Sy besoeke aan begraafplase lei telkemale tot inspirasie vir nuwe musiek, vertel hy. Die sanger het immers die Arno Jordaan-treffer “Engele” geskryf ná ’n besoek aan ’n begraafplaas.

“Ek het min tyd gehad om die liedjie te skryf en het toe ’n begraafplaas gaan besoek om my kop rustig te kry. Dit was nie lank ná my aankoms nie toe ek verby ’n grafsteen met ’n beeld van ’n engel loop. Die refrein van die liedjie het onmiddellik by my opgekom: ‘Daar is engele wat waak oor jou, wat jou hand in die lig en die donker vashou.’ 

“Ek sê nog altyd ek skryf nie liedjies nie; hulle kom na my toe wanneer hulle gereed is om gesing en vertel te word.”

Hy sê dit is sy ongewone liefde vir begraafplase wat hom noop om elke dag voluit te leef. “Ek moet voluit leef, want ek vra myself altyd wat op my grafsteen gaan staan,” vertel hy.

“Ek wil elke dag waardeer wie en wat ek het, want môre kom dalk nie.”