Rudi Claase
Die sanger Rudi Claase sê hy het nou ’n tweede kans op lewe nadat hy ’n keerpunt in sy drankverslawing bereik en dit ten spyte van ’n hele paar terugslae die rug toegekeer het. Foto: Gallo Images/Media24/OJ Koloti

Toe hy die soveelste oggend wakker word met die wete dat hy die vorige dag weer die belofte aan homself verbreek het om op te hou drink, het Rudi Claase besef hy sal nie die stryd teen die drankduiwel alleen kan wen nie.

Daarom het die sanger en liedjieskrywer die drastiese besluit geneem om ’n inplanting teen alkoholmisbruik te kry om hom uit die greep van alkoholisme te bevry.

Maar min het hy toe geweet watter groot eise daar alles in sy eerste nugter jaar in ’n lang tyd aan hom gestel sou word – ’n pandemie wat sy sangloopbaan tot stilstand laat ruk, ’n kankerskok, ’n mantelvliesbreukoperasie en ’n beroerte

En net toe dit lyk asof die lewe ophou houe uitdeel, het Rudi (38) en sy vrou, Suzette (49), albei in Junie covid-19 opgedoen. Sy is in die hospitaal opgeneem nadat sy longontsteking ontwikkel het. Rudi, wat tuis aangesterk het, was ook “erg siek” en word nog kortasem wanneer hy te lank sing.

“Ek was op my knieë,” erken hy oor dié moeilike tyd. “Dit was asof elke terugslag my opnuut na drank wou laat gryp, na dít wat my net vir ’n oomblik beter sou laat voel. Maar ek het nie. Hierdie keer het ek oorwin.” 

Rudi Claase
Rudi in die hospitaal om EEG-toetse te ondergaan nadat hy in Mei ’n beroerte beleef het wat hom “lam en stom” gelaat het. Foto: Verskaf

Dié inplanting, vertel die sanger, was sy laaste poging om “totale selfvernietiging” af te weer nadat drankmisbruik byna sy lewe verwoes het.

“Ek moes hard met myself baklei. Daar was tye dat ek aan niks anders as drank kon dink nie.”

En dit nadat hy homself beloof het hy nooit weer in ’n verslawing vasgevang sou word soos toe dwelmmisbruik sy lewe agt jaar gelede oorheers het nie. 

“Ek was gelukkig getroud en my persoonlike lewe het gedy,” sê Rudi oor sy huwelik van die afgelope vyf jaar. “Maar tog was ek daarop uit om myself te vernietig. Ek moes iets doen – en ek het.” 

Die inplanting het ’n einde aan sy drankmisbruik gemaak, beklemtoon hy. “O, ek was lus!” erken hy. “Maar ek het besef te veel drank sal my hierdie keer nie laat slaap nie – dit sal my in die waakeenheid laat beland. 

“Eers het die vrees oorwin, en toe ek. En ek het nog nooit beter gevoel nie.” 

Rudi Claase
Dit was asof elke terugslag hom wou terugdryf na drank, sê Rudi. Foto: Gallo Images/Media24/OJ Koloti

My stryd teen die bottel

Dis ’n lenige Rudi wat ons op ’n ysige winterdag in Benoni aan die Oos-Rand in die voorportaal van sy dubbelverdiepinghuis kom groet. 

Hy het die afgelope jaar 25 kg afgeskud. “Ek het geweet drank eis ’n tol van my gesondheid en kreatiwiteit, maar nooit besef dis ook die sondaar agter die ekstra kilogramme nie,” vertel hy.

Al is dit vir hom moeilik om openhartig oor sy drankverslawing te praat, doen hy dit in die hoop dat sy verhaal ander sal inspireer, sê Rudi. “Ek weet ook hoeveel ander mense teen dieselfde verslawing stoei.”

Sy stryd teen die drankduiwel het sowat vyf jaar gelede “onskuldig” begin met ’n glas wyn wanneer hy soggens begin werk. Sonder drank het hy nie kreatief gevoel nie.

“Dit was asof ek nie kon funksioneer wanneer ek nie al om tienuur ’n glas wyn skink nie,” sê hy. “Ek het nie besef dit sou nie by een glas bly nie.” 

In die maande daarna het Rudi wyn vir sterker drank – vodka of tequila – verruil.

“Ek gebruik al jare lank gemoedstabiliseerders en medikasie vir bipolêre gemoedsteuring, maar in ’n stadium het dit eenvoudig ophou werk. Ek weet ek moes my psigiater gaan spreek het, maar ek het nie. Vir my het die antwoord in drank gelê.

“Suzette was soggens net by die hek uit, dan gooi ek my eerste dop. Teen twaalfuur het ek dan gewoonlik al ses groot glase wit drank agter die blad gehad. Ek sou ure lank amper bewusteloos lê en my roes afslaap.” 

Suzette, ’n sakevrou, beaam dit. “Ek kan nie onthou hoeveel weekmiddae ek Rudi halfdronk en aan die slaap gekry het met my tuiskoms nie.”

Maar hy help haar reg: “Ek was nie aan die slaap nie, Bokkie. Ek was dronk en passed out. Finished en in my glory in gedrink.” 

Sy was doodbekommerd, sê Suzette, maar sy het probeer verstaan. “Ek het geweet hy drink om te probeer beter voel, dalk selfs om te ontvlug van sy depressie en eie negatiewe emosies.”

Dit was asof hy voortdurend minderwaardig gevoel het, erken Rudi. “Maar wanneer ek gedrink het, kon ek niks voel nie.”

Wanneer hy soggens siek wakker geword het van die vorige dag se gefuif, het hy bloot meer gedrink. 

“Die oggende was die swaarste,” erken hy. “Ek was nugter en het myself gehaat. Ek het besef ek het weer in verslawing verval – dieselfde verslawing wat al geliefdes se lewe gesteel het. Maar die ontnugterende gedagte was te pynlik. Ek wou vergeet en het net weer begin drink.” 

Suzette het probeer ingryp. “Ek het altyd gewag tot hy nugter is,” onthou sy. “Om te baklei sou nie gehelp het nie. Ek sou altyd vir hom sê hoe verskriklik erg sy verslawing werklik is, dat hy hulp nodig het.” 

Rudi Claase
Suzette sê sy was doodbekommerd oor haar man nadat sy hom baie middae byna bewusteloos tuis aangetref het. Foto: Gallo Images/Media24/OJ Koloti

Rudi raak aangedaan. “As Suzette nie help briek aandraai het nie . . . Ek weet nie of ek nog sou geleef het nie.”

Teen die einde van 2019 het hy een oggend weer woedend vir homself wakker geword, onthou Rudi. Dit was die keerpunt in sy stryd teen verslawing. 

Hy het ’n mediese kenner geraadpleeg wat in verslawing spesialiseer en het die inplanting teen drankmisbruik kort daarna ontvang. 

Rudi waag ’n grappie: “In rehab sou ek in elk geval net nuwe maats ontmoet saam met wie ek kon suip. Die inplanting was ál manier.” 

Hy sou daarna die uitdagings van die lewe sonder drank die hoof moes bied – en dit in die strawwe jaar dat die covid-19 toegeslaan het. Daarby het die een gesondheidskok ná die ander op hom gewag.

In Februarie verlede jaar het dokters eers gedink hy het moontlik keelkanker, maar dit het later geblyk sy keel is “rou gesing” weens ’n skeur aan sy diafragma. Dié is later met ’n operasie reggestel.

In Mei vanjaar het Rudi weer in die hospitaal beland nadat ’n beroerte hom “lam en stom” gelaat het. Sy spraak is aanvanklik aangetas, en hy is steeds ’n bietjie vergeetagtig en onvas op sy voete.

Dit het alles sy tol geëis in die hartjie van ’n pandemie wat sy inkomste uit optredes feitlik laat opdroog het. 

“Ek gaan nie vir jou jok en sê ek wou nie weer na drank gryp nie. Ek wou, keer op keer. Daar is dae dat ek steeds aan drank dink as die enigste uitweg,” erken Rudi.

Tog is hy seker dat hy dié keer sy verslawing baasgeraak het. “Ek weet nou dat ek nooit weer alleen sal wees nie – dat daar ander is wat sukkel en dat hulp om die draai is.”

Daar is ’n besliste klank in die sanger se stem toe hy byvoeg: “Ek het nou ’n tweede kans om voluit te leef en ek sal nie verslawing weer ’n vastrapplek in my lewe gee nie.”

’n Inplanting teen verslawing

Die inplanting teen alkoholmisbruik verwys eintlik na die chirurgiese gebruik van Disulfiram, ’n middel teen chroniese alkoholverslawing, sê dr. Wessel Vermeulen, ’n algemene praktisyn van Oudtshoorn in die Wes-Kaap met kennis oor behandelingsmetodes vir middelmisbruik.

Pleks daarvan om ’n middel soos dié mondeliks in te neem, word dit in ernstige gevalle onder die vel ingeplant. “Jy kan daarom nie besluit om te drink en eenvoudig nie jou medikasie te neem nie,” verduidelik Wessel.

Die middel word stelselmatig in die bloedstroom vrygelaat en veroorsaak ’n akute sensitiwiteit vir etanol (alkohol). Daarom is daar ernstige newe-effekte soos braking as jy wel sou drink. Die misbruik van alkohol ná die toediening van die middel kan selfs dodelik wees.

So ’n inplanting is nie “algemene praktyk” nie, sê Wessel. “Disulfiram is ’n art. 21-middel – dit beteken ’n spesialis moet spesiale toestemming by die gesondheidsminister kry om dit toe te dien.”

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op FacebookTwitterInstagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe