Bekommerde aanhangers van die sanger het hulle verlede week na sosiale media gewend nadat Rudi in meer as een plasing verwys het na ’n siekte wat hom “nie sal onderkry nie”.

Op Instagram skryf die sanger: “Hierdie siekte sal my nie onderkry nie. Ek is dalk vir ses maande buite aksie, maar ek sal soos ’n orkaan terugspring en beter wees as ooit tevore.”

Maar ná bekommerde aanhangers oor sy gesondheid uitgevra het, het Rudi op Facebook laat hoor: “(Daar is) niks om oor te stres nie . . . Ek gaan net so ’n bietjie rus en recharge.”

Die sanger verwys na ’n MRB-skandering vroeg vanjaar wat bevind het dat ’n klep wat suur van sy maag na sy slukderm vervoer, heeltemal weggebrand is. Die gevolg is ’n bloederige keel wat konstant seer is – en dit beteken die sanger ervaar baie pyn wanneer hy wel probeer sing.

Hy het in Januarie gesê die mantelvliesbreuk is so groot dat dit amper ‘die helfte van my maag deur my diafragma gedruk het’.

Rudi is weens hierdie mantelvliesbreuk byna daagliks in “vreeslik baie pyn”, sê die sanger se vrou, Suzette Claase.

“Die dokters het vir hom gesê hy moet drie maande lank medikasie neem om sy keel eers weer gesond te kry,” vertel Suzette.

“Die enigste manier wat hulle hom kan help, is deur binneaarse behandeling en inspuitings – alles wat hy nou in die hospitaal kry.”

Foto: Facebook (Suzette Claase)
Foto: Facebook/Suzette Claase

Die sanger ervaar veral baie pyn omdat hy nie pynmedikasie mag neem nie – dokters waarsku glo dat dit sy herstelproses sal vertraag.

Pynmedikasie kan glo ook daartoe lei dat sy gesondheidstoestand nog verder versleg.

Hy het in Januarie vanjaar aan aanhangers gesê die mantelvliesbreuk is so groot dat dit amper “die helfte van my maag deur my diafragma gedruk het”.

Toe het die sanger ook gesê hy ervaar geweldig baie pyn. 

“Hy gaan einde April vir sy tweede gastroskopie om te sien hoe sy keel lyk, en dan kan dokters opereer. Die dokters het bevestig dat alles weer 100% sal wees na die operasie.” 

Suzette sê dit gaan goed met Rudi ongeag die uitdagings met sy gesondheid. 

“Sy gemoed is eintlik goed,” vertel sy.

“Hy raak ’n bietjie geïrriteerd omdat hy nie mag sing nie, maar hy is baie gelukkig met die dokter. Hulle voorsien geen probleme na die operasie as hy nou na homself kyk nie.”