As hy net dink aan hoe tragies die voorval kon eindig . . . 

“Dis skokkend – en hartverskeurend. ’n Mens voel kompleet in ’n toestand omdat jy weet sy kon dood gewees het. Wat sou ek sonder haar doen? Ek is vreeslik kwaad,” vertel die sanger Woensdag aan Huisgenoot

Vier mans het glo Maandag (2 September) buite die sanger se suster, Anzel Visser (43), se meenthuiskompleks stilgehou toe sy pos uit die poshokkies – wat in die oprit buite die komplekshek is – gehaal het. 

Rudi vertel twee mans het uit die motor gespring, op Anzel afgepyl en ’n mes teen haar keel gedruk. Nog twee het in die luierende motor gewag.

“Hulle het haar in die oë gekyk en gesê: ‘Vandag sny ons jou keel af . . .’ Sy was angsbevange en het geskree, maar dit het hulle nie verhinder nie.”

Die aanvallers het twee goue armbande en ’n halssnoer van haar arms en nek afgeruk. 

“Hulle het haar juwele met soveel geweld afgeruk dat haar arms vol bloed was. Sy het in die proses ook ’n wond aan haar nek opgedoen: Die juwele moet versigtig oopgeknip word, maar hulle het dit van haar lyf afgeruk met ’n mes teen haar nek – dit alles vir drie stukke juwele,” sê hy skor.

Rudi Claase
Rudi Claase. Foto: Verskaf

’n Tuinwerker het glo in die tussentyd gesien wat gebeur en oorverdowend begin gil. Die aanvallers het hierna op die vlug geslaan.

Rudi sê Anzel het haar balans verloor toe die aanvallers in hul motor weggejaag het en die motor haar skrams getref het. Sy is na die hospitaal geneem vir ’n ondersoek, maar is dieselfde dag nog ontslaan.

“ ’n Mens kan nie glo sulke dinge gebeur nie. Gewoonlik gryp sy sommer die pos uit die hokkies wanneer sy in die oprit staan – maar op hierdie dag het sy vergeet. Dis moeilik om sin te maak van so iets . . . 

“Maar die Here was vir ons goed. Anzel het so gegil, sy het nie eens besef sy het aan haar handsak vasgeklou en dat die aanvallers dit op die ou end van die dag nie gesteel het nie.”

Die sanger sê sy suster het onmiddellik ’n slotmaker na haar huis ontbied omdat die aanvallers ook met haar huissleutels op die vlug geslaan het.

“Sy is nou oukei, maar ek dink so iets jaag jou die res van jou lewe. Dis vir haar ongelooflik traumaties en iets wat sy waarskynlik nie sal vergeet nie. ’n Mens is kwaad – nee, jy is briesend. Jy is gevul met dankbaarheid dat sy leef, ja . . . maar ook met ’n onbeskryflike woede vir die dinge waardeur ons elke dag moet gaan.”

’n Saak van roof is by die polisie aanhangig gemaak. Niemand is nog in hegtenis geneem nie.