"Ek is verpletter," sê Anthony se ma, Yvonne Bishop, aan Huisgenoot. "Hy was so ’n wonderlike mens van binne en buite."

Die ongeluk het Maandagoggend omstreeks 10:00 in Petuniastraat in Bryanston, Johannesburg, gebeur. Anthony se meisie, Nathalie Alberts (52), het die motor bestuur. Twee ander voertuie was ook betrokke, maar hulle was die enigste mense wat noodlottig beseer is.

Anthony Bishop
Die wrakstukke van die ongeluk waarin die akteur Anthony Bishop en sy vriendin oorlede is. Foto: Verskaf

Hulle is op die toneel dood verklaar. 

Anthony is bekend vir sy rolle in die internasionale flieks District 9, Chappie en Machine Gun Preacher. Hy was ook te sien in die M-Net-dramareeks Jacob’s Cross.

Yvonne vertel dat sy eers Dinsdagmiddag omstreeks 16:00 van die ongeluk gehoor het. 

Anthony Bishop
Nathalie Alberts was die akteur Anthony Bishop se meisie en het saam met hom verongeluk. Foto: Verskaf

Vriende en familie het begin bekommerd raak toe hulle nie vir Anthony of Nathalie in die hande kon kry nie en het hulle eindelik in ’n lykshuis opgespoor. "Ons weet nie presies wat gebeur het nie, maar Anthony het blykbaar weens verskeie beserings gesterf."

Anthony en Nathalie, wat ’n onderwyseres by ’n privaat skool was, was sowat 'n jaar in 'n verhouding, vertel Yvonne. 

Anthony Bishop en sy vriendin, Nathalie Alberts het saam in 'n ongeluk gesterf. Foto; Verskaf
Anthony Bishop
Nathalie Alberts en Anthony Bishop was vir 'n jaar in 'n verhouding. Foto: Verskaf
Anthony Bishop
Nathalie Alberts en Anthony Bishop is saam in 'n motorongeluk oorlede. Foto: Verskaf
Anthony Bishop
Nathalie Alberts en die akteur Anthony Bishop. Foto: Verskaf

Yvonne beskryf haar seun as ’n sagsinnige, slim, geliefde mens. "Ons was ongelooflik na aan mekaar en het elke dag met mekaar gepraat. Ek het geweet iets is fout toe ons sukkel om hom in die hande te kry."

Anthony word Saterdag 26 Oktober gegroet met ’n roudiens in Milpark, Johannesburg. 

Anthony Bishop
Die akteur Anthony Bishop word Saterdag gegroet.

Anthony laat sy ma, Yvonne, stiefpa, Sergio de Freitas, broer, Robert, skoonsuster, Jennifer, en nefie Beauman na. Sy pa, George Bishop, is vier jaar gelede oorlede.