Ons het by ’n paar bekendes uitgevind wat hulle die meeste mis van hul lewe voor inperking. 

JAK DE PRIESTER

“Ek mis vryheid; ek besef hoe ongelooflik belangrik vryheid is,” vertel die sanger en Reis na gister-aanbieder, Jak de Priester. “Selfs al is ons hier in ons huis en dit is lekker hier en ons het genoeg ruimte en ons het baie dinge om voor dankbaar te wees, mis ek dit net om êrens heen te kan gaan wanneer ek wil,” vertel hy. 

Hy meen hy het as sanger al baie gewens hy kon sabbatsverlof neem. “Net om weer ’n bietjie perspektief te kry oor jou loopbaan.” Maar hy reken die inperking het hom herinner hoe baie hy sy optredes geniet. “Ek moet vir jou sê, ek mis dit om op die verhoog te kan gaan, my liedjies vir mense te sing. En dit is ’n wonderlike plek om op te wees in die stadium. Ek kan nie meer wag om konserte te gee nie.”

Hy mis dit ook om saam met sy vrou en kinders te gaan uiteet. “En dan mis ek natuurlik ook ’n glasie rooiwyn, want my wyn is al op.”

Maar Jak meen hy het ook intussen baie oor homself geleer.

“Kyk, ek het nog nooit so baie skottelgoed gewas en afgedroog en netjies gemaak nie. En om daardie rede is ek ook dankbaar vir die mense wat vir ’n mens werk gedurende die jaar. Ek moet sê, vir die eerste keer werk ek ook in die tuin,” vertel hy. “Dit is vir my ’n wonderlike ervaring om skielik belang te stel in die bome, in die plante, in die gras, hoe dit lyk in ons tuin.”

Jak reken hy het sy braai-vaardighede beslis opgeskerp.

“Ek het ’n expert braaier geword. Ek braai nog soos enige ander mens my lewe lank, maar ons braai nou al elke liewe dag van die lockdown; so ek is nou al so gekonfyt oor vuur maak, wanneer die kole reg is en hoe om ’n vleis te braai dat hy actually lekker is,” vertel hy. 

LEAH

Die sangeres en voormalige Boer soek ’n vrou-aanbieder Leah sê sy verlang veral na haar ma, uiteet en stappies saam met haar honde. 

En wat het sy in dié tyd oor haarself wys geword?

“Ek is toe nie te sleg in die kombuis nie en ek kan ons oprit maksimum 30 keer uithardloop,” vertel sy. 

Sy geniet die sosialemedia-platform TikTok en het al talle prettige video’s gemaak. “Ek geniet TikTok dalk te veel,” sê sy. 

ELANA AFRIKA-BREDENKAMP

Die aktrise, radio- en televisie-persoonlikheid Elana Afrika-Bredenkamp mis veral haar vryheid om buite te gaan draf. 

“Ek hardloop drie keer per week 7 km, en dit is moeilik om dit rondom die huis te doen. Sover doen ek 1,5 km om die huis,” vertel sy vanuit Johannesburg. “En dit vat nogal ’n paar keer (se om hardloop). En die honde en die kinders hardloop sommer saam.”

Elana, wat gereeld vir werk tussen Johannesburg en Kaapstad pendel, mis dit ook om naby haar ma en skoonma te wees. 

“Ek mis nie die vlugte nie, maar ek mis die mense in die Kaap, want ek is in inperking in Gauteng.”

Sy het opnuut saam met haar twee dogtertjies begin bak. 

“Ek het lank laas gebak en ek het dit nou gereeld begin doen saam met my twee dogtertjies. Ook, ek het nie besef ek het soveel geduld nie, ek het geduld om dinge om die huis baas te raak. Of dit nou is om speelgoed vir die tiende keer weg te pak en of dit is om nuwe goed te leer vir myself, my man (Ian Bredenkamp) en my kinders,” vertel sy. 

Sy sê hul gesin lees ook baie storieboeke saam. “Ek het nie besef my kinders het so baie boeke nie,” sê sy. “Ons bid ook baie. Ek het besef dat hierdie tyd ons ook geleer het om te glo. En somtyds is die lewe te besig daarvoor. Miskien is inperking ’n goeie ding as ons herinner word om tyd saam ons familie deur te bring. Dalk is dit ons purpose? Om saam met familie te wees.”

NADIA BEUKES

Die aktrise Nadia Beukes, wat swanger is met haar tweede seuntjie, sê sy mis dit om tyd saam met haar "hartsmense" deur te bring. "Ek mis ook wegneemetes en koffiekroeg-kuiers, maar ek mis ook in 'n groot mate my blonde hare," vertel sy.

"Hoewel ek eintlik 'n natuurlike blondine is, is daar deesdae aansienlik meer grys hare wat kop uitsteek. Ek is nie seker of dit weens ouderdom of COVID-19-spanning is nie, maar ek sien uit daarna om weer na 'n haarsalon toe te kan gaan," sê sy. 

Sy meen die inperking het haar laat besef dat sy meer van 'n introvert is as wat sy gedink het. 

"Dit is nie vir my sleg om by die huis te wees nie. Ek mis my ander hartsmense, maar ek hou van my man en seuntjie en die omgewing waarin ons onsself bevind," vertel sy.

Nadia se man, David de Villiers, het haar gehelp om 'n tuisateljee in te rig vir die inperking. So nou kan sy steeds video- en stemopnames van die huis af maak. "Dit stel my in staat om steeds werkgeleenthede aan te gryp," verduidelik sy. 

"Ek het ook besef ek is baie goed met wasgoed was en eet, maar stryk en oefeninge aanpak is beslis nie my sterk punte in dié stadium nie."

RIKUS DE BEER

Die Radio Raps-komediant Rikus de Beer sê hy mis dit om saam met sy pelle te kuier. “En ook om ’n bietjie uit die stad weg te kom, in die natuur. Ek het op ’n plaas grootgeword en is mal oor wild en die natuur,” vertel hy. 

Rikus meen die inperking het hom gedwing om “tegnologiese vaardighede” aan te leer sodat hy nog inhoud kan skep en dit kan aanstuur.

Rikus de Beer in sy musiekvideo saam Francois van
Rikus de Beer. Foto: Skermgreep

“En ek het agtergekom ek kan 12 liedjies in drie weke skryf. Iets wat ek nooit gedink het ek ooit sal sê of doen nie! Maar ’n mens perform onder pressure.”