Demi-Leigh Nel-Peters

Demi-leigh Nel-Peters.

As Mej. Heelal is sy gedurig op die een of ander wêreldreis. Maar maak nie saak waar Demi-Leigh haar bevind nie, daar is vyf dinge wat sy altyd in haar handsak het. “ ’n Bottel water, my foon, ’n kragbank (vir die laai van selfone en tablette), lipglans en gesigpoeier,” het sy onlangs vir Huisgenoot vertel.

Toe sy verlede maand by die New Yorkse Modeweek was, was al dié items in haar handsak.“Ek is gek daaroor om julle op die hoogte te hou van alles wat agter die skerms gebeur,” het sy op Instagram vertel met haar foon en kragbank in die hand.

Sy het ook die inhoud van die res van haar handsak op die vloer langs haar uitgegooi en aanhangers gevra wat hulle altyd in hul handsak saamdra.

Donnalee Roberts

Donnalee Roberts.

Haar vel lyk altyd glansend. En dis ook geen wonder nie, want dié aktrise maak altyd seker haar velsorgprodukte en sonroom is byderhand. Stroomop, haar en die akteur en regisseur Ivan Botha se derde fliek, word in die volgende paar weke hoofsaaklik op Onseepkans op die Namibiese grens verfilm.

Dis ’n deel van die wêreld waar temperature bo 40 °C niks vreemds is nie; daarom gaan haar sonroom met ’n sonbeskermingsfaktor van 50 ook saam op die avontuur. Toe Donnalee verlede jaar in Nederland was – daar waar Ivan haar gevra het om te trou – het sy op Instagram gedeel wat haar noodsaaklikhede is wanneer sy reis.

Buiten haar velsorgprodukte was haar beursie, koordlose oorfone, ’n boek, haar paspoort, sonbril, ’n dagboek en kamera in haar handsak gepak.

Carina Nel

Carina Nel.

Die 7de Laan-aktrise se handsak lyk dalk klein, maar sy bêre ’n hele paar items daarin. Sy lys die inhoud vir ons:

  • My selfoon en iPad sodat ek altyd en oral in verbinding kan bly en kan werk.
  • Twee kleure lipstiffie. My keuse word bepaal deur my voorkoms en bui. My ma het my geleer jy gaan nooit iewers heen sonder om iets aan jou lippe te smeer nie.
  • Kougom. Dis lekker om heeldag ’n vars asem te hê en is nuttig vir daardie onverwagte soentonele op die stel.
  • Haarknippies en rekkies. As ek warm kry, moet my hare vas wees en ’n mens het gedurig net ’n ekstra knippie nodig.
  • Suikerpilletjies.
  • My beursie om my rybewys en geld in te bêre.
  • ’n Spieëltjie vir noodgevalle en om my lipstiffie reg aan te wend.
  • My Fitbit-toestel vir as ek gim toe gaan of my treë vir die dag wil tel.
  • Handeroom.
  • My sonbril.
  • ’n Klein naaldwerkstel vir daardie noodgevalle wanneer ’n gat iewers dringend moet toe.

Kate Roothman

Kate Roothman.

Anders as Anna, haar Getroud met Rugby-karakter, dra Kate selde grimering.

’Ek dra selde grimering, maar ’n mens weet nooit wat kan voorval nie’ – Kate Roothman

 “Maar ’n mens weet nooit wat kan voorval nie,” sê sy tog; daarom het sy altyd maskara en BB-room (’n alles-in-een-produk wat onderlaag en bevogtiger insluit) in haar handsak. Klamlappies, parfuum en vlos is ander noodsaaklikhede wat sy byderhand hou.

“Ek ly ongelukkig aan asma; daarom is my asmapompie ook altyd by my.”

Charlize Berg

Charlize Berg.

Die sangeres is nou 32 weke swanger en in dié stadium gaan ’n groot bottel Gaviscon oral saam met haar.

“Dis op die oomblik my redding. As sangeres het ek nog altyd sooibrandprobleme gehad, maar vandat ek swanger is, het dit duisend keer vererger.”

Haar sonbril kom nie net goed te pas vir daardie dae dat sy geen grimering wil dra nie, “maar vandat ek swanger is, is my oë baie sensitief en so ’n bietjie swakker; daarom is my sonbril altyd byderhand.

“Daar’s baie kieme daar buite; om my hande skoon te hou, het ek altyd handreiniger by my – veral wanneer ek iewers heen reis of vlieg.

Ek voel sommer net varser wanneer ek dit klaar gebruik het,” sê Charlize. En wat is nou mooier as geverfde lippe? “Om ’n lippie aan te sit verfris sommer jou hele voorkoms.”

Zetske van Pletzen

Zetske van Pletzen.

Zetske is ’n bedrywige aktrise, ontwerper van haar eie klerereeks, vrou van die Getroud met Rugby-akteur Altus Theart en ma van hul eenjarige seuntjie, Alexander. Wat dra so ’n bedrywige vrou in haar handsak rond? Sy het ons laat weet:

  • ’n Bottel water.
  • My sonbril.
  • Lipglans.
  • ’n Haarrekkie. Ek raak vinnig geïrriteerd as my hare in my gesig hang.
  • My beursie.
  • Sonroom, wat ek dan sommer ook as handeroom kan gebruik.
  • My selfoon.

Foto’s: Gallo Images/Getty images, Instagram, Verskaf