Bennie Fourie

Bennie Fourie.

Die toneel wat vir die akteur en regisseur Bennie Fourie uitstaan, is een uit die regisseur Quentin Tarantino se rolprent Pulp Fiction.

Dis waar John Travolta en Samuel L. Jackson se karakters op pad na ’n sluipmoord stry oor hoe sensueel ’n voetmassering is.

Samuel L. Jackson en John Travolta in Pulp Fiction.

“Die dialoog is skerp en die kontras van die absurde, rustige gesprek wat hulle het net voor hulle ’n sluipmoord moet pleeg, is baie komies,” sê Bennie, wat te sien is as Kevin in die rolprent Vuil Wasgoed. “Ek sal ook graag op die stel wil wees saam met Quentin Tarantino en Samuel L. Jackson.”

Christia Visser

Christia Visser kies ’n toneel uit Moulin Rouge! waarin die kyker die eerste keer die karakter Satine, gespeel deur Nicole Kidman, ontmoet. Sy sing die liedjie Diamonds Are a Girl’s Best Friend.

Nicole Kidman as Sa­tine in Moulin Rouge!

“Ek sou Satine wou speel, want sy sing, dans en speel toneel,” vertel Christia, wat nou as Addie in die kykNET-dramareeks Knapsekêrels te sien is.

“Aan die einde van die openingstoneel stik sy weens haar siekte (longtering) en val flou. Alles word dan vir ’n oomblik tjoepstil. Die toneel is vol lae, dis raaiselagtig en ek is gek daaroor.”

Erica Wessels

“Een van my gunstelingfilms is Babel, waar Alejandro González Iñárritu in die regisseurstoel sit,” vertel Erica Wessels.

Brad Pitt en Cate Blanchett in Babel.

“Ek ervaar die rol wat Cate Blanchett in die film vertolk as ongelooflik treffend. Daar is ’n versoeningstoneel waarin sy en Brad Pitt, wat haar man speel, mekaar weer vind. Waar hulle mekaar weer ‘sien’, asof dit die eerste keer is, en mekaar vergewe ná die dood van hul kind. Dis ’n toneel vol kwesbaarheid. En dis so mooi.

“Ek hou van films waarin die kompleksiteit en wese van menslike gedrag ondersoek word. Die waarheid van hoe kwesbaarheid verbind is aan intimiteit. Dis vir my ontsettend mooi en treffend.”

Odelle de Wet

Odelle de Wet.

Die toneel wat by Odelle de Wet opkom, is die een waarin die aktrise Nicole Kidman in haar vertolking van die Britse romanskrywer Virginia Woolf in die prent The Hours in die rivier instap om haar lewe te beëindig.

“Sy vul haar jas se sakke met klippe, en net soos haar kop onder die water verdwyn, is daar daardie breukdeel van ’n sekonde tussen bo en onder, lewe en dood, realiteit en ontsnap,” vertel Odelle.

“Ek wonder altyd wat mense tot selfdood dryf; wat in hul gedagtes aangaan. En bowenal wonder ek wat hulle tussen daai oomblikke van lewe en dood beleef. Wanneer die terugdraai te laat is: Is daar angs, sekerheid, en hoe voel die wete dat die dood gaan intree?” sê-vra Odelle, wat tans as die tronkbewaarder en Mynie (Armand Aucamp) se suster in die kykNET-dramareeks Knapsekêrels te sien is.

“Ek dink ons moet in Suid-Afrika meer fokus op mense se ervaring van doodgaan en dit nie altyd wegpraat nie, maar hulle eerder probeer help en verstaan. Ons sal almal daardeur gaan – of ons wil of nie, of ons dit kies of nie.”

Edwin van der Walt

Edwin van der Walt.

Die hartseer toneel waarin Lee, gespeel deur Casey Affleck, in die rolprent Manchester by the Sea afkom op sy huis wat brand, staan vir Edwin van der Walt uit.

“Hy sien hoe dit besig is om af te brand en sy kinders is nog almal daar binne. Dis ’n donker toneel, maar ek dink dit moes een van die uitdagendste tonele nog wees,” meen Edwin, wat in April te sien is as Pieter, hoofkarakter in die rolprent Wonderlus.

Kyle Chandler (links) en Casey Affleck as die broers Joe en Lee Chandler in Manchester by the Sea.

“Dis ’n hartverskeurende toneel, maar tog iets wat soveel mense al ervaar het (om jou kinders aan die dood af te staan). Om dit dan so eerlik moontlik te probeer speel is iets wat my aantrek. Die dood is ’n oomblik wat ons elkeen die een of ander tyd gaan ervaar en waaroor ons nie sommer kan voorspel hoe ons gaan reageer nie. Dis sulke oomblikke in films wat my aangryp.”

Kaz McFadden

Bietjie gaan foto-foto met @margaux_cronje_photography vandag!!

A post shared by Kaz McFadden (@kazmcfadden) on

Kaz McFadden sê hy sou wat wou gee om die toneel te verfilm in Hacksaw Ridge waarin die hospitaalsoldaat Desmond Doss met ’n hyserstelsel van ’n slagveld onttrek word. Die akteur Andrew Garfield vertolk die rol.

“Desmond is ’n eenvoudige mens met ’n eenvoudige waardestelsel; tog is sy emosies nie eenvoudig nie,” vertel Kaz.

Tonele van Andrew Garfield as Desmond Doss op die slagveld in Hacksaw Ridge.

“Om ’n karakter daardie soort diepte te gee en die balans te probeer vind met sy waardestelsel is ontsaglik moeilik om te begryp. Die toneel speel aan die einde van die film af, ’n punt waar ’n mens ’n gebroke karakter sal sien. Maar wat die toneel so interessant maak, is dat Desmond dit as ’n ruspunt beskou, nie ’n eindpunt nie. Hy vind vrede; hy beskou homself nie as ’n held of slagoffer nie. Tog het hy dinge ondervind en deurgemaak wat vir die deursneemens absoluut grotesk is.”

Foto’s: Martin de Kock, Eric Uys, Margaux Cronjé, Instagram, Facebook