Hulle is die kinders van seker die planeet se mees geseënde egpaar wat genetika betref, en die wêreld kon nie wag om te sien hoe hul tweeling lyk nie. En nou, net mooitjies ’n jaar ná hul geboorte, kry ons hulle die eerste keer te sien.

Daar was al hier en daar ’n glimpie van Alexander en Ella Clooney, maar hier is hulle eindelik duidelik vasgevang deur die kameralens. Olyfkleurige velletjies, donkerbruin babakrulletjies en die oulikste gesiggies – is hulle nie te pragtig nie?

George en Amal Clooney en hul tweeling is afgeneem toe hulle in Sardinië, Italië, land, waar George skiet aan sy nuwe reeks.

George (57) en Amal (40) Clooney het tot nou toe nog baie seker gemaak die alomteenwoordige paparazzi neem nie hul kleingoed af nie, maar as jy so beroemd is soos hulle, sal jy dit nie vir altyd regkry nie.

Die akteur en die internasionale menseregteadvokaat is afgeneem waar hulle op die sondeurdrenkte Italiaanse eiland Sardinië aankom. Elk het ’n kaalvoetkindjie onder die blad gehad toe hulle afstap van hul privaat straler.

Die hele gesin het kameragereed gelyk met die tweeling in opgerolde jeans en wit frokkies en pappa in ’n wit polohemp en beige chino. Hy het eers afgeklim om blad te skud met die grondpersoneel voor hy teruggeklim het om te help dra.

Mamma het – soos altyd – soos ’n model gelyk in haar wit frokkie en turkoois klokbroek met bont blomme, so reg uit die tyd van die hippies.

Haar enigste bykomstigheid was ’n kind op die heup. Dit was nie heeltemal duidelik wie is wie nie. Die een wat deur Amal gedra is se hare was effens langer, dus was dit moontlik sussie Ella, wat twee minute jonger as haar ouboet, Alexander, is.

Ella en Alexander het verlede maand een geword, en die groot mylpaal is buite die openbare oog gevier. George het natuurlik in die media daaroor grappies gemaak. “Wel, die kinders het dronk geword,” het hy aan Us Weekly gesê.

“Ek weet nie wat julle ouens gedoen het nie, maar toe ek by die huis kom, het hulle ’n bottel drank beetgehad.

“Dit was ’n groot verleentheid, maar hulle voel vandag beter.”

Lawwe kêrel, maar hul vriende sal jou vertel George is so trots soos enige pa en pluk graag sy foon uit om te spog met foto’s van sy kleingoed.

En dis presies wat hy gedoen het by ’n onlangse Casamigos House of Friends-ete in Los Angeles. Hy was hier saam met sy vriend Rande Gerber en dié se supermodelvrou, Cindy Crawford.

“George het ’n skreeusnaakse storie vertel van hoe hy en Amal die toiletdeksels moet toehou vir die tweeling se onthalwe, en toe begin hy sy vriende foto’s van hulle wys,” het ’n gas vertel. Die Hollywood-hartebreker gebruik selfs ’n foto van die tweetjies as die agtergrondprent op sy selfoon.

“George het gespot dat die babas soos modelle is en hy nooit vir hulle hoef te wys hoe om te poseer nie, want hulle doen dit so natuurlik. Hy klink na die trotsste ouer in die wêreld en kon net nie ophou foto’s wys of oor hulle praat nie.”

George se ouers, Nick en Nina Clooney het ná hul seun, skoondogter en kleinkinders uit die vliegtuig geklim, gereed vir die son, see en saligheid van Sardinië.
Amal het ’n einatoppie en wye­pypstreepbroek gedra.

Korty ná die verjaardagpartytjie was George en Amal terug op die rooitapyt by die Dolby-teater in Los Angeles vir die prysuitdeling van die Amerikaanse Filminstituut.

Weer was Amal in die kollig, maar dié keer nie oor haar uitrusting (’n glinsterende kaalskouertabberd van Prada) nie; sy het ’n toespraak gehou voor haar man se prys aan hom oorhandig is – die filminstituutprys vir sy lewensbydrae. Dit is die hoogste eer vir ’n loopbaan in die rolprentbedryf.

En ondanks die feit dat sy ’n topadvokaat is wat al sake in howe oor die wêreld heen behartig het, het Amal taamlik senuagtig gelyk toe sy na die podium stap.

Maar toe sy eers begin praat, was almal se oë op haar vasgenael, veral dié van haar man, wat mateloos trots op haar gelyk het. Vir die eerste keer het die wêreld ’n kykie gekry van haar liefde vir haar aantreklike man.

“Toe die instituut my vra om vanaand te praat, het ek gedink: ‘Natuurlik,’ ” het sy in haar Britse aksent gesê.

“Maar ek . . . George weet ek was nogal senuagtig hieroor.

“Op ’n manier is dit makliker om ’n hof toe te spreek oor ’n aangehoudene as om oor my man te praat soos ek vanaand vir die eerste keer doen.”

Maar toe sy eers begin ontspan, het sy haar hart oopgemaak en haar privaat gevoelens gedeel: “Ek het George ontmoet toe ek 35 was en net gewoond geraak het aan die idee dat ek ’n oujongnooi gaan word,” het sy gespot.

“Toe het ons begin uitgaan en weggekruip in my Londense woonstel, en baie gou het dit begin voel al gebeur wat ook al, sal ek nooit weer by enigiemand anders wil wees nie.

“Ek kon nie slaap wanneer ons apart was nie, en mense het vir my gesê ek kantel my kop op ’n sekere manier en kry so ’n glimlaggie wanneer ek sy teksboodskappe of die briewe lees wat hy in my handsak weggesteek het.”

George (heel links) op die stel van die TV-reeks Catch-22, gegrond op die boek deur Joseph Heller. Hy vertolk die hoofrol.

Dis vyf jaar sedert die twee mekaar op ’n partytjie ontmoet het wat die Ocean’s 11-ster by sy huis langs die Comomeer in Italië aangebied het. ’n Halwe dekade en twee kinders later het niks verander nie, het Amal gesê.

“Hy is die mens wat ek totaal bewonder, en hy is ook die mens wie se glimlag my elke keer laat smelt.

“My lief, wat ek saam met jou gevind het, is die groot liefde wat ek altyd gehoop het bestaan. En om jou saam met ons kinders, Ella en Alexander, te sien is die grootste vreugde in my lewe.

“Jy vul ons huis met laggery en geluk, en dis nog voor die kinders gesnap het dat pappa eintlik Batman is, en ’n pratende jakkals en vriende met Mary Poppins.

“Ek is trots op jou en weet as ons kinders uitvind wie jy is, sal hulle ook trots wees op jou.”

Dit lyk asof Sardinië die Clooneys se tuiste is vir die res van die somer in die Noordelike Halfrond. George was op die eiland om te skiet aan sy nuwe minireeks, Catch-22, wat gegrond is op die roman deur Joseph Heller oor ’n bombardier in die Tweede Wêreldoorlog.

Dae ná die paartjie en hul kinders aangekom het, is Amal afgeneem toe sy ’n tweede keer in Sardinië aanland nadat sy vermoedelik vir werk weg was.

Dié keer was haar skoonouers, Nina en Nick Clooney, saam met haar op die vlug. En dieselfde aand het haar ma, Baria Alamuddin, geland nadat sy Sardinië toe gevlieg het op ’n kommersiële vlug. Die groep is later die aand na die gewilde restaurant Il Marino di Puntaldia.

‘Hy is die mens wat ek totaal bewonder en wie se glimlag my elke keer laat smelt’.

Die stylvolle ma en dogter het weer nie teleurgestel nie: Baria, ’n gerekende politieke joernalis, het aandag getrek in ’n groen slooprok, terwyl Amal haar magie gewys het in die kleinste swart toppie en die mooiste wyepypbroek met swart en wit strepe.

Tussen die werk deur het George en vroulief Amal seker tyd gekry vir ’n bietjie uitgaan, want daar was mos twee oumas en ’n oupa om te help kind oppas.

George is vol bewondering vir sy vrou, en hoewel hy self al jare betrokke is by humanitêre sake, sê hy hy is ’n amateur en sy die professionele een. Amal was onder meer ’n adviseur oor Sirië vir Kofi Annan, sekretaris-generaal van die Verenigde Nasies.

Ouerskap en werkverpligtings het nie die paartjie se passie vir menseregte laat verflou nie. Hulle is sedert Alexander en Ella se geboorte meer polities bewus as ooit.

Nadat die Amerikaanse owerheid onlangs sowat 2 000 kinders van hul ouers geskei het by die Mexikaanse grens, het die Clooney-egpaar R1,4 miljoen aan ’n sentrum vir immigranteregte geskenk.

Amal het op die oorhandiging gepraat.
George en Amal, in pienk Prada, by die Amerikaanse Filminstituut se prysaand.

“Êrens in die toekoms gaan ons kinders ons vra: Is dit waar? Het ons land regtig babas van hul ouers weggevat en hulle in aanhouding gesit?” het die egpaar in ’n verklaring gesê.

“En as ons ‘ja’ sê, sal hulle vra wat ons daaraan gedoen het, wat ons gesê het, wat ons standpunt was.

“Ons kan nie die regering se beleid verander nie, maar ons kan die slagoffers van die beleid help verdedig.”

Alexander en Ella is dalk met die spreekwoordelike silwerlepel in die mond gebore, maar met ouers soos hulle s’n, lyk dit asof hulle geleer gaan word hoe om hul gawes te deel.

BRONNE: HARPERS BAZAAR, THE MIRROR, VOGUE, HELLO!, PEOPLE, US WEEKLY, ETONLINE, THE SUN, PAGESIX