Dit kom nadat die platereus Universal Music vroeër vandeesweek ondersoek ingestel het na bewerings dat ’n man hom glo as die besprekingsagent van Early B – of eerder Earl Swartz – voordoen.

Christien de Klerk, ’n bestuurder by Universal Music, het Donderdag aan Huisgenoot gesê die platemaatskappy is bewus van die een voorval waar ’n onbekende man die Laerskool Cloetesville uit minstens R7 000 bedrieg het.

“Ons het van die voorval bewus geword toe ons plakkate vir Early B se verskyning by die skool sien wat versprei word,” sê De Klerk.

Early B
Foto: Facebook

“Ons het onmiddellik met die skool in verbinding getree, waarna hulle vir ons gesê het ’n DJ van Port Elizabeth het hulle kontak, hom as die sanger se agent voorgedoen en toe geld uit die skool geswendel.”

Leozelle Bekker, Early B se besprekingsagent, het vroeër vandeesweek ’n waarskuwing oor die voorval op Facebook geplaas.

Hierin sê Bekker: “Jammer aan die mense wat hierdeur geraak is; ons is besig met verdere ondersoek. Let asseblief daarop dat bookings (sic) slegs deur UMG Live by Universal Music South Africa gaan. Wees asseblief versigtig.”

Early B
Foto: Facebook

Die platemaatskappy sê Early B het vandeesweek besluit om tog ’n verskyning op Cloetesville te maak omdat die skool die slagoffer van bedrog was.

“Hy wil graag gaan 'hallo' sê en dan sommer 'n bietjie met die kinders en onderwysers praat omdat hy voel wat gebeur het, is nie hulle skuld nie. Dit gebeur so maklik – en dit kan weer gebeur. Daarom moet mense versigtig wees,” sê De Klerk.

Early B se album Aangename Kennis is in Augustus verlede jaar uitgereik. Hy is veral bekend vir die treffers Cerebellum, Potte en Ben Ten en het al saam met groot name soos Emo Adams, HemelBesem, Adam en Pierre Rossouw gewerk.

Laerskool Cloetesville wou by navraag van Huisgenoot nie kommentaar lewer nie.