Met bewusmaking van geweld teen vroue en kinders wat onlangs weer in die sosiale media vlam gevat het, is dié dag ’n geleentheid waar vroue hul stemme laat hoor en vrouwees vier. 

Ons gesels met bekende plaaslike vroue om uit te vind presies wat vrouwees en hierdie spesiale dag vir hulle beteken.  

Jawaahier Petersen 

View this post on Instagram

Here's to us #34 May we live better, do better, be better. #BirthdayGirl #Capricorn #ameen

A post shared by Jawaahier Petersen (@jawaahier) on

“Vrouedag is elke dag – ek leef die werklikheid en krag wat met vrouwees gepaardgaan, maar ook die vrees, druk en uitdagings. Voeg by al die balle wat ek in die lug het: die uitdagings van ma-, ’n werkende vrou en in die publieke oog wees,” sê Jawaahier. 

Die aktrise, wat die rol van Kaashifa Mansour in die kykNET-sepie Suidooster vertolk, is onder die bekende plaaslike vroue wat haar stem laat hoor het teen geslagsgeweld in Suid-Afrika.

“Ek staan trots op die skouers van al die vroue wat voor my gekom het en vier hul opofferings en die pad wat hulle vir vroue gelyk gemaak het om die ruimte op te neem wat vroue vandag doen,” sê sy. 

Jawaahier meen die werk van vroue is ver van klaar, maar sê dat hulle inderdaad reeds baie ver gekom het. “Vroue bring lewe in die wêreld.

"Ons moet eienaarskap neem van ons krag en vir mekaar opstaan. Ons moet saamstaan," vertel die ma van twee.

“Vier vroue is sterker as een, ’n duisend vroue is sterker as vier en 1 miljoen is sterker as ’n duisend,” het sy roerend in ’n vorige onderhoud laat hoor.

Jolene Martin 

Jolene Martin
Jolene Martin Foto: Xavier Saer

Vir die aktrise Jolene Martin was inperking en self-isolasie ’n baie kragtige ervaring as vrou.

Dié pragtige aktrise, wat die rol vertolk van Beatrice Abrahams, die stemmige hoof van die fiktiewe Höerskool Arendsvlei in die telenovelle Arendsvlei, meen dat sy haarself in die tydperk geleer het dat als wat sy nodig het, reeds binne haar is. 

“Ek was gedwing om my eie pastoor, afrigter, dokter, beste vriend, vermaak en sjef te wees. Voor die inperking sou ek gesê het om vrou te wees beteken om dapper en ’n vegter te wees, maar inperking het my ’n sagter, vrouliker kant van myself geleer, met geen dreigement dat ek uitgebyt gaan word nie,” sê sy.

Die lesse was vir haar die grootse seën, sê Jolene. “Ek wou altyd ’n heel vrou wees, ’n vrou wat vurig sowel as vroulik kan wees, nes al die ander vroue in my familie.

“Vandag vier ons al die sterk vroue: Mag ons hulle ken, mag ons hulle wees en mag ons hulle grootmaak.” 

Aletté-Johanni Winckler 

“Daar’s ’n lekkerte aan vrouwees,” laat Aletté vrolik hoor. Dié voorkomskonsultant en stilis meen dis ’n ware voorreg om ’n vrou te kan wees. En as sy tussen die twee geslagte moes kies, is sy baie dankbaar dat sy ’n vrou is. Uit die aard van Aletté se beroep, is sy mal daaroor om vroue mooi te maak.

“Daar is soveel dinge wat vroue kan doen om hulself mooi te maak en hulself beter te kan laat voel. Mans kan ook dinge doen, maar vroue het meer opsies,” laat sy grappig hoor. 

Een van die groot voorregte vir dié trotse ma van vier is dat sy kinders in die wêreld kon bring. Aletté en haar man, die sanger Heinz Winckler, het drie seuns, Lian (9), Simeon (7), Reuben (5), en 'n ses maande oue babadogtertjie, Alannah. 

“Om geboorte te kon skenk was ’n lewensveranderende ervaring wat ’n man misloop. Ja, ek is nie ’n feminis nie en glo albei geslagte het hul doel in die samelewing, maar daar is beslis net ’n lekkerte aan vrouwees,” sê Aletté. 

Clare Wiese-Wentzel

Clare Wiese-WentzelFoto: Marguerite Oelofse

Clare Wiese-Wentzel bied haar eie mooimaakreeks, Mooimaak met Clare Wiese-Wentzel, aan. Sy vertel sy is mal oor vrouwees en vier dit elke dag.

“Ek omhels my sagter, emosionele en soms sensitiewe kant en sien dit as ’n superpower eerder as ’n broosheid. Ons leef juis in ’n wilde wêreld wat koestering, vriendelikheid en deernis dringend nodig het,” sê Clare.

Vir dié glansvrou is daar niks so kragtig soos vroue wat mekaar ondersteun nie.

“As vrou is ons so baie dinge vir soveel mense, maar daar is niks so kragtig soos vroue wat mekaar motiveer, inspireer en ondersteun om die beste weergawe van hulself te word en enige berg uit te klim nie,” vertel die beeldskone Clare.

“Ayn Rand het gesê: “The question isn’t who is going to let me; it’s who is going to stop me.”

Marguerite van Eeden

Marguerite, wat die hoofrol in Huisgenoot se tweede fliek, Vergeet my nie, vertolk en as Alex te sien was in die kykNET-regsdramareeks Fynskrif, meen in die tyd van covid-19 moet vrouwees nie geromantiseer word nie. Marguerite voel daar moet eerder gekyk word na geslagsgeweld en hoe vroue daardeur geraak word en wat dit vir hul vrouwees beteken. 

“Dis ’n voorreg om ’n vrou te wees, wel vir die oppervlakkige redes dat ek mooi kan aantrek en ’n koffie saam met ’n vriendin kan gaan drink,” sê sy. Maar Marguerite meen die onus rus op alle vroue om geslagsgeweld aan te pak, veral in die tyd van inperking en die coronavirus in Suid-Afrika. 

“Met covid-19 was die land spoedig gesluit, maar met geslagsgeweld gebeur daar nooit niks nie, al word daar beloftes gemaak dat die gereg sy gang sal gaan. Iets moet gebeur,” sê die aktrise. 

Quinne Brown Huffman

Quinne, wat bekend is as Connie in die sepie 7de Laan, vertel dat vrouwees ’n skeppende rol is, wat beteken vir vroue is enigiets moontlik. 

“’n Gemeenskap wat hul vroue en vrouwees eer en bewaar, is ’n sterk een. Die natuur van ’n vrou is om om te gee, waar te neem en gemeenskap te skep en seker te maak niemand ly honger nie,” sê die beeldskone krulkop-aktrise. 

“Vroue is siklusse gegee vir 'n rede en deel van my sending is om die bewuswording daarvan te normaliseer en te vier.”

Quinne meen van nou af gaan vroue hul storie verander. “Ons gaan kies, ons ware self uitleef en ons stories deel, vorentoe gaan ons dogters weet wat hul waarde is en waartoe hulle in staat is en so gaan ons gemeenskappe genees,” sê Quinne, wat self twee dogters het.

Van ons by Huisgenoot wens ons alle vroue ’n gelukkige Vrouedag toe!