Hulle lyk verskillend, klink verskillend en is ook in baie opsigte verskillend, maar toe dié twee boesemvriendinne in die vertrek instap, voel jy sommer die kameraadskap in die lug.

Die een is lank en enigmaties met lang, golwende hare, ’n skamerige persoonlikheid en ’n sagte stem.

Die ander een is klein en energiek met ’n parmantige, kort haarstyl en ’n aansteeklike lag wat haar flambojante persoonlikheid weerspieël.

Ondanks hul bedrywige loopbaan in die wispelturige vermaakbedryf is die aktrises Quinne Brown Huffman en Kim Cloete al byna 20 jaar lank beste vriendinne.

En die dekade wat hulle op verskillende vastelande gewoon en gewerk het, het hulle eerder nader aan mekaar gebring as wat dit hulle van mekaar laat wegdryf het.

Waar ons die twee op ’n koue Vrydagmiddag in ’n restaurant in Linden, Johannesburg, ontmoet, glimlag hulle van oor tot oor.

Daar hang ’n opgewondenheid in die lug, want dis die vooraand van Quinne, wat die gewilde karakter Connie in die SABC2-sepie 7de Laan vertolk, se 39ste verjaardag.

“Kan jy dit glo! Volgende jaar is ek 40,” sê sy en sak elegant op ’n outydse wynrooi stoel neer en bestel vir haar en Kim rooiwyn.

Kim, wat ook later vanjaar 39 word, het in ’n Instagram-inskrywing kort ná ons ontmoeting vertel hoe lekker dit was om eindelik ’n onderhoud saam met haar “beste vriendin in die hele, wye wêreld” te doen en hoe opgewonde sy is om haar “bestie” se verjaardag te vier.

As aktrises in ’n bedryf wat nooit stilstaan nie, is hulle heeltyd aan die hardloop, maar tog sorg hulle hulle sien mekaar “meer as een keer per week”, sê Quinne.

“Of dit nou op ’n bankie iewers met whisky, wyn, koffie of tee is, dis altyd spesiaal,” laat Kim hoor. “En ons praat elke tweede dag met mekaar oor die foon,” vertel Quinne.

Daar’s niks wat hulle nie van mekaar weet nie; niks wat hulle nog nie met mekaar gedeel het nie. Deur dik en dun, sy aan sy, trotseer hulle die lewe saam.

Hulle het mekaar in 2001 ontmoet toe Kim, wat as aktrise, TV-aanbieder en radiopersoonlikheid bekend is, se gewese verloofde, die akteur Randall de Jager, hulle aan mekaar voorstel.

Hy het destyds die rol van Aubrey in 7de Laan vertolk en het Quinne op die stel van die sepie ontmoet. “Toe ek en Quinne mekaar die eerste keer sien, was dit asof ons mekaar nog altyd geken het,” vertel Kim.

'As sy nie lekker voel nie, wéét ek dit, en andersom'

Quinne beaam dit: “Ja, dit is nie ’n vriendskap nie; dis ’n sielsvennootskap.” Randall is in daardie selfde jaar tragies oorlede nadat hy tydens ’n gewapende rooftog geskiet is.

Omdat hul vriendskap begin het toe Kim deur ’n moeilike tyd is ná Randall se dood, was daar van die begin ’n diepe konneksie tussen die vriendinne, vertel hulle.

Quinne as die geliefde Connie in 7de Laan. Foto: Facebook/7de Laan

“It was born out of deep substance,” slaan Kim oor na Engels. “Met swaar tye is ons daar vir mekaar. Dit is die teenwoordigheid, ruimte en onvoorwaardelike liefde waarmee ons mekaar ondersteun,” sê Quinne. “Ons is sielsfamilie.”

“Ek is selfs Charlotte se peetma,” vertel Kim trots oor Quinne en haar man, Ryan Huffman (43), se sewejarige dogtertjie.

“Ja-nee, Kim is beslis een van Charlotte se gunstelingtannies. Hulle is baie eenders en deel selfs stokperdjies soos om mooi klippies te versamel,” vertel Quinne.

Sy en Ryan het nog ’n dogtertjie, Lara (4). Quinne het in 2003 besluit om sabbatsverlof van 7de Laan te neem nadat haar pa, Gerhard Brown, vroeër daardie jaar oorlede is.

Sy het in Londen, Indië en Amerika rondgereis om vrede te vind ná die verlies. In Amerika het sy vir Ryan, ’n entrepreneur wat onder meer bier brou, ontmoet en hulle is in 2006 getroud.

“Toe Quinne sê sy wil oorsee gaan bly, was ek nie ’n happy camper nie,” sê Kim.

Maar hulle het ’n belofte aan mekaar gemaak: Hulle sal een keer per jaar vir mekaar gaan kuier. “As ek nie Amerika toe is nie, het Quinne vir my in Suid-Afrika kom kuier en dan het ons altyd vet pret gehad,” sê Kim.

Hulle het dié belofte 10 jaar lank getrou nagekom tot Quinne in 2016 saam met Ryan en hul dogtertjies sak en pak na Suid-Afrika teruggekeer het. Sy het weer by 7de Laan as Connie aangesluit.

In dié tyd het Kim ook ’n rol in ’n sepie begin vertolk, dié van die gewilde karakter Bronwyn in Binnelanders.

Saam-saam het die twee tot onlangs die sepiewêreld trotseer. Bedags was hulle Connie en Bronwyn; saans Quinne en Kim. Hulle het nog nooit met mekaar meegeding nie en gun mekaar net sukses in die vermaakbedryf.

Van afguns is daar nie sprake nie. “Ons het so ’n groot waardering en liefde vir mekaar en ons is absoluut ’n spieëlbeeld van mekaar,” sê Quinne. Wanneer hulle wel voel iets krap tussen hulle, praat hulle dit uit. “As iets nie lekker is nie, fix ons dit baie vinnig,” sê Kim.

Quinne voeg by: “Dit kom neer op vertroue. Ons praat hard met mekaar en gaan dan aan.” Haakplekke was daar eintlik maar min.

Kim is veral bekend vir haar karakter Bronwyn Abrahams in Binnelanders. By haar is Clint Brink (dr. Steve Abrahams). Foto: Facebook/Binnelanders

Tog deel Quinne een staaltjie: Toe sy destyds besluit om oorsee te gaan, was sy ontsteld toe Kim vir haar sê sy gaan haar trouman tydens die sabbatsreis ontmoet.

“Sy was sommer baie kwaad vir my,” vertel Kim. Maar toe kom Ryan in Quinne se lewe en vandag lag die vriendinne oor dié relletjie.

Selfs toe hulle “wêrelde van mekaar” gewoon het, was hulle in voeling met mekaar. “As sy nie lekker voel nie, wéét ek dit, en andersom,” sê Quinne.

En al verskil hulle “op alle vlakke”, verstaan hulle mekaar se gedagtes nog voor hulle ’n woord hoef te sê. “Kim is soveel meer georganiseerd en grounded as ek,” lag Quinne en maak Kim stil nog voor sy kan stry.

“Moenie eens probeer nie; jy ís so.” Kim erken sy benader die lewe realistieser as Quinne, wat ’n vrye gees is: “Dit lyk dalk asof ek nie ’n plan het nie, maar ek het altyd een.”

Quinne beaam dit: “Ek moes kinders kry om verstandiger te raak.” Quinne is ook skaam en sensitief, sê Kim; dus voel sy soms sy moet haar beskerm. “Omdat sy so ’n free spirit is en baie empatie met mense het, maak dit haar sensitief,” sê sy.

Quinne glimlag net waarderend oor haar vriendin se begrip. Dan glimlag hulle vol bewondering vir mekaar.

“Jy het ’n dapper gees,” komplimenteer Quinne haar vriendin. Kim sluit aan: “Jy ook. Dit het baie courage gevat om oorsee te gaan woon en ek is trots op jou.”

Die vriendinne sê hulle is ’n spieëlbeeld van mekaar, en van mededinging is daar geen sprake nie. Foto: Martin De Kock

Quinne het op 4 April 2000 in die heel eerste episode van 7de Laan verskyn en was byna vyf jaar lank deel van die sepie voor sy Amerika toe is.

Sy het in Oktober 2016 teruggekeer en “geniet dit baie” om weer in die geliefde Connie van der Lecq se skoene te wees.

Sy het intussen ook ’n podsending oor onder meer ouerskap saam met manlief Ryan begin en is ’n gekwalifiseerde doula, iemand wat vroue voor, tydens en ná die geboorte van ’n baba bystaan.

“Vrouwees en ma-wees lê my na aan die hart en ek wil graag meer motiveringspraatjies daaroor doen,” vertel sy oor haar toekomsdrome.

Kim gaan al twee jaar uit met die akteur Murray Todd (44), ook ’n suksesvolle stemkunstenaar. Sy het Binnelanders op 24 Mei ná ongeveer twee en ’n half jaar gegroet om nuwe uitdagings aan te pak.

Kim is van 10 Julie af in die nuwe kykNET-dramareeks Fynskrif te sien. Sy vertolk die rol van Anne Matthews, ’n prokureur wat altyd haar kliënte se beste belange op die hart dra, tot Edwin van der Walt se karakter, Wian, haar lewe kom deurmekaarkrap.

Sy is ook agter die skerms bedrywig as vervaardiger en vennoot by die produksiehuis Afrokaans Film & Television.

Yvonne Chaka Chaka en Handrie Basson is die ander vennote van dié produksiehuis, wat onder meer die huidige seisoen van Survivor SA vervaardig het.

Twee vriendinne, verskillend in hul menswees en in die soort karakters wat hulle speel, maar eenders in hul vriendskap.

“As iets vir jou spesiaal is, sal jy daarvoor veg,” sê Quinne. En voor die twee ná die onderhoud verder saamkuier, sluit Kim af: “Ja, sy voel soos een van my ledemate.”