VOORBEELDIGE SAARTJIE

Hunter Plaatjies speel die rol van Saartjie Petersen in die kykNET & kie-telenovelle Arendsvlei. Dit is haar eerste televisierol, vertel dié 23-jarige boorling van die Kaapse woonbuurt Kuilsrivier.

Saartjie is die hoofdogter van die Hoërskool Arendvslei.

Hunter Plaatjies speel die rol van Saartjie Peters
Hunter Plaatjies speel die rol van Saartjie Petersen in die kykNET & kie-telenovelle Arendsvlei. Foto: kykNET

“Sy doen alles volgens die reëls, is baie selfversekerd, gee om vir die planeet en ook lekker nuuskierig,” vertel Hunter.

Sy geniet dit omtrent om weer ’n skooldogter in dié reeks te speel.

“En ek geniet dat Saartjie nie heeltemal soos ek is nie, anders sou dit vervelig gewees het.”

Maar soms kan sy nie anders as om haarself en die karakter te vergelyk nie.

“Soms dink jy: ‘nee maar ek sal nooit so iets sê nie.’ Dan moet ek onthou, maar dis nie Hunter nie, dis Saartjie.”

Saartjie hou van wetenskap en skoolwerk doen.

“Terwyl ek eerder buite wil speel. Saartjie is ook baie gehoorsaam, en soms toets Hunter maar die grense.”

Hunter was wel nie ’n hoofdogter in haar skooldae nie, maar was wel ’n prefek. 

BESIGHEID EN DRAMASTUDIES

Alhoewel Hunter nou in die fiktiewe Hoërskool Arendsvlei is, was sy eintlik ’n oud-leerder aan De Kuilen Hoërskool in Kuilsrivier. En dit was “flippen lekker,” laat hoor sy.

“Ek het skool baie geniet. Ja, soms was die toetse en projekte nie lekker nie, maar ek het dit oor die algemeen geniet.”

Sy het in 2014 matrikuleer en daarna haar Honneurs BA-graad in drama- en teaterstudie aan Stellenbosch Universiteit in 2018 voltooi.

“Ek was van plan om besigheidstudies te doen, maar my ma, Hillary, het my eintlik oortuig om drama te swot, want dis wat ek altyd wou doen.”

Sy onthou vandat sy sewe jaar oud was, dat dit haar “droom” was om ’n aktrise eendag te word.

Hunter is haar ouers, Hillary en Samuel, se enigst
Hunter is haar ouers, Hillary en Samuel, se enigste dogter. Foto: Verskaf

“My jongste herinnering van toneelspel is in die kerk se Sondagskool toneelstukke.”

Noudat sy haar eerste smakie van televisie gekry het, wil sy nog meer TV-rolle doen.

“Ek wil in meer TV-rolle wees, terugkeer na teater en ’n NGO (nie-regeringsorganisasie) begin.

“Ek is in die proses om ’n liefdadigheidstrust te stig waar ek tennis afrigting aan minder bevoorregte kinders wil gee om sodoende ook vir hul te bemagtig en hul visie te verbreed.”

Hunter is haar ouers, Hillary en Samuel, se enigste dogter.

Haar ouer broer, Sage, is ’n rekenmeester.

Tydens die inperking weens Covid-19, was sy “so verveeld”.

“Ek doen alles wat daar moontlik is. Maar ek skryf ‘n bietjie, binge Netflix, kyk baie flieks, oefen en dink maar oor alles.”

REISIGER

Hunter is omtrent ’n reisiger! Haar gunsteling-plek oorsee wat sy al besoek het, was New York in Amerika wat sy in 2015 besoek het.

“Dit was vir my so mooi om soveel verskillende mense en kulture op een plek te sien. Daar was ook ‘n gevoel in my om iets groter te wil bereik.”

Terug op eie bodem, het sy nie eintlik “’n gunsteling plek in Suid-Afrika nie”.

“Maar ek hou van langs die see wees met my familie.”   

BESTIES

In Arendsvlei is sy groot pelle met Daniel, wat gespeel word deur die jong, bekroonde akteur, Cantona James (22).

Hunter en Cantona James, wat die rol van Daniel in
Hunter en Cantona James, wat die rol van Daniel in Arendsvlei vertolk, is baie goeie vriende. Foto: Verskaf

“Ons verhouding in regte lewe is baie nice. Ek het altyd van hom geweet want ons was albei by Stellenbosch-universiteit, maar omdat Saartjie en Daniel nou besties is, het ek hom beter leer ken en hy is ‘n baie talentvolle mens.”

SPORTIEF

Hunter se lewe is soos een groot sportkanaal. Sy het op skool netbal, aksie-netbal, tennis en skaak gespeel.

“Ek speel nog aksie-netbal met my vriende vir die lekkerte, en tennis vir ‘n klub.”

Sy het vir drie jaar tennis vir Maties gespeel.

“En ek was selfs twee jaar deel van hul tennis-komitee.”

Sy het op skool netbal, aksie-netbal, tennis en sk
Sy het op skool netbal, aksie-netbal, tennis en skaak gespeel. Foto: Verskaf

Sy was nie net gaande oor sport op die baan nie, sy het ook haar eie sportprogram, Halftime with Hunter, op Maties se radiostasie, MFM, aangebied.

Die aktrise het selfs bekende Springbok-rugbyspelers soos Herschel Jantjies, op haar program gehad.

Sy was nie net gaande oor sport op die baan nie, s
Sy was nie net gaande oor sport op die baan nie, sy het ook haar eie sportprogram, Halftime with Hunter, op Maties se radiostasie, MFM, aangebied. Foto: Verskaf

“Ek het van Maandag tot Vrydag vir twee ure elke dag oor enige sport nuus gepraat. Sport is lekker vir my want ek geniet dit om buite in die natuur te wees. Dis ook baie pret en ek geniet dit om my vaardighede te toets. Dis die lekkerste vir my om met my vriende sportaktiwiteite te doen.”

Sy en haar vriende gaan ry soms branderplank.

“Soos daar afgelei kan word, geniet ons dit om buite en aktief te wees.”

En danksy haar karakter, Saartjie, is sy nou meer bewus van die natuur.

“En ek wil beter besluite maak om die natuur te red want dis eintlik ‘n baie ernstige saak. Dit is baie belangrik want ons lewe in die natuur, ons eet van die natuur, en ons wil hê ons kinders en kleinkinders moet die wêreld eendag kan sien. Maar as ons aanhou om onverantwoordelik te wees, sal ons die gevolge daarvan ervaar.”

MEER OOR  HUNTER  

  • Netflix of YouTube? Albei! - Ek hou van flieks maar ek hou ook van tutoriale en random video’s kyk.
  • Facebook of Instagram? Instagram - Dis meer ‘onmiddellik’ vir my.
  • TikTok of Snapchat? TikTok 
  • Groot partytjie of braai met paar pelle? Braai met paar pelle. Die geselskap van die wie ek ken en my ken stel nie teleur nie.
  • Wat maak jou gelukkig? Sjokoladekoek
  • Foonoproep of WhatsApp? Foonoproep 
  • Winter of somer? Somer 
  • Berge of oseaan? Oseaan
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitter en Facebook en teken gerus in op ons nuusbriewe.