Dit was haar groot aand. Al die groot name in Holly­wood was daar om te sien hoe Sally Field haar eerste Emmy wen, maar die aktrise het in haar afwesigheid geskitter.

En nou, meer as 40 jaar later, het sy eindelik die rede daarvoor onthul: Burt Reynolds, toe haar lewensmaat, het ’n rolprent geskiet en daarop aangedring sy moet aan sy sy wees.

'Ek was so vasgevang in die taal van my kinderjare,” sê Sally van die jare saam met Burt Reynolds. Foto: Gallo Images/Getty Images.

Asof dit nie selfsugtig genoeg was nie, het hy hom nie eens verwerdig om saam met haar wakker te bly om na die prysaand op televisie te kyk nie.

“Ek het op die ou end alleen gesit met die klank afgedraai om nie die man te steur wat dalk nie eens geweet of omgegee het hoeveel dit vir my beteken nie,” vertel Sally van die aand toe sy vir haar asemrowende spel as ’n vrou met veelvuldigepersoonlikheidsteuring in die ­minireeks Sybil vereer is.

In haar memoires, In Pieces, skryf sy dié patroon van onderdanige gedrag het in haar kinderjare begin toe haar stiefpa haar gemolesteer het.

“Ek was so vasgevang in die taal van my kinderjare,” sê sy van die jare saam met Burt, wat onlangs oorlede is.

“Ek het ’n charismatiese, kleurryke man in my lewe gehad wat op sommige maniere my kinderjare gedupliseer het, sonder dat dit sy fout was, maar bloot omdat dit ’n patroon was waarin ek verval het.”

Maar al wek sy die indruk van buig­same dierbaarheid, is ’n skerfie staal in Sally te bespeur.

Sy kon mev. Reynolds geword en haar loopbaan opsygeskuif het. Hy het haar talle kere gevra om met hom te trou en haar vroeër vanjaar die “liefde van sy lewe” genoem.

Maar teen 1979, toe hy haar met die woorde “Jy verwag tog nie om iets te wen nie, of hoe?” probeer afraai om na die Cannes-rolprentfees in Frankryk te gaan, het sy genoeg gehad.

Sally in 1979 by die Cannes-­rolprentfees in Frankryk, waar sy die prys vir beste aktrise gewen het vir haar rol in Norma Rae. Links is die regisseur van die fliek, Martin Ritt, en regs haar medester Beau Bridges. Burt Reynolds, met wie sy toe uit­gegaan het, het aan haar gesê: 'Jy verwag tog nie om iets te wen nie, of hoe?' Foto: Gallo Images/Getty Images

Sy is Cannes toe, is as die beste aktrise vir die rolprent Norma Rae bekroon (waarin sy die titelrol van werkersklas-­heldin gespeel het) en het die volgende jaar ’n Oscar daarvoor gewen. Teen daardie tyd het sy Burt reeds gelos.

’n Mens kan Sally Field (71) maklik onderskat.

Ek het gedink ’n onderhoud met haar sou maklik wees. Wie sou nie ’n middag in die geselskap van die vrou wou deurbring wat al sulke onvergeetlike rolle vertolk het soos die niksvermoedende Miranda teenoor Robin Williams se Mrs. Doubtfire, Forrest Gump se ?onbaatsugtige ma, die lydsame familiematriarg in die televisiereeks Brothers & Sisters en ’n pragtig ge­nuanseerde Mary Todd Lincoln teenoor Daniel Day-Lewis se Abraham Lincoln nie?

Vier van Sally se onvergeetlike rolle


Mrs. Doubtfire (1993)


Forest Gump (1994)


Brothers & Sisters (2006-2011)


Abraham Lincoln (2012)

Natuurlik is dit ’n fout om die karakters wat ’n akteur vertolk met die mens self te verwar. Maar sy het eenkeer self gesê: “Elke rol wat ek ooit gespeel het, is eintlik net oor my.”

Kort voor die onderhoud kom ek op ’n podsending af van ’n toespraak wat sy voor die American Academy of Achievement-stigting gelewer het. Daarin vra sy almal in die gehoor om hul gesig tussen hul hande te hou om hul eie “uniekheid en besondersheid en jy-heid” te verstaan.

En wie kan die toespraak in 1985 vergeet toe sy haar tweede Oscar vir beste aktrise gewen het vir haar rol in Places in the Heart as ’n weduwee wat in die Depressietyd sukkel om die familieplaas te behou?

Met ’n bonsende ge­kartelde kapsel en ’n trillende stem het sy ekstaties uitgeroep: “Ek kan nie die feit ontken dat julle van my hou nie. Op hierdie oomblik hou julle regtig van my!”

Destyds het sy stapelgek gelyk en geklink, maar agterna het sy saam daarmee gespot en ’n parodie van die toespraak in Legally Blonde 2: Red, White & Blonde gelewer en ook in ’n advertensie vir die finansiële raadgewers Charles Schwab.

Maar die suikerlagie is misleidend.

Met my aankoms by haar huis in Pacific Palisades, ’n glinsterende buurt aan die kus van Los Angeles, bedank sy my hartlik dat ek gekom het. Sy sorg dat ek iets te drinke het en gemaklik op haar roomkleurige rusbank in haar pragtige leef­vertrek sit met sy houtbalke en ’n uitsig op die Santa Monica-berge.

Op byna 72 lyk Sally blakend gesond, rosig en pragtig met daardie kenmerkende appelwange. Sy dra ’n streephemp oor ’n wit T-hemp by verslete jeans en bruin Birkenstocksandale en hou ’n water­bottel met ’n pienk drankie daarin vas. Dis water met elektroliete, sê sy.

“Dit gee ’n bietjie geur daaraan. Water is so vervelig. Ek kan dit nie meer verduur nie.” Haar lag klingel deur die vertrek.

Maar toe ons oor haar boek begin praat, is sy op haar hoede. Omdat ek my dit skaars kan indink dat sy enigiets behalwe gaaf kan wees, besef ek eers ná ’n ruk ek word om elke draai gedwarsboom. Sy praat met graagte oor die skryf en publikasieproses van die boek, maar nie oor die inhoud nie.

“Dis in die boek,” word haar mantra elke keer wanneer ek in die rigting van iets persoonliks neig.

Die boek, wat sonder ’n spookskrywer geskryf is, is reguit, sprankelend en indrukwekkend. Sally beskryf dit as “ ’n poging om my verhouding met my ma te verstaan”. Al was Margaret Field in 2011 reeds 89 jaar oud en ’n kankerlyer, het haar dogter ge­sukkel om haar dood te verwerk.

“Ek het gedink ek het al die dinge gedoen wat ek veronderstel was om te doen,” sê Sally.

“Ek het die gesprekke gevoer wat on­gelooflik moeilik en louterend en wonderlik was. Tog, toe sy weg is, het ’n dringendheid gekom. ’n Vretende groeisel het ontstaan. Waarom kon ek nie rus en vrede vind toe sy weg is nie?”

In die boek is sy krities teenoor haar ma, maar op die ou end liefdevol. Hoe dink sy sou haar ma daaroor gevoel het?

“Ek weet nie,” sê Sally. Het sy haar voorgestel wie haar lesers sou wees? “Nee, ek het dit net vir myself geskryf. Ek het nie geweet of ek ooit die moed sou hê om dit te publiseer nie.”

Dit verklaar haar houding.

Dit is een ding om sulke intens persoonlike dinge te skryf, maar iets heel anders om dit te verwoord.

Buiten die molestering beskryf sy ’n traumatiese aborsie in haar tienerjare en talle liefdesverhoudings. Haar teenstrydige gevoelens daaroor om dit aan die groot klok te hang maak nou van haar ’n vreemde mengsel van prikkelbaarheid en openhartigheid.

Die een oomblik is sy bitsig en kil, dan weer sjarmant en hartlik.


In Sally se kleuterjare het haar ma, ’n aktrise, haar pa, ’n weermagoffisier, gelos en ’n verhouding met die charismatiese Jock Mahoney aangeknoop. Hy was ’n Hollywoodwaaghals en akteur wat in twee Tarzan-rolprente gespeel het.

Al beskryf Sally haarself as ’n “ver­skriklik angstige kind”, sê sy hul lewe was eers vol pret. Die nuut saamgestelde gesin – sy het ’n ouer broer en jonger halfsuster – het na groter en beter huise getrek namate Jock in sy loopbaan ge­vorder het.

Sy was dol oor haar stiefpa, maar iets was nie heeltemal pluis nie. Hy wou altyd hê sy moet op en neer op sy lyf loop. Dit het haar ’n gevoel gegee wat sy as “vingernaels op die swartbord” beskryf. Haar ma het soggens by haar slaapkamer ­ingeloer op pad ondertoe om te gaan ontbyt maak.

“ ‘Sal?’ sou sy sê, ‘Jock wil hê jy moet op sy rug loop.’ Dit het nooit soos ’n versoek geklink nie, meer soos ’n opdrag en ’n eer.”

Sally het gedoen soos sy gevra is.

Sally (links) was dol oor haar stiefpa, maar iets was nie heeltemal pluis nie. Regs is haar ouer broer, Rick. Foto: Gallo Images/Getty Images.

“Ek het op sy rug geloop tot hy omgerol en my aangesê het om aan te hou. Een voet voor die ander het ek op my tone teen sy bors opgestap met my nagrok wat los hang terwyl sy hande oor my bene gly en dan boontoe beweeg. Ek sou my voete omdraai, na sy maag toe loop om buite bereik te wees, en hy sou aanwysings fluister: ‘Laer, laer.’

“My treë het ál kleiner geword terwyl hy mompel: ‘Laer.’ Ek het op die geliefde nie-pa van my geloop, en versigtig probeer vermy waarheen hy my voete gerig het, en . . . ’n deel van my was nie meer in die kamer nie.”

Toe die sessies intenser word, het sy ál moeiliker op skool gekonsentreer.

“Ek het in ’n newel geleef en dit het net op­geklaar wanneer ek op die verhoog was of ’n gedig in die Engelsklas moes memoriseer. Ek sou dit aangryp en ’n oomblik lewend wees.”

Het iemand agtergekom iets is fout?

“Nee. Dit was 1960 en niemand het enig­iets hiervan geweet nie.”

Eendag het Jock haar in die badkamer ingelok. Hy het haar op die toonbank laat sit en haar sover probeer kry om hom oopmond te soen.

“Ek doen dit nie,” skryf sy.

“Hy sit sy penis, net so gespierd soos die res van hom, tussen my bene en trek my kleinheid na hom . . . en daarheen. Hy het my lief genoeg gehad om my nie binne te dring nie. Hy het my nooit binnegedring nie.”

Dit was nie een oomblik van besope onbesonnenheid nie, ma. Dit was my kinderlewe. My hele kinderlewe.

Dekades later, kort voor haar ma se dood, het Sally vir Margaret, wat toe lank­al van Jock geskei is, eindelik gevra hoeveel sy daarvan geweet het. Haar ma het gesê hy het eenkeer gebieg oor ’n voorval met Sally toe hy dronk was.

“Sonder om weg te kyk of te huiwer het ek reguit vir haar gesê wat gesê moes word: ‘Dit was nie een oomblik van besope onbesonnenheid nie, ma. Dit was my kinderlewe. My hele kinderlewe.’ ”

Eers het haar ma haar nie geglo nie. Toe het sy gevra hoekom Sally haar nooit in haar vertroue geneem het nie.

“Ek was ’n kind, ma. Ek het nie geweet dit was anders as enige ander kind se lewe nie. Ek was bang.”

“Ek het jou in die steek gelaat en ek is verskriklik jammer,” het haar ma later gesê. Hulle dit nooit weer opgehaal nie.

Op die oog af het dit gelyk of Sally die lewe lei waaroor die meeste kinders droom.

Jock het haar by ’n dramaklas op die perseel van Columbia Studios in­geskryf. Dit het tot die rol van Gidget in die gelyknamige televisiesitkom gelei. In haar rol as ’n branderryende, seuns­behepte tiener het sy Amerika se guns­telingmeisie van langsaan geword.

Op grond van haar sterk spel is ’n nuwe reeks, The Flying Nun, vir haar geskep.

Sally, wat as aktrise ernstig opgeneem wou word, het die idee gehaat. Maar Jock het haar gewaarsku as sy dit van die hand sou wys, sou sy dalk nooit weer werk kry nie.

Teësinnig het sy toe die rol aanvaar. Die reeks het drie seisoene beleef en haar in ’n nasionale grap verander. Teen dié tyd was sy al met haar hoër­skoolliefde, Steven Craig, getroud en die ma van ’n seun, Peter.

Toe sy eindelik met The Flying Nun klaar was, was Sally vasbeslote om haar reputasie te verander. Sy het met dramaklasse by die bekende afrigter Lee Strasberg begin.

Hy het gou haar potensiaal raakgesien en haar in 1976 die titelrol in Sybil help losslaan. Daarin het sy ’n vrou met 16 verskillende persoonlikhede skitterend uitgebeeld. Haar spel het haar as een van die beste aktrises van haar geslag, of enige geslag, gevestig.

Sy en Steven het teen dié tyd ’n tweede seun, Eli, gehad, maar die huwelik het verbrokkel.

Burt Reynolds, destyds Holly­wood se grootste hartebreker, het haar gebel en gevra of sy teenoor hom in die rolprent Smokey and the Bandit sou speel. Dit was die begin van ’n jare lange verhouding.

Het Burt van haar boek geweet?

“Nee. Dit was regtig net my storie en hy is ’n deel daarvan. As ek anders kon gewees het, sou die verhouding dalk anders kon gewees het.”

Sy sê sy het die boek vir Steven, aan wie sy steeds geheg is, gewys.

“Ons het almal altyd saam met vakansie gegaan, saam met sy nuwe gesin. Ek was senuagtig, want hy is ’n privaat mens en tog sê ek intieme goed oor hom. Dit dring sy lewe, sy privaatheid, binne. Maar hy was net wonderlik ondersteunend.”

In die middel 1980’s het sy weer getrou, dié keer met die vervaardiger Alan Greisman, die pa van haar derde seun, Sam (nou 30). Hulle is in 1994 geskei en sedertdien was sy meestal enkellopend.

Sy het eenkeer opgemerk haar hart is nooit in haar lewe gebreek nie. Deesdae sien sy min mense buite haar familiekring.

“Ek is eintlik ’n kluisenaar.”

Haar bekendheid, sê sy, maak die lewe moeilik.

“Jy moet harder werk om toe­gelaat te word om net ’n mens te wees. Dis soos om mank te loop of ’n ekstra ledemaat te hê.”

Ek vra of die manier waarop sy in haar kinderjare behandel is steeds haar verhoudings oorskadu.

“Natuurlik. Raak dit jou nie? Hoe jy in jou kinderjare behandel is, rig dit jou nie as ’n volwassene nie? En probeer jy nie gedurig daardie patroon in jou lewe verander nie?”

Ek besef sy aanvaar almal het in hul kinderjare skade gely.

Al neem sy nie aktief aan die #MeToo-beweging deel nie, loof sy dit.

“Ek het baie waardering vir hul woede.”

Dan vertel sy van ’n ervaring met ’n regisseur wat haar ’n finale oudisie by sy huis laat aflê het. Hy het haar na sy slaapkamer genooi, waar hy vir haar gesê het hy moet haar borste vir ’n naaktoneel in die rolprent sien. Toe sê hy vir haar sy het die werk.

“Maar eers nadat ek gesien het hoe jy soen.”

Wat my betref, was dit hoe mans optree, want dit is al wat ek ooit gesien het.

Sy het tot die soen ingestem. Later, tydens die verfilming, het hy by die deur van haar hotelkamer verskyn. Sy het hom binnegelaat om met haar seks te hê, al het sy vrou saam met hom in die hotelsuite bo hare gebly.

Sy wil dit nie verder bespreek nie.

“Wat my betref, was dit hoe mans optree, want dit is al wat ek ooit gesien het.”

Sally is nou in die nuwe Netflixreeks Maniac saam met Emma Stone en Jonah Hill te sien. Dit is ’n donker komedie.

Sien sy uit na iets spesifieks, dalk ’n besonderse rol?

“Ek sien nie na enigiets uit nie,” snou sy my toe, en versag dan. “Wel, ek sien daarna uit om volgende jaar Londen toe te gaan om in All My Sons in die Old Vic te speel. Ek was nog nooit in enige Arthur Miller nie en dis ’n wonderlike toneelstuk.”

En daarmee kondig sy kortaf aan ons tyd het verstryk. Maar sy laat ’n laaste vraag toe. Ek vra haar oor die titel van haar memoires, In Pieces. Voel sy deur die skryf van die boek kon sy die stukke weer saamvoeg?

“Dis die titel van die boek, want dis die titel van die boek,” sê sy en sug ergerlik.

Sy verander weer in die skattige Sally toe sy groet.

“Baie dankie dat jy gekom het,” sê sy. “Ek is bly jy woon hier naby.”

Nee, moet ek dadelik byvoeg, sy bedoel nie ’n lewenslange vriendskap is aan die ontluik tussen ons nie, net dat ek nie ver sal hoef te ry nie.

© Helena de Bertodano / The Times Magazine / News Licensing; FOTO'S: GALLO IMAGES/GETTY IMAGES, GALLO IMAGES/AFP