"Ek is nie vanoggend gimnasium toe nie, en het ná ’n halfuur by ’n sake-afspraak net uitgeloop," vertel Tobi aan Huisgenoot.

Die voorval het Maandagaand net ná 19:00 in Fairland, ’n woonbuurt in die noorde van Johannesburg, plaasgevind toe hy na vriende op pad was vir ’n ete-afspraak. ’n Wit Mercedes het by ’n verkeersirkel voor hom ingetrek en sy pad versper.

Tobi vertel hy het gesien hoe die passasier uitklim en met ’n handwapen op hom afstorm. 

"Toe besef ek hier gebeur dit nou," vertel hy.

"My eerste gedagte was om sommer net oor te gee, maar toe ek uitklim het ek instinktief die kannetjie pepersproei in die deur gevat. Toe skop die boerseun in my in, en ek besluit hy sal nié my kar vat nie."

Tobi het die skurk in die gesig gespuit en hom daarna sonder ophou begin slaan tot hy val. Hy het in sy kar gespring en weggejaag, maar in sy truspieël gesien hoe die vermeende kaper se vriend in die Mercedes hom te hulp snel en ophelp. 


"Dis ’n gedeelte van my waarvan ek nie geweet het nie," vertel die sanger. "Ek het in my hele lewe nog nooit aan iemand geslaan nie."

Tobi het sy hand erg gesny toe die kaper sy houe met sy vuurwapen probeer afweer. Hy het Dinsdag ’n dokter besoek.

So het Tobi Jooste die nuus op sy Facebookblad gedeel.