Die So Lank Sal Ek Jou Liefhê-sanger en pa van vier jong seuns het ’n foto van homself “in ’n onderbroek” aan ’n ander vrou gestuur.

“So, ek het die jaar ’n fout gemaak en ’n foto van myself in ’n onderbroek vir ’n ander vrou gestuur,” bieg Jay in ’n laatnag Facebook-inskrywing aan sy meer as 143 000-volgelinge.

“Ek is erg spyt daaroor, ek sê dit sodat niemand daaroor hoef te skinder nie. Dis waar. Ek voel soos ’n hond en ek hoop ek kan dit regmaak met die res van die tyd wat God my spaar,” skryf hy verder.

Jay skryf ook in een van die kommentare sy vrou, Mia, weet daarvan en “is baie hartseer” daaroor. 

Jay het aan Huisgenoot bevestig alles wat hy op Facebook geskryf het, is waar. “Daar is nie veel om te sê, behalwe wat ek reeds gesê het nie. Ek was swak en het ’n dom fout gemaak. Nou kan ek net probeer om dit reg te maak,” skryf hy in ’n WhatsApp-boodskap.

Sy aanhangers was taamlik verdeeld oor sy onthulling. Sommige aanhangers het onsmaaklike kommentare gelewer soos “kan jy die vout (sic) weer maak” en allerhande grappe gemaak en memes gedeel.

Ander het vir sy vrou opgestaan, sommige aanhangers kon dit nie glo nie óf staan bankvas agter hom.

Ene Louise de Wet praat op die man af: “Mense gaan my seker nie hou van wat ek nou sê nie,  maar die vraag is . . . mag jou vrou ook daai fout begaan? Dis als goed en wel met die eerlikheid – 10 uit 10 – maar die probleem is gewoonlik dat mens vergewe, maar nie vergeet nie. Erkenning regverdig nie altyd die optrede nie. (Ek) voel ’n bietjie teleurgesteld. Miskien is jou vrou 'n beter mens as ek en vergewe jou en sit dit agter julle. Baie sterkte.”

Jay het deur die loop van die aand sy volgelinge beantwoord en het deurlopend erken hy was skuldig en het ’n fout gemaak en dat dit “swakheid” van sy kant af was. “Nou moet ek dit net face en hopelik kry ek ’n kans om dit beter te maak,” skryf hy.

Ander het weer gedink dit is onmoontlik dat hul held so iets kon doen en het nie eers vir ’n oomblik gedink dat hy self die boodskap geskryf het nie. Heelwat aanhangers se eerste reaksie was dat ’n kuberkraker sy Facebook-rekening oorgeneem het.

“Ek sweer die account is ge-hack! Hoekom die wêreld daarvan vertel, seriously...” skryf Ronel Fourie.

Maar Jay het voet by stuk gehou:  “(My profiel is) nie gehack nie. En (ek is) doodnugter. Dink net dis reg om dit te ontbloot sodat ek die beste moontlike kans het om dit reg te maak.”

Elisna Kelly draai ook nie doekies om nie: “Hi Jay! Jy’t regtig ’n beeldskone vrou en jul het kindertjies wat jul nodig het. Ek glo jy toer baie en dus is jou vrou baie alleen en maak die kids alleen groot. Sy offer dus baie op. Sy deel jou ook met die land. Ek verstaan nie wat mens dink as jy sulke goed doen nie. Vraag is, is jy jammer of jammer sy moes bewus word daarvan?


"Jy’t soveel talent van God af gekry. Moenie jou lewe opmors nie. Ek kan net dink hoe vernederend hierdie vir jou vrou moet wees dat jy dit moes openbaar maak ter wille van jou loopbaan. Dink aan jou kinders volgende keer. Wat nog erger is, is hoe sommige vrouens op hierdie post skaamteloos erken hul wens dat hul die foto ontvang het! Onthou, die publiek gee nie om, om jou lewe te verwoes vir hul 30 sekondes saam ’n bekende nie."

In reaksie hierop skryf Jay: “Ek besef die vernedering dat sy dit moes aanhoor, maar ek sien geen ander manier vorentoe as ek nie daaroor kan eerlik wees en ’n moontlike oplossing vind nie. My swakheid, my fout, my harde werk wat voorlê om weer my beste te kan wees.”