Dié Afrikaanse sanger vertel hy is “baie opgewonde” oor sy troudag met Ziechfried Paul (26), ’n wiskundeonderwyser van Centurion. Maar so tussen die troubeplanning deur het die sanger die afgelope week ’n nuwe enkelsnit, Voel My Pols, saam met die sanger Johan C. Venter (32) uitgereik.  

Die liedjie is ter nagedagtenis aan die slagoffers van die Pulse-skietvoorval waartydens 49 mense in 2016 in ’n gay-klub in Orlando, Florida in Amerika, deur ’n terroris, Omar Mateen, doodgeskiet is.

“Die liedjie gaan daaroor dat al is ons almal verskillend en sukkel ons soms om mekaar te aanvaar met al ons verskille (onder meer seksualiteit, geslag en velkleur), sal ons wel besef almal se hart klop vir dieselfde basiese goed soos aanvaarding, liefde, iemand om lief te hê en eenheid met ons  gemeenskap,” sê Joe (36).

Hy onthou hoe hartseer hy was toe hy destyds van dié skietvoorval gehoor het. “Dit was vir my verskriklik. Ek onthou nog hoe die trane gerol het toe ek CNN gekyk het.”

View this post on Instagram

A post shared by Joe Foster (@joefosterofficial) on

Hoewel die liedjie onlangs uitgereik is, is dit al drie jaar gelede, byna ’n maand of twee ná die skietvoorval, deur Joe en Johan opgeneem.

“Ek en Johan het albei besluit ons gaan eers wag tot ons gemaklik is met ons eie seksualiteit voor ons dit uitreik, want ek wou nie nog langer voorgee nie. Ek is al 20 jaar uit die kas by my ouers en vriende en kon nie meer cope met voorgee nie. Dit het my siek gemaak. Want as 'n mens voorgee, dan gaan jy begin glo daar is iets fout en donker aan ’n mens en dit maak jou fisiek siek,” sê Joe.

Hy is baie opgewonde oor sy troue later vanjaar. “Ons het besluit op ’n datum einde November, maar omdat ons nog nie al die mense genooi het nie, kan ons nog nie die datum bekend maak nie,” vertel hy aan Huisgenoot.

Hulle het Foresters in Pretoria as hul trouplek gekies. “Ons is mal oor die plek. Toe ons daar aankom, het ek sommer ’n paar tekens gekry dat dit die plek moet wees: van die naam reg deur tot die woud en mooi veld en pekanneutplantasie.”

Joe sê hy het intussen vrede gemaak met sy alopecia areata wat in Februarie 2017 by hom gediagnoseer is. Dit ontwikkel wanneer die immuunstelsel foutiewelik jou eie haarwortels aanval en dit daartoe lei dat jou hare uitval.

Hy is deesdae heel gemaklik met sy kaalkop. “Dit is net hare en ek begin my kaalkop liefhê. Ek het geleer al wil ons iets nie aanvaar nie, kan ’n mens enigiets gewoond raak, al vat dit lank om daarby uit te kom,” sê Joe.

Hoewel hy meeste van die tyd steeds sy hoed dra, sien sy aanhangers hom meer gereeld met sy kaalkop. Dit is “baie bevrydend” om kaalkop te wees, sê hy. “Dit verg wel instandhouding. Ek moet letterlik elke dag skeer as ek totaal kaalkop wil wees, anders wys my kolle en patrone. My hare het nog altyd vinnig gegroei, so die gedeeltes wat nie alopecia wys nie, groei uiters vinnig en dig en is gesonde hare. So ek loop so een of twee dae per week sonder ’n hoed as ek die 30 minute wil neem om my kop en baard af te skeer,” sê Joe. 

Hy het al kortisoonbehandeling daarvoor ontvang. “Al my hare het teruggegroei, maar toe dit weer gebeur, was die hoeveelheid hare wat ek verloor het oor my kop en baard te veel vir kortisoonbehandeling.”

Joe gebruik nou ’n paar keer per week ’n topikale kortisoon wat hy op sy kop en baard aanwend. “Dis nie die aangenaamste ding nie, maar ek fokus nou op alternatiewe behandeling wat onder meer joga, meditasie, theta-genesing, gebed, reiki en akupunktuur insluit. “Dis volksvreemd vir meeste, maar as jy iets het wat mediese behandeling nie kan herstel nie, is 'n mens nogal geneig om dieper te grawe vir antwoorde.” Hy sê hy beproef “verskeie soorte alternatiewe behandeling en genesing”.

“In dié stadium doen ek niks meer medies daaraan nie. Dis ongelooflik sleg vir my gesondheid. Al die kortisoon en inspuitings is baie seer en ongemaklik. Ek genees nou op ’n emosionele en geestelike manier, want ek glo dis waar die toestand in die eerste plek ontstaan het. Ek doen dit ook deur leefstyl- en dieetverandering,” sê Joe.

Dis ’n lang proses van genesing, sê hy. Oor sy stryd teen angs en depressie, sê die sanger hy voel nou “amazing”. “Ek het meditasie en alternatiewe hulp ontdek wat my op bewuste vlak van angs en depressie bevry het. Angs is beslis ’n groot probleem by my. My gesondheid is 'n bewys daarvan in dié stadium. Maar stres sal daar altyd wees in ons lewe - hoe ons dit hanteer, is die eintlike doel.

“Ek is nou ’n baie gelukkige mens ten spyte van alles wat met my gebeur het. Ek is so dankbaar vir elke moeilike dag wat my nader bring aan wie ek werklik is en vir wat ek in staat is om te doen,” sê Joe.