Hy is geopereer nadat hy op 17 Januarie in die hospitaal geval het. Hy het hoë koors en is sterk verdoof, beskryf sy skakelbeampte van die afgelope 35 jaar, Lydia Winchester, die huidige situasie. “Sy toestand is ernstig maar stabiel.”

Lance sukkel al ’n geruime tyd met hartprobleme en is middel Januarie vir mediese toetse opgeneem. Hy is ook vir chroniese moegheid behandel.

Sy bestuurder van die afgelope 25 jaar, Mara van der Bergh, vertel sy het hom die dag tevore in die hospitaal besoek. Hy het ná die kuier met die hulp van 'n kierie saam na die hysbak gestap.

“Hy het goed gelyk en met die mooiste glimlag gegroet. Daardie nag het hy opgestaan om toilet toe te gaan, maar toe val hy en breek sy regterheup.”

'n Dringende heupvervangingsoperasie is uitgevoer, maar toe doen hy die infeksie op en hy is in die waakeenheid opgeneem.

Min Shaw, sy sangmaat van die laat 1960’s, vertel sy het begin huil toe sy die nuus hoor. “Toe maak ek my oë toe en begin vir hom bid.”

Dit was vir haar opmerklik toe sy verlede jaar gesien het hoe stadig hy loop, onthou sy. Toe sy hom daaroor uitvra, het hy geantwoord: “Ek loop stadig sodat ek my voete kan sien – om nie te val nie.”

Dit is vir Min jammer dat besoekers nie nou by hom toegelaat word nie. “Ek sal so graag net vir hom 'n drukkie wou gee en sê ek is lief vir hom.”

As sy nou langs sy hospitaalbed sou kon staan, sou sy die Halleluja-lied “Die Here is my Herder” vir hom sing, deel sy haar emosie.

Lance James en sy sangmaat, Min Shaw, het hul eers
Lance James en sy sangmaat, Min Shaw, het hul eerste langspeelplaat, Bymekaar, in 1968 uitgereik.

Lydia Winchester het Lance ook in die hospitaal besoek. “Hy was in 'n positiewe bui en ons het sommer oor alles en nog wat gesels. Ek onthou hoe hy nog vir my gesê het: “Lyds, I am dying for a dop."

“Natuurlik was ek, nes al sy vriende en kollegas, geskok toe ons van sy heupoperasie en die infeksie hoor. My eerste gedagte was ‘hoe de hel het dit gebeur?’ Daarna het ek gedink die Here het 'n doel met alles.”

Haar hoop is “dat hy uit daardie bed gaan klim om weer te perform”.

En as sy nou langs sy hospitaalbed sou staan? “Dan sal ek vir hom sê: Lance, you’re the legend. Stand f***ng up!

Die musikant, klankingenieur en oudmusiekopsteller by die destydse SAUK, Tinus Esterhuizen, is sedert 1971 vriende met Lance toe hulle saam by Springbokradio gewerk het.


“Ek sal nooit LJ se deernis en uiterse lojale vriendskap vergeet nie,” sê Tinus wat Lance nog gereeld op die klawerbord begelei. “Skielik is daar 'n donker wolk wat oor ons hang.”

Sy boodskap aan die sanger is: “Hang in there, old LJ”.

Lance James is een van die meer as 100 vermaaklikheidsmense wat in die pas geopende SA Legendes Museum in Pretoria gehuldig word. Die stigter van dié museum, Shaun Mynhardt, het met Lance gepraat kort nadat hy vir die mediese toetse opgeneem is. Lance het hom belowe hy sal die bekendstelling van die museum, op 25 Januarie, bywoon. “Al daag ek daar in 'n rolstoel op.”

Nou wil Shaun graag sê: “Oom Lance, ons is hier vir jou. Daar is nog baie konserte in jou oor.”

“As jy 25 jaar saam met iemand op die pad is, gebeur daar baie snaakse dinge waaroor 'n mens lank daarna nog lag,” vertel Mara. Sy deel die staaltjie toe hulle so 10 jaar gelede saam met 'n groep countrysangers in KwaZulu-Natal op toer was en Lance 'n openbare toilet besoek het. Toe hy terug by hul voertuig is, kon almal sien hy is erg verleë, onthou Mara.

“Nadat hy sy hande gewas het, het hy dit onder een van daardie masjientjies gehou om sy hande droog te blaas. Toe daar geen wind uitkom nie, het hy die masjientjie so 'n paar klappe gegee. Toe wou iemand anders wat ook in die badkamer was, by hom weet wat hy doen. Lance het geantwoord dat dié ding stukkend is en nie wil blaas nie. Toe het Lance gehoor dit is nie 'n blaser nie, maar 'n kondoommasjien.”

Mara is vol moed vir Lance se spoedige herstel. “Hy is 'n fighter. Hy gee nooit moed op nie.”    

Big Daddy, soos hy bekend staan, is ook in Mei verlede jaar met dubbellongontsteking in die waakeenheid van die Sandton-kliniek opgeneem.

Lance het in sy loopbaan wat oor langer as 'n halfeeu strek meer as 70 albums uitgereik. In 2009 is hy met 'n Huisgenoot Skouspel-prys vereer vir sy lewenslange bydrae tot Suid-Afrikaanse musiek.