Anton Myburgh
Die sanger Anton Myburgh ondergaan Maandag ’n spinale operasie wat vir hom verligting sal bring nadat hy weke lank pyn ervaar het. Foto: Verskaf

Dalk sou dit onder ander omstandighede vir hom vreesaanjaend wees om te dink dat hy ’n ingrypende operasie moet ondergaan – veral in so ’n onseker tyd waar die pandemie steeds woed.

Maar vir die sanger en liedjieskrywer Anton Myburgh is daar g’n vrese oor dié operasie nie. Trouens, hy sien daarna uit – die operasie gaan die einde beteken vir die “onuithoudbare pyn” wat hy oor die laaste twee weke ervaar het.

Anton (56) moet ’n dringende operasie ondergaan omdat ’n pynlike drukking op sy spinale senuwees en -koord daartoe lei dat hy die gebruik van sy bene verloor. Hy sou vroeër vandeesmaand al die operasie ondergaan het, maar die prosedure moes uitgestel word nadat hy op 11 Februarie positief vir covid-19 getoets het.

Die sanger het egter Sondag (28 Februarie) die goeie nuus ontvang: die uitslag van sy jongste covid-19-toets is negatief en sy operasie kan Maandag voortgaan.

Anton Myburgh
Die sanger en liedjieskrywer Anton Myburgh en sy verloofde, Elize Visagie. Foto: Verskaf

“Dit was ’n groot verligting om te hoor die uitslag is negatief,” vertel Anton Maandag aan Huisgenoot. “Jy besef die operasie sal weer uitgestel moet word indien die uitslag weer ’n keer positief terugkom. Die blote gedagte daaraan het vrees gewek – die pyn is werklik op ’n onuithoudbare vlak.” 

Anton, van Vanderbijlpark in Gauteng, sê nie hy of sy verloofde, Elize Visagie, het enige covid-19 simptome ervaar nie. Die paartjie het nogtans hulself afgesonder.

“Ons vermoed daar is ’n moontlikheid dat my covid-toets ’n vals positief gewys het, maar ons het in elk geval afgesonder om seker te maak dat ons niemand anders in gevaar stel as ons wél siek is nie. Maar ons het nooit enige simptome ervaar nie en het ook nie siekerig gevoel nie,” vertel hy.

Die sanger word om 11:00 in die Cormed-hospitaal in Vanderbijlpark geopereer. Dokters is vol hoop dat die spinale operasie vir hom verligting sal bring, vertel hy.

“Dis ’n erger pyn as wat ek gedink het moontlik is om te verduur.”

“Dis amper moeilik om te beskryf hoeveel pyn ek oor die laaste weke ervaar het,” vertel Anton eerlik.

“Ek het verskriklik gesukkel om te loop weens die drukking op die spinale senuwees en -koord. Ek ervaar geweldig baie pyn die oomblik wanneer ek staan. Ek loop ook krom en elke treetjie veroorsaak skietpyne. Dis ’n erger pyn as wat ek gedink het moontlik is om te verduur.” 

Daarom het hy “geweldig gefrustreerd” geraak oor die laaste paar weke, vertel Anton. “Ek was die heeltyd afhanklik van ander mense omdat my mobiliteit van my gestroop is. Daarom sê ek dat ek nie die operasie vrees nie – ek wil net weer my ou self wees.” 

As die operasie Maandag ’n sukses is, sal Anton vyf dae lank in die hospitaal moet herstel. 

En dan? 

“Dan gaan ek nooit weer hierdie paar bene as vanselfsprekend aanvaar nie,” sê hy. “Ek gaan hol en spring en dankbaar wees – en sommer onmiddellik begin werk aan my volgende show.”

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op FacebookTwitterInstagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe