Sewe maande lank het hy geswyg uit vrees vir die reaksie wanneer dit openbaar sou word. Nie soseer oor wat die skindertonge oor hom sou sê nie, maar oor wat dit aan sy kinders sou doen.

Hy weet immers hoe dit voel om sonder ’n pa groot te word. En dis vir hom die belangrikste om sy bloedjong kinders, wat een en twee jaar oud is, te beskerm.

Maar weens die gerugte wat hom ál meer agtervolg het, wil die sanger Ivan Roux – die naaswenner van VIA en Coleske Artists se onlangse talentsoekreeks, Die Kontrak – nie langer stilbly nie.

Dus onthul hy vandag teenoor Huisgenoot: Hy en sy vrou, Marida (24), is al sedert Augustus verlede jaar van mekaar vervreem. Hulle staan op skei.

“Dit was die moeilikste ding wat ek nóg moes doen,” vertel Ivan (29) oor hul besluit om te skei.

Om dit privaat te hou was ook emo­sioneel moeilik.

Hy en sy vrou, Marida, is beter vriende as lewensm
Hy en sy vrou, Marida, is beter vriende as lewensmaats, sê Ivan Roux. Foto: Fanie Manhuntsi

“Om te weet ’n bom kan enige oomblik bars, het my doodbang gemaak. Vir my eie loopbaan, ja, maar ook vir die uitwerking daarvan op Marida en ons kinders.”

Eers het ’n steelfoto by ’n konsert saam met ’n onbekende vrou die mense laat gis; later ’n foto van hom en ’n vriendin wat koffie drink.

“Ek is verskriklik lief vir Marida, maar ons het nie as ’n egpaar gewerk nie. Ons was nog altyd eerder boesemvriende. Sy verdien ’n ware lewensmaat; haar sielsgenoot. En dis nie ek nie – al is ek hoe lief vir haar.”

Ook Marida sê: “Daar is foute begaan en ek het van toe af geweet dit sou beter vir ons wees om aparte paadjies te stap. Ons is uitmekaar – en dis beter so.”

Tien jaar lank het Ivan in leë kroeë en restaurante gesing voor hy eindelik, danksy Die Kontrak, plaaslik naam gemaak het.

Op sy moeilike pad na roem en sukses in die vermaakbedryf het Marida, sy lewensmaat van die afgelope byna vyf jaar, hom ondersteun. Dis een van die redes hoekom hul skeiding vir hom hartverskeurend is, sê Ivan in die woonstel in Garsfontein waar hy onlangs alleen ingetrek het.

“Jy wil die vrugte van jou harde werk pluk saam met diegene wat jou vir so lank bygestaan het. Ag, dis sommer goor dat my huwelik juis nou ver­brokkel.”

Ivan en Marida se liefdesverhaal het op Valentynsdag 2015 begin nadat hy haar die vorige jaar vlugtig in Pretoria ontmoet het op ’n geleentheid waar hy ­opgetree het. Toe hulle mekaar weer in Pretoria raakloop, het hy haar genooi om by sy ma, Drienie (48), se huis te kom rugby kyk.

“Sy het nog gesê sy is nie mal oor rugby of Afrikaanse musiek nie!

“Maar ons het toe tot ná middernag sit en liedjies skryf. Dit was wonderlik. Romanties.”

Binne ’n week het hy en Marida, ’n ­adviseur in die regsafdeling van ’n ver­sekeringsmaatskappy, begin vas ­uitgaan.

Ivan self het destyds die dae ­om­gewens in die kantoor van die versekeringsmaatskappy waar hy gewerk het. Saans het hy in kroeë of restaurante gesing.

In November 2015 het hulle saam ingetrek.

“Dit was moeilike tye. Ons het gesukkel om kop bo water te hou,” vertel Ivan.

“Ek het geleef vir my shows saans, maar elke keer was daar dalk net twee mense wat luister. Jy is agtergrondmusiek; niemand gee om nie.”

Hulle het by tye met hul ver­houding gesukkel, maar hulle het altyd weer probeer.

Einde 2015 was hy werkloos; hy wou als in sy ­musiek sit.

“Ek het hierdie groot droom gehad; ek het geweet dat ek suksesvol kan wees as ek net aanhou. Maar Marida moes swaar dra omdat ek nie ’n vaste inkomste ­gehad het nie.

“Ons het oor geld vasgesit, maar dit was my skuld. Ek het aaklig gevoel omdat ek nie kon voorsien nie.

“Ek het ­geweet hoe swaar my ma, ’n tronk­bewaarder, gekry het om drie kinders groot te maak.

“My pa het nooit ge-­feature nie. Hy wou ons nie ken nie.”

Ivan raak bewoë.

“En ek wou nooit dít vir my vrou en kinders wees nie. Hulle moes nooit suffer nie.”

In 2016 het hy ’n kort rukkie sy eie onderneming gehad, maar dit ná ses maande weer vir sy musiek gelos. Die druk op hul verhouding het toe­geneem.

“Ek het ná elke show baie gedrink en erg gekuier. Dit het Marida ontstel. Ek het haar ’n onreg aangedoen.

“Ag, die verhouding was vol ups and downs. Ek was baie van die huis af weg; dit het spanning veroorsaak. Ons het ’n paar keer die verhouding verbreek en weer probeer.

“En elke keer het ons by dieselfde punt uitgekom: Ons werk eintlik beter as vriende.”

Maar in September 2016 het Marida met hul eerste kind swanger geraak.

“Ons was so verlief op hierdie klein mensie wat God aan ons gegee het, ons wóú die verhouding laat werk.

“En ons het – al was dit soms weer ­onstuimig.”

In Julie 2017 het hulle getrou. En in ­Januarie 2018 is hul tweede kind gebore.

’n Gesinsman: Ivan wil nie hê die egskeiding moet
’n Gesinsman: Ivan wil nie hê die egskeiding moet sy kinders benadeel nie. Foto: Fanie Manhuntsi

“Ons was albei gefrustreerd. Net voor Die Kontrak se oudisies wou ek finaal skei. Marida wou nie; sy wou dit nog ’n kans gee.

“Ek het gevoel ons eindig elke keer met dieselfde gevolgtrekking. Ek is so ontsettend lief vir haar en die kinders, maar ek het geweet sy verdien ’n ander lewensmaat. Ek dink dis onregverdig teenoor die kinders om twee ongelukkige ouers te hê.”

Maar hulle het die huwelik nog een kans gegee.

“Ek dink wat my die meeste ontstel het, is toe aanhangers laat weet hulle het ons gesin in Die Kontrak gesien en ons lyk so verknog aan mekaar. Ons was, ja. Maar daar het ’n donker ding gebroei waarvan niemand geweet het nie.”

Verlede Augustus was hul huwelik weer voor ’n kruispad.

“Ons het besluit dis die laaste keer dat ons tot by daardie punt kom.

“Dit was die moeilikste ding om uit die huis te trek en haar en die kinders agter te laat.

“Ek wou nooit hê my kids moet eendag terugkyk en dink ek het tou opgegooi en weggehardloop nie. ’n Doodse vrees het oor my geheers.

'My belangrikste prioriteit is om ons kinders veil
'My belangrikste prioriteit is om ons kinders veilig te hou en vir hulle stabiliteit te gee,' sê Ivan. Foto: Fanie Manhuntsi

“Maar sewe maande later kan ons ­albei getuig: Ons is lief vir mekaar en lief vir ons kinders, maar ons is nie ­mekaar s’n nie – nie vir ewig nie. En dis oukei.”

Sy wou haar huwelik nog ’n kans gee omdat sy geglo het dis wat God van haar sou verwag, sê Marida by navraag.

“Ek wil die beste voorbeeld moontlik vir my kinders stel en hulle wys hoe liefde moet lyk.

“Ek glo en vertrou dat die Here vir my op die regte tyd so ’n man sal stuur – en so ’n vrou vir Ivan.

“My belangrikste prioriteit is om ons kinders veilig te hou en vir hulle stabiliteit te gee.”

Oor dáárdie foto’s sê Ivan: “ ’n Mens ­besef nie presies waarvoor jy vra in die 10 jaar wat jy hard werk om naam te maak nie. Dat aanhangers op jou lewe inkoop, dat jou musiek onlosmaaklik deel van jou persoonlike lewe is.

“Ek het dit al honderd keer in die laaste weke gesê: Ek is lief vir Marida.”

Deesdae is hulle nog gereeld in kontak met mekaar, sê Ivan.

“Ons kinders bly by haar. Ek sal hulle nooit in my wildste drome van hul ma weghou nie.

“Ons sit wat gebeur het nou finaal agter ons. Die hoofstuk is afgesluit. Nou is dit vir ons belangrik om ons kinders te leer ons is steeds ’n span.

“Wie weet, dalk kan ek en Marida ­eendag weer beste vriende wees, sonder ’n troebel verlede wat oor ons koppe hang.” 

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.