Vaughan en sy gesin het September 2019 na die Midde-Oosterse land verhuis. 

“Dit was 'n besluit wat ons nooit gedink het om te maak tot dit aan ons deur geklop het nie,” vertel Vaughan. Sy vrou, Nerine, ’n kopieskrywer, is deur ’n advertensie-agentskap in Dubai genader om daar te gaan werk. 

Vir die eerste maand moes die gesin in ’n hotel bly tot hulle ’n ander blyplek kon kry en al die papierwerk uitgesorteer is. 

“Dit klink luuks om vir 'n maand in 'n hotel te bly, maar glo my, om as 'n stay at home dad 'n driejarige dogtertjie en 'n 11 maande oue babadogtertjie besig te hou in een kamer, is nogal 'n uitdaging,” vertel Vaughan vanuit die verte. 

Vaughan, sy vrou, Nerine, en hul twee dogters, Ameline (3) en Noëlle (1), is nou al vyf maande in die vreemde, maar begin nou uiteindelik nesskop. 

“Ons het die meeste van ons meubels en 'n hele paar ander items ook verkoop. Ons het net klere en sentimentele goed saamgevat,” vertel Vaughan. Hy sê hul bokse het maar vier dae terug eers by hulle uitgekom. “So die uitpak daarvan is amper soos om vir die kinders nuwe speelgoed te gee. Ons is tans besig om ons huis ook te verkoop, so dit is maar als 'n redelike proses,” vertel hy. 

En ja, ’n nuwe lewe in die vreemde is ’n aanpassing.

“Dit is 'n hele ander land met sy eie manier van dinge doen en die geloof is ook heeltemal anders as waaraan ons gewoond is. Ons is Christene en die geloof hier is Islam. Maar almal word gerespekteer. Ons moes ook natuurlik verstaan hoe die regering werk en die administrasie verstaan. Maar noudat alles in plek is, loop dinge bietjie meer glad."

Volgens Vaughan is die land baie veilig, en moet hulle nog aan dié idee gewoond raak.

“’n Mens kan jou karsleutels in jou kar los by 'n winkelsentrum en niemand gaan jou kar steel nie. Dis iets om aan gewoond te raak. ’n Mens kan orals stap met jou kinders sonder om jouself te bekommer of hulle gesteel gaan word,” sê hy. 

Maar aan die ander kant is die hitte ook een van die dinge wat vir hulle ’n uitdaging bly. 

“In die somer word dit ongelooflik warm. Ons het aan die einde van die warm tyd hier aangekom en dit was reeds amper ondraagbaar. Die winter was lieflik, maar ons kan nou voel hoe dit ewe skielik weer begin optel soos dit somer toe neig."

Die gesin praat gereeld met hul vriende en familie in Suid-Afrika. 

“Ek dink ’n mens besef hoe baie jy jou vriende en familie nodig het as jy hulle omtrent glad nie meer kan sien nie,” sê Vaughan, wat nog heeltyds besig is om liedjies te skryf en te vervaardig saam met die sanger en voormalige lid van die musiekgroep Adam, Hugo Ludik.

Die twee se onderneming, Muse Studios, se ateljee is in Randburg geleë. 

“Ek kan nog steeds van hierdie kant af vervaardig en selfs opnames doen as ek moet. Die stemopnames word dan net in Suid-Afrika gedoen. Sodoende skryf ek ook nog steeds vir vele kunstenaars in die Afrikaanse musiekbedryf,” vertel Vaughan oor sy eie bedrywighede.

“Die internet maak die wêreld baie klein. Ek is ook tans besig om te werk aan 'n paar nuwe liedjies vir myself wat ek een van die dae sal opneem en uitreik,” sê hy. 

Hulle is nog nie seker hoe lank hulle in Dubai sal woon nie omdat dit van Nerine se werksomstandighede sal afhang. 

Tog hoop hulle om ten minste een keer ’n jaar in Suid-Afrika te kom kuier. 

“Indien ons meer kan, sal dit wonderlik wees,” sê hy.