Fase vier-kolonkanker is sowat ses maande gelede by Jan gediagnoseer, en dit het later versprei.

“As ’n mens die woord kanker hoor, word ’n mens yskoud, want jy dink alreeds dat dit ’n doodsvonnis is, maar dit is nie altyd die geval nie. Daar is mense wat in remissie gaan en selfs genees word, maar dit was ongelukkig nie vir my boeta beskore nie,” sê sy nou. 

Angel onthou haar broer, wat in Benoni gebly het, as saggeaard en liefdevol met ’n sprankelende persoonlikheid.   

“Jan het altyd ’n skouer geleen vir diep hartsgeheime en was pynlik netjies met ’n uitbundige lag. Jy kon van ’n myl af sien as hy kattekwaad aangevang het, maar hy het sy lewe ten volle geleef.”  

angel de lange,sangeres,kanker
Angel en Jan was baie geheg aanmekaar. Foto: Verskaf

Al was sy die jongste en hy die oudste was dié twee baie geheg aanmekaar. 

“Dis ironies hoe die oudste en jongste kind só goed oor die weg kom,” sê Angel. 

Sy en Jan het ook dieselfde liefde vir musiek gehad en daarom is sy dankbaar dat sy die voorreg gehad het om haar heel eerste duet, I Need More of You van die Bellamy Brothers, saam met hom op te neem. 

“Alles voel nog so onwerklik en ons gaan hom geweldig mis, maar ek weet hy is nou op ’n beter plek.”

“My hart gaan uit aan almal wat ook deur ’n moeilike tyd gaan met ’n geliefde wat met kanker worstel. Dit is moeilik en al wat ’n mens kan doen is om te bly glo, hoop en bid.” 

Die sangeres en haar familie vra dat hul privaatheid in die moeilike tyd gerespekteer word terwyl hulle van hul “Boeta” afskeid neem.