Op ses het Cordelia uitgevind sy is ’n aangenome kind. Haar geliefde aanneempa, Louis Nienaber, is in ’n tref-en-trap-voorval dood toe sy 14 en hy net 42 was.

Cordelia vertel aan Huisgenoot sy het onlangs na Mokopane verhuis en haar hare op haar afdag by ’n salon laat doen.

Die 32-jarige sangeres sê sy het in die haarsalon gesit en gehoor hoe twee vroue gesels. “Die een het gesê haar kinders het al alles probeer, maar sukkel om swanger te word.” 

Die vrou noem toe haar kinders dalk ’n kind wil aanneem. “Maar die vrou sê sy sal nie ’n ouma vir ’n ander kind wil wees nie,” vertel Cordelia.

Cordelia was ses toe haar aanneemouers haar sê sy is deur hulle aangeneem toe sy ses maande oud was. As tiener het sy gevoel sy wil weet waar sy vandaan kom. Ná ’n soektog van 7 jaar het sy haar biologiese ouers opgespoor, maar nadat sy elkeen ontmoet het, het sy nie kontak met hulle behou nie.

“Jy neem ’n probleem aan,” het die een vrou in die haarsalon gesê. “Toe raak sy kwyt dat die ouers soms dwelms gebruik,” sê Cordelia. Die een het ook gesê: “Neem eerder ’n viervoetige kind aan. Hulle gee minder probleme.”

“Ek hou nie van konflik nie, maar dit het my diep in die krop gesteek,” sê Cordelia.

Sy het opgestaan en na die twee vroue gegaan. “Ek weet nie waar ek die krag vandaan gekry het nie, ek wou huil en my hande het gebewe, maar ek het opgestaan,” sê Cordelia. Sy het haar aan die twee vroue voorgestel. Die een het haar herken, sê sy. 

Cordelia het die vroue gevra of hulle dink sy het ’n agterstand. “Hulle het 'nee' geantwoord en gesê, seker oor my musiekloopbaan, dat ek is waarvoor enige ouer kon vra,” sê Cordelia. “Ek het hulle gesê ek is aangeneem en is seergemaak deur wat hulle als gesê het.”

Hulle weet nie dat kinders geboelie word omdat hulle aangeneem is nie en hulle weet nie watter verwerping daardie kinders deurmaak nie, benadruk Cordelia. “Ek oordeel nie my biologiese ma nie. Maar ons as aanneemkinders voel minderwaardig omdat sulke mense lelike goed kwytraak.

“Dit het my baie ontstel,” sê die sangeres wie se tweede album, Wees Lief, onlangs uitgereik is.

“Moenie goed kwytraak as jy nie daardie pad gestap het nie. As jy nie kennis oor iets het nie, doen navorsing daaroor en jy sal sien dat aanneming nie ’n slegte ding is nie. Dit is vir ’n kind ’n kans op liefde en ’n gesin.

“Moenie aanneemkinders oordeel oor hul ouers se keuses nie. En as jy ’n aangenome kind is en jy verwerping ervaar, weet dat God jou aanvaar.”

Ons moet goedheid en liefde vir aanneemkinders wys, sê die sangeres wat op die Wes-Randse myndorp Fochville grootgeword het.

Cordelia sê sy het, sonder om haar hare te doen, by die haarsalon in “snot en trane” uitgeloop. “Ek is so dankbaar vir my aanneemouers. Ek sien myself as ’n saadjie wat deur die wind tot op hulle voorstoep gewaai is. Hulle het my geplant, water gegee en na my omgesien tot die blom wat ek vandag is,” sê Cordelia en voeg by dat sy “geseënd" is.

Sy gaan volgende jaar oor die land heen met haar Wees Lief-album toer. “En die naam van my album is my boodskap aan die mense daarbuite. 

Cordelia gaan ook in 2019 ma-en-dogter-glansaande oor die land heen hou om geld vir liefdadigheidsorganisasies in te samel. 

Die talentvolle sangeres wil ook hê mense moet onder meer bejaardes by tehuise na dié glansaande bring en hulle vir die aand “aanneem”.

“Reik uit en gee jou tyd vir jou medemens en wys hulle liefde,” sê Cordelia.